Motiveer jou man met jou woorde

Motiveer jou man met jou woorde

’n Geneul sal jou man nie verander nie. Verras hom eerder met ’n opregte kompliment of ’n woord van motivering. Frank Rautenbach en ander mans help jou met hierdie woorde wat elke man graag wil hoor (en lees)...

Woorde het mag. Woorde besit energie en kan mense help, heelmaak, seermaak, verneder en ophef.

Dit wat ander vir jou sê of jy vir hulle sê, affekteer jou direk. Spandeer maar tyd saam met ’n persoon wat gedurig negatief is en kyk hoe dit jou dreineer!

Gary Chapman gebruik ’n mooi ...

’n Geneul sal jou man nie verander nie. Verras hom eerder met ’n opregte kompliment of ’n woord van motivering. Frank Rautenbach en ander mans help jou met hierdie woorde wat elke man graag wil hoor (en lees)…

Woorde het mag. Woorde besit energie en kan mense help, heelmaak, seermaak, verneder en ophef.

Dit wat ander vir jou sê of jy vir hulle sê, affekteer jou direk. Spandeer maar tyd saam met ’n persoon wat gedurig negatief is en kyk hoe dit jou dreineer!

Gary Chapman gebruik ’n mooi beeld in sy boek Love as a Way of Life. Hy sê woorde kan koeëls of saad wees.

Wanneer ons woorde op mekaar afvuur soos koeëls, gevul met oordeel en beterweterigheid, sal ons verhoudings ’n knou kry.

Gebruik ons dit as saad, gevul met die beste bedoelings, is dit makliker om ’n verhouding te laat blom.

Ons ken almal die Bybelse gesegde: Wat jy saai, sal jy maai. Wanneer ons slegte dinge kwytraak, wonder ons hoekom ons lewens nie in plek val nie. Ons oes maar net die woorde wat gesaai is!

Deur ons tonge in toom te hou, sal goeie saad by ons monde uitkom wat ’n goeie oes sal oplewer.

Voor jy iets sê, dink eers wat jy gaan sê en hoe jy dit gaan sê. Wat sal die uitwerking wees? Jou woorde moet vol respek, inspirasie en aanmoediging wees.

Natuurlik is dit nodig om die waarheid praat – op ’n liefdevolle manier. Ons moet beter maak, nie seermaak nie.

Dit begin in jou eie huis. Ons vergeet maklik hoe die manne kan blom wanneer ons vir hulle mooi dinge sê. Jy moet die potensiaal in jou man raaksien en hy moet dit by jóú hoor!

Ek het respek vir jou as man en pa …

Hoe verseker jy dat mense vir jou respek het en jy ook vir jouself respek het? Net soos maatskappye hulle reputasies op verskeie maniere moet beskerm en bestuur, moet ons dit ook doen.

Dis maklik! Wees deursigtig. Eg. Konsekwent en geloofwaardig. Wees die man wat jy veronderstel is om te wees te midde van hierdie warboel van wêreldse uitdagings en veranderinge.

Die een ding waaraan jy moet kan vashou, is jou eie reputasie. Jou reputasie, wie en wat jy is, lê nie altyd noodwendig by wat jy van jouself sê nie. Dit is gesetel in wat ander sien en beleef, en van jou sê.

Dis belangrik om jou eie naam te beskerm. As dit eenmaal deur die modder gesleep is, sal dit baie moeite en tyd verg om dit weer volkome te herstel.

Dit neem dalk 20 jaar om ’n reputasie op te bou wat jy in vyf minute vernietig het.

Volg die nommereenreël: Behandel ander soos jy behandel wil word. Praat met jou gesin soos jy wil hê hulle met jou moet praat. Respek word verdien, nie sommer net pasella gekry nie.

Die beginsels is eenvoudig. Dis om Hom eerste lief te hê, en dan jou naaste soos jouself. Om die vrugte van die Gees uit te leef, ook in jou eie huis.

Die uitdagings om dit toe te pas, lê gewoonlik in moeilike situasies. Iemand het jou miskien te na gekom. Kry maar eers die feite. As mense aan die ontvangkant van oningeligte besluite is, kwyn respek.

Dink mooi oor die persoon se optrede, omstandighede en beweegredes. ’n Bietjie begrip kan baie help om die regte manier te bepaal om die situasie te hanteer.

Daar word dikwels net op die gevolge van ’n situasie gefokus sonder om die werklike oorsake te bespreek. Die fokus moet juis daarop wees om mense se toekoms te help verbeter.

Dit beteken nie dat jy doekies moet omdraai nie. Doen wat reg is en wat die situasie vereis.

Praat reguit en bring mense tot by die punt om ook eerlik met hulleself te wees. Sonder wedersydse integriteit in ’n verhouding sal niks verander nie.

Doen dit op ’n mooi manier. Vul jou denke, besluite en optrede met goedhartigheid. Een van die grootste geskenke is om iemand te help, sonder om iets terug te verwag.

