Deur Ina Wilken, voorsitter van Gryskrag
Die Inspirasievrou-toekennings vereer vroue wie se bydraes ander se lewens verryk. Maar elke vrou dra ’n lig en inspireer mense, ongeag haar ouderdom of openbare erkenning.
Werklike glans lê in elke vrou se onsigbare bydrae
Die Inspirasievrou-toekennings vir 2026 het vroue vereer wie se werk en moed ander se lewens verryk. Tog dink ons terselfdertyd aan die vroue wie se bydraes selde in die kollig beland.
’n Inspirasievrou is nie altyd die een met haar naam op ’n sertifikaat nie. Soms is sy die rede waarom iemand anders dit tot op die verhoog gemaak het.
Sy bou ’n onderneming, dra kennis oor en spreek onreg aan. Dan is daar die vrou wat dink: “Ek is net ’n ma” of “Ek help net agter die skerms.”
Vra die kind wat by haar veilig voel. Sy sal ’n heel ander beskrywing gee.
Ken vandag nog ’n vrou erken wat jou inspireer.
Stel haar voor by voelgoed.co.za/inspirasievrou
’n Vrou bly meer werd as edelstene, selfs wanneer sy moeg is
In Spreuke ontmoet ons ’n vrou wat dink, beplan, handel en werk. Spreuke 31:10 sê: “’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.”
Tog kan ons die hoofstuk soos ’n prestasielys lees. Asof ’n vrou eers alles uitstekend moet doen voordat sy waardevol genoeg is. Dit is nie die bedoeling nie – ’n vrou behou haar waarde selfs wanneer sy moeg is of hulp nodig het.
Sy kan juis dan iemand inspireer. Haar eerlikheid gee ’n ander vrou die moed om hulp te vra. Ons het stories nodig waarin daar ruimte is vir menswees.
Inspirasie het geen ouderdomsperk – daar is plek vir jou lig
As voorsitter van Gryskrag is ek bewus daarvan dat vroue se bydraes oor hul hele lewensloop erken moet word. ’n Aftreedatum laat nie dekades se kennis verdwyn nie. Ervaring bly bruikbaar. Daar is steeds ruimte om te skep en te leer.
Aan elke vrou wat wonder of sy “genoeg” is: Ja, jy is! Gee jouself toestemming om te dink: “Daar is nog iets wat ék wil doen.”
Jy hoef nie te wag vir die perfekte oomblik nie. Begin met ’n gesprek of ’n aanbod om te help. Stel ’n vrou voor waar sy kan floreer. Elke vrou dra ’n lig.
Ken vandag nog ’n vrou erken wat jou inspireer. Stel haar voor by voelgoed.co.za/inspirasievrou