Mans ervaar toenemend dat daar teen hulle gediskrimineer word en dat hulle skynbaar niks reg doen in die oë van vroue nie.Jy kan hom help voel hy is mans genoeg.
Baie mans is emosioneel, geestelik en verstandelik moeg omdat hulle voel hulle kom nie die mas op as eggenoot, pa en broodwinner nie.
Hy moet die suksesleer klim om goed vir julle te sorg. Die werk vreet sy tyd op en daar is min kans vir speel met die kinders en ’n kersligete met jou.
Later leef hy ’n lewe van plig, stille frustrasie en betekenisloosheid.
Jy kan hom help om balans te kry deur te verstaan waardeur hy gaan en in hom te glo.
As jy op praktiese maniere jou liefde en waardering vir hom wys, kan hy weer volwaardig mens voel.
Help hom uitvind wat sy lewensdoelwit is.
Volgens skeepskapteins is dit belangrik om te weet waar jy jou bevind as jy na ’n sekere bestemming wil vaar. Eers dan kan jy weet hoe om verder te gaan. Hierdie raad is nie net van toepassing op skepe nie, maar ook op mense.
Dis soms moeilik om op koers te bly, want die winde van prestasie en ambisie kan hom wegvat van sy ware lewensdoel.
Daarom is dit belangrik om uit te vind wat die primêre passie en dryfveer in sy lewe is. Hy moet weet waarom hy doen wat hy doen.
Simon Sinek sê ’n mens moet altyd vanuit die “waarom-faktor” in jou lewe werk, dan kom “wat ek moet doen” en “hoe ek dit moet doen” vanself.
Kyk na Simon Sinek se video op YouTube oor die “Waarom-faktor” (Why factor) en gesels oor wat dit vir julle beteken.
Dit is manlik om emosies te wys.
Dit is moeilik om sy gevoelens te wys want “’n ware man huil nie”. Maar al daardie opgekropte emosies is glad nie gesond nie.
Jesus was ’n baie emosionele mens. Toe Hy uitvind dat Lasarus gesterf het en die huilende Maria sien, het Hy ook gehuil.
Op pad graf toe treur Hy oor sy oorlede vriend. Hy is hartseer as mense honger is, bly as verlore mense hulle pad terugvind, en kry ’n melaatse jammer en maak hom gesond.
Dit maak jou man beslis nie ’n swakkeling om emosioneel op te tree nie. Hy moet egter nie net sy emosies wýs nie, maar dit moet hom dryf na die regte optrede toe.
Moedig hom aan om sy pa-issues op te los.
Dalk het jou man nooit sy pa geken nie omdat dié dood is toe hy nog klein was. Miskien het hy wel ’n pa gehad, maar ’n afwesige een wat net altyd gewerk het. Of sy ouers is geskei.
Daar is min seuns wat met deernis van hulle pa’s praat. Min vaders was teenwoordig en was mentors wat ook liefdevolle ondersteuning gegee het.
Mans praat nie daaroor nie, want “cowboys don’t cry”. Maar dit werk nie. Dit sal hom aanhou teister tot hy vrede gemaak het met die verlede.
Vergifnis moet uit die hart kom. Dit beteken dat hy sy pa moet vryspreek. Dan sal die onsinnige of verkeerde dinge waarmee daardie leemte gevul word, ook verdwyn.
Vra vrae oor sy pa en die rol wat hy in sy lewe gespeel het. Moedig hom aan om te vergewe.
Manlikheid gaan meer oor karakter as oor sukses
Fokus op sy karakter, nie op sukses nie.
Mans is gedurig besig om die korporatiewe leer te klim. Hulle het elke dag krag nodig om die regte eienskappe uit te leef in ’n wêreld wat ingestel is op prestasie.
Jou karakter kan nie begrawe word nie. Wie jy is, gaan jou oorleef. Goeie karaktereienskappe soos integriteit, betroubaarheid, toegewydheid, geduld, regverdigheid, uitnemende waardes, deeglikheid en hardwerkendheid is wat mense gaan onthou.
Hierdie eienskappe is ook die boustene van ’n suksesvolle loopbaan. Wanneer jou maat aan sy karakter skaaf en werk, sal hy wel bereik wat hy graag wil bereik. Dis beter om op karakterontwikkeling te fokus as om ander te probeer beïndruk.
Luister aandagtig wanneer hy oor die werk en sy kollegas gesels. Probeer saam mense of situasies identifiseer waar sy karakter uitgebou kan word.
Verseker hom hy het nie misluk as iets skeefloop nie.
Struikel maak nie saak nie, solank jy elke keer jouself weer regop kan kry. Ongeag of dit met groot moeite of met die hulp van ’n welkome, helpende hand plaasvind.
Waar sou daardie entrepreneur wat jou man so bewonder, vandag gewees het as hy nie ná die soveelste teenkanting vasbeslote aangehou het nie?
Geen droom, hoe groot of klein ook al, kan ’n realiteit word sonder opoffering en deursettingsvermoë nie.
Dit is seker die moeilikste besluit vir ’n man om op te staan nadat hy op pad na sy droom gestruikel het. Dit is nog moeiliker wanneer dit ten aanskoue van sy kritici of kollegas plaasvind.
Daar is egter min gevoelens so vervullend as daardie ervaring van sukses nadat jy eenvoudig nie opgegee het nie.
Komplimenteer hom gereeld op dit wat hy by die huis doen. Maak seker hy hoor hoe jy hom voor familie en vriende ophemel.
Motiveer jou man om fiks en gesond te bly
Sy liggaam is die eerste en een van die belangrikste besighede wat hy ooit sal bestuur. Dit beïnvloed die sukses wat hy op ander terreine van sy lewe sal behaal.
As ’n mens goed voel, neem jy beter besluite. Beter besluite lei tot beter resultate en op die lang termyn lei dit tot ’n meer vervulde lewe.
Dit is nooit te laat om te begin nie, jy moet net genoeg rede hê.
Besluit hoekom jy gesond en fiks wil wees en koppel dit aan iets groters.
Help hom om klein treetjies te gee en vier die klein oorwinnings. Beter nog, begin saam met hom gesonder eet en gym toe te gaan. Binnekort het hy soveel momentum opgebou dat hy nie meer sonder die gesonde gewoontes kan klaarkom nie.
Doen dít saam met hom: Maak ’n afspraak by ’n biokinetikus en dieetkundige wat ’n persoonlike oefenprogram en eetplan vir julle uitwerk.
Stel vas of hy nie dalk aan depressie ly nie.
“Wat doen ek hier? Hoekom moet ek elke dag so suffer? Waarom moet ek nog ’n gelowige probeer wees as God missing in action is wanneer ek Hom die nodigste het?” Dis vrae waarmee die Adams soms worstel.
Stres by die werk, hare wat minder word en min energie kan olie op die vuur wees. Dit kan die baklei in hom tot powere vuishoutjies laat verflou.
Maar daar is ’n boodskap van hoop: Dis oukei om nie oukei te wees nie, want daar is altyd hulp.
Soms kan iemand se strugglejuis ander mense met dieselfde probleem help.
Wees op die uitkyk vir tekens van depressie by jou man: min energie, belangeloosheid, onttrekking van sosiale situasies, geniet niks, negatiwiteit, kritiek, bitterheid.
Maak ’n afspraak by ’n dokter, sielkundige of terapeut as jy vermoed hy is depressief. Gaan saam as hy dit verkies.