Saam maak ek en jy ’n goeie span …

Om lewenslange verhoudings te behou, moet jy dit koester. Dit moet versorg word soos plante wat moet water kry. Nie te veel nie, dan verdrink hulle. Nie te min nie, dan verlep hulle en gaan dood.

Die balans tussen gee en neem, onttrek en deponeer, is uiters belangrik. Anders flikker die rooi ligte.

Die neem en gee moet natuurlik en gemaklik wees. ’n Langtermynverhouding is nie moontlik as albei mense in die verhouding nie hulleself kan wees nie.

’n Mens moet ook in ’n vriendskap gemaklik en natuurlik kan wees. Soveel meer nog in ’n verhouding of huwelik. Julle dink, besluit en doen tog alles saam.

Daar is altyd potensiële voordele vir al die partye betrokke in enige verhouding. As jy wil hê ’n verhouding moet vir jou werk, moet jy seker maak waarom jy daarin is.

Jy het ’n verhouding met jou werkgewer. Dit bestaan omdat die potensiële voordeel vir jou ’n inkomste is en vir jou werkgewer, jou vaardighede. Baie frustrasie ontstaan omdat die partye nie die aanvanklike grense respekteer nie.

Watter dieper waardes onderskraag daardie verhouding? Daardie waardes sal bepaal hoe moeilik dit gaan wees om ’n slegte verhouding te verlaat. Met julle troudag het jy ’n gelofte gemaak wat lui: “ … tot die dood ons skei.”

Integriteit en ’n bewustheid van jou lewensdoel sal ook help. Indien ’n verhouding belangrik genoeg is, moet jy ten alle koste doen wat nodig is om dit in stand te hou.

Hou jou verhoudings reg, dan het jy nie nodig om hulle herhaaldelik reg te maak nie.

Om die een of ander rede sukkel mans om jammer te sê. Hulle is trots. Wees haastig om te vergewe. En verskoning te vra.

Baie is onder die indruk dat die woord “jammer” hulle sleg gaan laat lyk.

Maar dit is ver van die waarheid. ’n Sterk man en pa wys dat hy soms verkeerd kan wees. ’n Nog sterker man en pa stel sy foute reg.

Wanneer ’n man onverwags vir sy vrou jammer sê, maak dit haar hart meer ontvanklik as enige romantiese woordjies.

“Jammer” blus dadelik ’n vuur wat dreig om handuit te ruk. ’n Uitgerekte bakleisessie word sommer dadelik verkort en liefde seëvier.

Jy sal verbaas wees hoe lekker jy gaan slaap en hoe lekker jy daarna opstaan. En as ’n mens elke dag lekker uitgerus opstaan, sien jy kans vir soveel meer.

Jy is steeds handsome en ek sal jou weer kies …

Die flieks wys vir ons ’n Rambo of ’n James Bond. Bultende spiere of genoeg geld vir vinnige motors en luukse vakansies.

Die meeste mans is in ’n lewe van voorgee vasgevang, met die begeerte om sukses te behaal. Om hulle lewens te laat tel. Om op 50 nog net so aantreklik en fiks te wees soos op 30.

Niemand kan die onmoontlike regkry nie, maar jy kan wel jou gewoontes verander om gesonder te leef. Dit is nooit te laat of te vroeg om te wees wie ook al jy wil wees nie.

Ons het maar almal ons gewoontes, daardie kortpaaie na wat bekend en gemaklik is.

Hulle sê mos die verskil tussen ’n groef en ’n graf is net die diepte. Wanneer jy gemaklik raak in ’n groef met jou gesondheid en fiksheid, is dit tyd om te stop.

Besin of dit wat nou vir jou belangrik is, op die lang termyn regtig van waarde is. Word jy daardeur meer jouself, die mens wat jy bestem is om te wees?

Onthou, daar is nie ’n keerdatum nie. Daar is nie ’n afsnypunt of ’n grondwet wat jou weerhou van verandering, ontdekking of vervulling nie.

Om beter gewoontes aan te leer, is soos om ’n staptog aan te pak. Dit is een ding om daaroor te lees. Dit is iets heeltemal anders om dit self te stap.

Tydens so ’n staptog kan jou lewe verander, want jou gewoontes verander. Aangesien gewoontes en identiteit hand aan hand loop, sal jou identiteit ook verander.

Jy is dalk nie seker of jy kan nie. Gee net die volgende tree. Hou net aan om die een voet voor die ander te sit.

Dis eenvoudig. Jy vorm gewoontes en dan vorm die gewoontes jou. Jy kry ’n nuwe identiteit. Dit verander daardie gewoonte-denke, gewoonte-emosies en gewoonte-dade.

Ons almal ervaar een van twee soorte pyn: die pyn van dissipline of die pyn van berou. Die verskil is dat dissipline onse weeg, terwyl berou tonne weeg.

Daarom moet jy jouself dissiplineer om getrou te oefen, gesond te eet en jou kop reg te hou.

Ja, dis soms moeilik om vroeg op te staan om te oefen. Maar die spyt wanneer jy nie dissipline toegepas het nie, sal die lewe moeiliker maak.

Deel die artikel

Méér artikels

Scroll to Top