Geliefde Binnelanders-aktrise Lindie Stander het haar donkerste oomblikke — verslawing, depressie en verlies — dapper oorkom en deel haar inspirerende genesingsreis in haar memoir Agter my glimlag.

Is daar ’n spesifieke oomblik in jou loopbaan wat vir jou steeds groot vreugde bring wanneer jy daaraan terugdink?

Ek het ’n paar herinneringe aan toneelspel waar mense se reaksie baie vir my beteken het. Dit was bevestiging dat ek op die regte spoor is en die regte loopbaan kies.

My heel eerste herinnering is van toe ek so vier, vyf jaar oud was. My pa is pas oorlede, en my ma was ’n verpleegster wat baie nagskof moes werk om finansieel te oorleef. Sy het ons – my en my broer – altyd saamgeneem as sy nagskof gedoen het.

Ek onthou een aand – ek was baie klein – was een van my eerste kere wat ek werklik in ’n teater was. Wel, ‘n operasieteater. Die verpleegsters het my op die operasietafel laat staan, en toe het ek vir hulle resitasies begin opsê.

Dit was tot groot vermaak van al die ander verpleegsters, en hulle het altyd vir my ma gesê: “Ag, daardie kleintjie is so snaaks.”

Ek dink dit was die eerste keer wat mense vir my gelag het en gedink het ek is oulik – dat ek dalk iets reg doen. Dis toe ek vyf jaar oud was.

Jy het die unieke vermoë om selfs die donkerste onderwerpe met humor te hanteer. Is dit iets wat jy altyd kon doen?

Juis toe ek nog so klein was, het ek agtergekom dat as ek mense kan laat lag, is dit mos ’n teken dat hulle van my hou.

Ek was ’n vreeslike besige dogtertjie wat eintlik baie aandag nodig gehad het.

En toe ek agtergekom het dat ek snaaks kan wees en mense vir my lag, toe het ek besef dat humor eintlik ’n baie goeie wapen is.

Natuurlik het daar baie dinge in my kinderdae en in my verlede gebeur wat my op donker plekke gebring het. Maar om die humor raak te sien was altyd vir my belangrik omdat dit my daaraan herinner het dat dit mense saambring.

Net soos die klein dogtertjie wat op die operasietafel van Tygerberg-hospitaal gestaan en resitasies gelewer het, waar mense vir my gelag en hande geklap het, het dit uiteindelik oorgespoel na my loopbaan, waar dit mense kan saambring.

Humor bring mense saam, en ag, ek is mos maar baie lief vir saamhorigheid.

In jou boek deel jy die rou waarheid oor jou lewe. Wanneer het jy besef jy móét jou storie vertel, ongeag die koste of oordeel.

Mense het my lank gevra – my sielkundige, vriende in my binnekring, en gehore by motiveringspraatjies – hoekom skryf jy nie ’n boek nie?

Ek het nie gedink die tyd was reg nie, of my storie belangrik genoeg om werklik swart op wit op papier te sit nie.

Maar een Saterdagoggend, terwyl ek nog steeds met die idee gespeel het, het ek wakker geword met niks om te doen nie. Om 11:00 het ek om die hoek van die sitkamer na my lewensmaat gekyk en gesê: “Ek gaan ’n boek skryf.”

Ek is direk kamer toe, het op my bed gaan sit, my rekenaar oopgemaak, ’n Word-dokument begin en die storie begin skryf.

Ek het nooit geweet watter formaat dit sou aanneem nie, maar dit was letterlik ’n helder oomblik waar ek besluit het om my storie te vertel.

Ek dink dit was ook die regte tyd – ek is amper 50, so ’n mens vertel nie regtig jou lewensverhaal op 25 nie.

Watter deel van jou storie was die moeilikste om te konfronteer?

Die boek bevat verskeie ernstige temas. Hopelik universele temas waarby mense aanklank kan vind, want ’n mens skryf nie ’n boek om net jou eie ego te streel nie. Sommige dele was baie moeilik om te skryf.

