Vermy konflik deur te praat

Vermy konflik deur te praat

Baklei julle gereeld oor onbenullighede? Hier is raad oor hoe om daardie haakplekke op te los en konflik te bestuur of betyds te voorkom.

Praat oor die verskille wat julle kan laat baklei

Verskille in ’n paartjie se waardes, prioriteite en doelwitte veroorsaak dikwels spanning in ’n huwelik. Dis wanneer julle vassit oor dinge, soos waarvoor die bonus gebruik moet word of wie vir Sussa dokter toe moet neem.

Julle kan dit bestuur deur openlik oor alles te praat en elke kwessie oopkop te bespreek. Só leer ...

Baklei julle gereeld oor onbenullighede? Hier is raad oor hoe om daardie haakplekke op te los en konflik te bestuur of betyds te voorkom.

Praat oor die verskille wat julle kan laat baklei

Verskille in ’n paartjie se waardes, prioriteite en doelwitte veroorsaak dikwels spanning in ’n huwelik. Dis wanneer julle vassit oor dinge, soos waarvoor die bonus gebruik moet word of wie vir Sussa dokter toe moet neem.

Julle kan dit bestuur deur openlik oor alles te praat en elke kwessie oopkop te bespreek. Só leer julle ook om mekaar beter te verstaan en ’n balans te vind tussen gee en neem.

Om effektief te gesels, moet jy en jou maat bereid wees om ’n oplossing te soek waarmee julle al twee tevrede sal wees. Dit kan nogal kopkrap kos, maar die volgende kan help.

’n Geslote houding of die begeerte om altyd jou eie belange eerste te stel sodat jy kan “wen”, sal hierdie hele proses laat misluk. Hou altyd in gedagte dat julle verhouding op lang termyn belangriker is as om net jóú sin te kry.

Albei partye se idees, houdings, waardes en doelwitte is belangrik. Die beste oplossing is dus een waaroor twee kan saamstem en waar al twee voel dat hulle wenners is. Ja, ’n mens mag na jou eie belange kyk, maar neem ook jou man s’n in aanmerking.

Party mense wil van nature ’n rusie wen; ander sal eerder stilbly as daar iets is wat pla. Nie een van hierdie optredes is noodwendig reg of verkeerd nie. Elke ingesteldheid het egter positiewe én negatiewe gevolge.

As jy weet wat die gevolge van jou natuurlike optrede is, is dit makliker om die negatiewe gevolge daarvan te bestuur.

Dit help nie om in ’n gesprek net te sê wat jy nié wil hê nie. Dan sal jou man steeds nie weet wat jy dink of wel wíl hê nie. Leer dus om duidelik te sê watter oplossing nodig is – selfs al sal hy nie daarvan hou nie.

Vermy spanning deur as ’n span saam te werk

Help jou man om te verstaan watter persoonlike behoeftes, verwagtings en standpunte vir jou belangrik is. Sê ook hoekom dit vir jou van belang is, sonder om daarmee te probeer om sy belange gering te skat.

Voordat julle ’n gesamentlike oplossing kan kry, moet julle eers mekaar se redes verstaan. Die probleem is baiekeer dat julle dalk ’n oplossing bereik, maar dat dit nie beide se belange insluit nie.

Probeer om, sonder om te beskuldig of aan te val, aan hom te verduidelik wat die gevolge van sy plan vir jou sal wees. So kan hy sy oplossing in ’n ander lig sien en daarom aan ander oplossings ook begin dink.

Laat hom toe om ook sy kant van die saak te stel en luister met aandag en probeer om sy standpunt te verstaan. Lees ook tussen die reëls watter emosies deurkom wat dalk ’n belangrike rol in sy besluit speel. Behou oogkontak, vra vrae, wys dat jy luister en sy kant wil hoor.

Doen jou bes om ’n oplossing te kry wat jou maat se belange ook in ag neem. So vergeet jy van jou eie selfsug en julle al twee se behoeftes word bevredig.

As julle oplossings soek terwyl julle na albei se belange kyk, word dit al hoe makliker om ’n ooreenkoms te bereik.

Elke keer wanneer julle so ooreenkom, sal julle emosioneel nader aan mekaar wees en besef dat julle saamstaan en die lewe saam hanteer. Julle is aan dieselfde kant! Nou word onderhandeling en kommunikasie ’n praktiese manier om julle verhouding te bou en te verdiep.

Onthou dat daar in interpersoonlike verhoudings nie altyd 100% effektiewe oplossings gevind kan word nie. Wat uiteindelik belangrik is, is dat julle mekaar se harte moet hoor. Albei moet ’n bietjie toegee om die beste moontlike kompromie te bereik.

Deel die artikel

Méér artikels

As julle getroud is, saam bly, saam kinders grootmaak, saam bestaan, is dit so maklik om by mekaar verby te leef. Dis een van die ...

Jy het geglo julle verhouding gaan vir ewig maanskyn en rose wees. Dit is ontnugterend om uit te vind die mites wat jy oor die ...

Scroll to Top