CHARMÉ KRIEL, ’n plat-op-die-aarde ma, word onverwags met preëklampsie gediagnoseer toe sy 27 weke swanger is. Lisa word met ’n noodkeisersnee gebore, weeg slegs 850 gram en veg elke dag om haar lewe.
Die Dinsdag het alles weer gedraai. Dit het gebeur net toe ek Lisa wou optel. Eerstens was dit nogal ’n proses, want ek moes haar ontkoppel van die hittemonitor in die broeikas, vir haar ’n mussie opsit, ’n kombersie reghê en die broeikas op ’n ander stelsel oorskakel.
Net toe ons begin rustig raak, gaan Lisa se SATS-monitor af. Ek het my boeglam geskrik. Daardie alarm dring deur jou brein en skuur net langs jou hart verby, tot binne-in jou siel. Dis die monitor wat die hoeveelheid suurstof meet wat deur jou baba se lyfie beweeg.
“Hoekom moet dit so moeilik wees, Here?” het ek gebid. Ek was sommer kwaad vir God oor die simpel SATS-monitor.
Tussen Lisa se eerste en tweede verjaardag was daar baie goeie en baie slegte dae. Ek onthou een dag net voordat sy twee geword het. Dit was een van daardie dae wat alles net verkeerd geloop het.
My man was aan diens by sy werk. Dus was ek alleen saam met Lisa by die huis. Sy het sesuur wakker geword. “Barney kyk, Mamma!” Terwyl ek vinnig deur die stort spring – want Barney hou haar gewoonlik net vyf minute stil – besluit sy skielik Barney is vervelig en dit sal baie lekkerder wees om met haar hasiepajamas en Tony, die teddie, en Apie saam met my in die stort te klim.
Nadat ons vir Apie en Tony gewas het, maak ek vir haar pap, die soort wat ’n mens actually moet kook, en wat daarom vyf minute langer kos om te maak as die kitspap wat sy gewoonlik eet. Lisa hang die hele tyd ongeduldig aan my broek, en toe die pap uiteindelik reg is, gee sy dit een kyk en dop die hele bakkie op die bank uit.
Gelukkig is daar ’n mark in ons area en ek weet sy sal lekker daar speel en kan besig bly. Ek trek haar gou aan en ons klim in die kar. Ek moet net eers gou winkel toe gaan om geld te trek.
“Gou” word toe effens stadiger omdat Lisa met haar hoë vlak van intelligensie haar ma se ongeduld raaksien en ekstra stadig sélf wil stap. Sy groet elke oom en tannie in die winkel en sê “tata, Mamma” as ek haar hand wil vat.
Met die geld getrek, ry ons uiteindelik mark toe. Ek dink aan my oggend en ek kry myself vreeslik jammer. By die mark loop ek ’n vriendin raak wat saam met ’n ander vrou daar is.
Sy het haar baba wat op 28 weke gebore is ná twee maande in die hospitaal verloor. Sy moes ná twee maande se gesukkel huis toe gaan sonder haar baba. En daar staan sy toe voor my.
Ek het soos ’n hond gevoel. Die hele oggend het ek gekla oor my kind. My gesonde kind. My woelwater-kind. My lewendige kind. En die vrou staan voor my, alleen.
Met nuwe perspektief het ek daar weggestap. En toe Lisa later die middag deur ’n by gesteek word en dit my ongewoon rowwe dag moes kroon, het ek vrede in my hart gehad en haar styf vasgedruk.
Dank die Vader vir Lisa en vir die voorreg om ’n ma te wees. Elke dag.