Die hoofstuk oor die seksuele misbruik was vir my die moeilikste. Ek moes in besonderse detail dit weer herroep wat gebeur het en elke kleinigheid onthou.

Ek was op ’n vlug van Kaapstad na Johannesburg terwyl ek daardie hoofstuk geskryf het. Jou liggaam gaan in ’n skokreaksie in wanneer jy weer daardie plekke besoek, en ek onthou hoe verskriklik ek gebewe het terwyl ek geskryf het.

Daarby was die aand wat my pa gesterf het ook traumaties om te beskryf – hoe hy homself om die lewe gebring het toe ek ’n klein dogtertjie was, en wat ek gesien en gehoor het.

Met ’n boek soos myne moes ek in die diepste herinneringe terugdelf. Jy kan nie net sê “dit en dat het gebeur nie” – jy moet dit beskryf.

My uitgewer het my geleer van “showing versus telling”. Wys vir die leser wat jy sien en voel in die oomblik, eerder as om dit net te vertel.

Daar is ’n groot verskil tussen die twee, en ek moes op die harde manier leer dat jy regtig in die diepste dele van jou bestaan moet gaan delf om daardie gevoelens te herroep en die beelde te beskryf.

Dit was moeilik, maar goed om daaroor te praat.

Hoe het jou geloof gegroei vanaf 2012 toe jy weg is by Binnelanders en hoe bly jy vertrou op God se plan vir jou lewe?

Ek glo nog altyd daar is ’n groter hand wat ons s’n vat tydens die diepste, donkerste tye in ons lewens.

Toe ek by Binnelanders weg is en letterlik oornag in Elim Kliniek beland het, moes ek noodgedwonge op my knieë gaan. Ek moes erken dat dit tyd was om myself te vergewe, want ek is lankal andersins vergewe en moes dit aanvaar.

Dit was ’n oomblik waar ek besef het – ek het niks oor gehad nie. Die belangrikste was net om gesond te word en beter te raak. Maar toe ek uit rehab uitkom, het geen blink, nuwe toekoms of hoofstuk vir my gewag nie.

Ek moes skadebeheer doen, en die enigste manier hoe ek staande gebly het, was deur Psalm 46:10 wat sê: “Wees stil en weet Ek is God.” Dit was my vers waarmee ek van Elim af weggeloop het.

Ek span dit steeds in wanneer die geraas in my kop of rondom my te erg raak, dan roep ek Psalm 46:10 op en onthou wie in beheer is.

Ek hoef nie in beheer te wees nie, hoef nie alles te weet of perfek te wees nie. Ek moet net stil raak en weet wie in beheer is.

Dit was ’n tyd waar ek geestelik gegroei het, my lewe omgekeer het en besluit het: Dit is nie ’n geval van “ek móét lewe” nie, maar “ek kán lewe en dinge kán beter lyk”.

Ek sê altyd vir mense: Ek kan nie belowe alles gaan regkom nie, maar dit gaan oukei wees. Jy moet net weet wie in beheer is en lank genoeg stilbly.

Het jy al jou ouers vergewe en indien wel, wat het dit van jou geverg om dit reg te kry?

My ma was hard op my, my pa is oorlede toe ek vier of vyf jaar oud was, so ek het min herinneringe van hom.

My ma was streng omdat sy die beste vir ons wou hê en die beste gedoen het wat sy kon onder die omstandighede.

Sy moes twee jong kindertjies alleen grootmaak nadat haar man dood is en ons met niks gelaat het nie.

Deur my ma se eie wroeginge en stryd om oorlewing het baie van die vrese, woede of desperaatheid oorgespoel na hoe sy ons grootgemaak het.

Natuurlik het ek haar al vergewe. Mens vergewe, maar vergeet nie. Ek het gekies om te vergewe omdat ek besef het my ma is net ’n mens met haar eie foute en tekortkominge.

Ek hou vas aan die gedagte dat sy haar bes probeer het – sy het die beste gedoen met wat sy gehad het. Dit was die gereedskap in haar toolbox om ons groot te maak.

