Leef in vrede met jou skoonouers

Leef in vrede met jou skoonouers

Grappies oor skoonma’s is volop, maar ’n lewe saam met jou man se ouers kan allesbehalwe ’n grap wees. Hier is raad vir skoonfamiliepyne.

Kritiek van jou skoonmense kan jou laat minderwaardig voel

Daar is baie maniere waarop die skoonmense die lewe vir jou moeilik kan maak. Soms slurp hulle jou op deur al die aktiwiteite wat julle saam moet doen, of beheer jou soos ’n marionet en saai chaos in julle gesinslewe.

Die subtiele maniere waarop hulle kritiseer, is egter hoe hulle jou eiewaarde kan afbreek, ...

Grappies oor skoonma’s is volop, maar ’n lewe saam met jou man se ouers kan allesbehalwe ’n grap wees. Hier is raad vir skoonfamiliepyne.

Kritiek van jou skoonmense kan jou laat minderwaardig voel

Daar is baie maniere waarop die skoonmense die lewe vir jou moeilik kan maak. Soms slurp hulle jou op deur al die aktiwiteite wat julle saam moet doen, of beheer jou soos ’n marionet en saai chaos in julle gesinslewe.

Die subtiele maniere waarop hulle kritiseer, is egter hoe hulle jou eiewaarde kan afbreek, gewoonlik sonder dat jy dit besef. Daarom is dit belangrik dat jy moet leer om die verskillende strategieë van die skoonfamilie te herken.

Sommige skoonmense se kritiek word weggesteek agter die verskoning dat hulle net wil help. Of hulle sal begin deur eers te sê hulle is lief vir jou, maar laat jou dan voel dat jy nie goed genoeg is nie.

Terwyl hulle voorgee om goeie raad uit te deel, is hulle in werklikheid besig om hulle meerdere kennis of vaardighede te wys en jou daardeur te laat voel dat jy nie aanvaarbaar is nie.

Soms sal sy ouers jou die sondebok maak vir alles wat verkeerd loop. Hulle hou jou lewe met valkoë dop om te sien hoe jy hulle seun behandel en hoe julle die kinders grootmaak. Alles wat verkeerd loop, word dan jou skuld, selfs as die kinders siek word!

As hulle aanhou om só te kritiseer, laat dit jou minderwaardig voel. As jou maat dan ook nie jou kant kan verstaan nie, begin jy wonder of daar nie fout is met jou nie. Uiteindelik onttrek jy jou in ’n stille woede wat ’n krisis in julle huwelik kan veroorsaak. Dikwels sien jou man eerder sy ouers se goeie bedoelings raak as die uitwerking wat hulle optrede op jou het.

Hanteer jou skoonfamilie saam as ’n span

Skoonouers sien soms nie kans om jou reguit te kritiseer nie. Dan gebruik hulle jou man om jou by te kom. Hulle vertel hom hoe lelik jy met hulle praat, hoe dikwels jy hulle vermy en hoe jy hulle regte as oupa en ouma vertrap.

Hy is nou die middelman en daar word van hom verwag om jou reg te sien. As hy dan daarop aandring dat jy hulle beter moet behandel, is dit ’n dubbele dosis verwerping: van hulle kant en van syne.

Ander kere sal die skoonouers jou kritiseer as jou man nie naby is nie, maar voor hom maak hulle of jy wonderlik is. Hulle soek, en skep, geleenthede wanneer hulle jou in sy afwesigheid kan laat verstaan hoe ’n swak ma jy is. Of hoe deurmekaar of vuil die huis is.

As jy dan met jou man daaroor praat, glo hy dit nie of sê jy is te emosioneel.

Jy sal moet besef dat die situasie nie so kan voortduur nie. Deur te onttrek en toe te gee, gee jy aan jou skoonouers groter beheer oor jou lewe. Dit trek jou verder af in ’n donker gat van selfverwyt, hopeloosheid en woede.

Gewoonlik verwag jy dat jou man die saak moet regstel. Dis tog sy ouers wat die probleem skep. Dit lei egter net tot groter spanning tussen julle. Probeer verstaan hoe magteloos hy hieroor voel en hoe hy dikwels ’n skeidsregter word in ’n spel waarvoor hy nooit die vaardighede aangeleer het nie.

Vra hom om te help soek na antwoorde. Moet nooit van hom verwag om tussen jou en sy ouers te kies nie, maar hy moet verstaan watter uitwerking die situasie op jou het.

Almal beleef nou en dan ’n tikkie kritiek van hulle skoonouers.

Leer om maar vrede te maak daarmee of met iemand te gesels wat jou perspektief sal gee. As dit egter aanhou en jou man nie verstaan hoe jy voel nie, moet julle ’n berader sien. So kan julle leer om die situasie as ’n span te hanteer.

Deel die artikel

Méér artikels

Paartjies wat trou, glo dat hulle nugter is oor wat voorlê. Tog is dit dikwels dieselfde mense wat later skei. ’n Strategiese plan is die ...

Haat jy dit as jou man alleen sy eie ding wil doen? Of pla sy besitlikheid jou? Dalk lê die oplossing in sy ouerhuis. Jou ...

Scroll to Top