Ek hoop sy weet ek is lief vir haar, want dit is moeilik. Ons het nie kontak nie – ek is intussen onterf.

Ek sê dit nie om simpatie uit te lok nie, maar dit is wat dit is. Die boek het veroorsaak dat my ma heeltemal teen my gedraai het, wat seker te wagte was. Ek het gehoop dit sou ons nader bring sodat ons closure kon kry, maar dit het ongelukkig nie so uitgespeel nie.

Ja, ek het ’n ma iewers daarbuite wat my nie wil hê nie, maar ek het mense wat lief is vir my en moederfigure wat intussen ingetree het en na ou Lindie kyk.

Jy hou daarvan om jouself fisiek en geestelik uit te daag – van die Karoo Camino tot die 540 km alleenstaptog in Turkye?

Ek is mal oor ’n lekker behoorlike, lywige fisieke ervaring, want dit kan ’n mens koppel aan ’n geestelike ervaring.

Jy weet waardeur jou liggaam gaan en hoe jy jouself dwing om een tree voor die ander te gee is ’n besondere ervaring, veral op lang staptogte wat ’n maand lank duur.

Elke dag staan jy op en ly deur die kilometers, maar tussendeur is daar soveel belonings en vreugde om uit die ervaring te put.

Dit is ’n avontuur, en die oomblik wat jy daardie gedagteskuif maak en besef dit gaan nie net oor afstand nie. Ek het 540 kilometer in Turkye gestap, wat my gunstelingherinnering van onlangse staptogte is.

Die oomblik toe ek besef jy móét stil raak, al tel jy tree af tot by die volgende boom, jy móét aanhou en uithou – dis nie ’n resies nie. Toe ek dit besef, begin jy ophou met jouself baklei en ophou met die Here baklei.

Jy doen dit aan jouself, maar presies om aan jouself te bewys wat jy kan doen en vermag. Die beloning aan die einde van elke dag was: “Ek het dit gedoen, ek het vandag 30 kilometer gestap en gaan nou rus in my tent.”

Môreoggend staan ek op en doen dit weer – nie omdat ek móét nie, maar omdat ek kán. Dit was een van die waardevolste lesse wat ek op my avonture geleer het: “Ek mag dit doen, ek hoef nie dit te doen nie.”

Jy is hoof van drama by die Longacres Privaatskool in Langebaan … Hoe voed jou werk jou siel?

Ek het nooit beplan dat my lewe so sou uitdraai dat ek in die onderwys beland terwyl ek ook nog aktrise en skrywer is nie.

Maar dis die lekkerste deel. Dit is moeilik om te beskryf, want geen onderwyser sal sê hulle is 200% gelukkig nie – daar is baie uitdagings wat met onderwys gepaard gaan.

Vir my is dit ’n verwondering om te sien hoe ek met ’n graad 7-kind begin en hulle sien grootword, vorder en groei binne die raamwerk van my vak. Elkeen is vir my besonder, en die konneksie wat ek met hulle het, is die belangrikste.

Ek het kinders wat op 39% af begin het en wat ek reggekry het om te inspireer om harder te probeer, want hulle weet ek handhaaf ’n hoë standaard. Van hulle het nou nasionale redenaarskompetisies gewen.

Dit is nie ek nie – ek is net die fasiliteerder. My werk is om die kind se kreatiwiteit los te maak en dit aan hom of haar te openbaar. Om vir die kind te wys dat die enigste ding wat jou kan stop, is jy.

Dit sluit by die stappery aan: As jy stop kom jy nie by jou bestemming aan nie. My uitgangspunt is om ’n platform te skep waar kinders kreatief veilig genoeg voel om hulle eie stem te vind.

Ek is so trots op my studente omdat ek kan sien hulle probeer. Dit maak my trots op myself voel omdat ek ’n klein aandeel daaraan het om hulle te inspireer om harder te werk en hulle eie stem te skep.

Ek gaan nog ’n rukkie in die onderwys betrokke wees, want dit is die waardevolste deel van my bestaan.