Natalie du Toit

NATALIE DU TOIT – ’n Simbool van hoop en deursettingsvermoë 

Swemkampioen NATALIE DU TOIT het haar beenamputasie in ’n storie van deursettingsvermoë en hoop omskryf. Haar ongelooflike gees en prestasies is ’n inspirasie. 

Die krag van die regte ingesteldheid en ’n positiewe gesindheid

Natalie du Toit was reeds ’n swemkampioen van formaat vóórdat haar been ná ’n bromponie-ongeluk geamputeer is. 

Ná die ongeluk, is sy selfs ’n groter kampioen – in én uit die water. Haar positiewe gesindheid het beslis ook haar keuses beïnvloed. 

“Ek het voor dié ingrypende gebeurtenis tien goue medaljes by ...

Swemkampioen NATALIE DU TOIT het haar beenamputasie in ’n storie van deursettingsvermoë en hoop omskryf. Haar ongelooflike gees en prestasies is ’n inspirasie. 

Die krag van die regte ingesteldheid en ’n positiewe gesindheid

Natalie du Toit was reeds ’n swemkampioen van formaat vóórdat haar been ná ’n bromponie-ongeluk geamputeer is. 

Ná die ongeluk, is sy selfs ’n groter kampioen – in én uit die water. Haar positiewe gesindheid het beslis ook haar keuses beïnvloed. 

“Ek het voor dié ingrypende gebeurtenis tien goue medaljes by die Westelike Provinsie se swemkampioenskapsbyeenkoms verower,” onthou Natalie. “Ná die amputasie van my been, het almal om my in trane uitgebars. 

“Dit was moeilike oomblikke en die frustrasie om in ’n hospitaalbed te lê, het my opgevreet. Ek het geweet as ek net kon oefen, sou ek beter voel. Nadat ek die foto’s van my been gesien het, het ek verstaan en aanvaar hoekom dit geamputeer moes word.” 

Haar lewe het fisiek ingrypend ná die ongeluk verander. 

“Tog was my ingesteldheid van so ’n aard dat ek net wou aanhou doen wat ek altyd gedoen het. Ek wou net myself wees. Ek het myself nie as gestremd gesien nie en was steeds dieselfde mens – sielkundig net baie sterker.” 

Met dié ingesteldheid het sy, bewustelik of onbewustelik, reeds die besluit oor haar pad vorentoe geneem. “Dit was ’n uitsonderlike keuse om nie hartseer oor die verlies van my been te wees nie. Noem dit ontkenning, maar vir my het dit gewerk,” sê Natalie. “Hoe kan iemand anders vir jou jammer voel as jy nie jouself bejammer nie?” 

Drie maande ná die ongeluk was sy terug in die swembad, met die aanvanklike plan om net in die water te dryf. “Ek het egter geswem en ná twee uur was ek ontslae van my woede. Daarna was dit asof my lewe oor begin het,” vertel sy. 

Jou doelwitte en drome – aanpassing beteken nie opgee nie

’n Jaar later het Natalie du Toit die vryslag vir gestremde swemmers by die Statebondspele in Engeland gewen, en ook geskiedenis gemaak deur aan die finaal van die 800 m-vryslag teen niegestremdes deel te neem. Haar vele goue medaljes en wêreldrekords wat sy tydens die 2004, 2008 en 2012 Paralimpiese Spele in haar swemrugsak kon druk, is maar ’n paar van vele oorwinnings. 

Oor haar pogings in 2004 om vir die gewone Olimpiese Spele te kwalifiseer sê sy: “Dis baie moeilik om op daardie vlak mee te ding en ek was onsuksesvol. Ek fokus, soos voor my ongeluk, op die langer afstande wat tegnies makliker is vir iemand in my posisie. ’n Mens pas jou doelwitte en drome net aan, maar hulle is steeds daar!” 

In 2008 het sy haar droom bereik en aan die Olimpiese Spele in Beijing deelgeneem, waar sy 16de geplaas het in die 10km swem. Sy het die derde atleet met ’n amputasie geword om ooit vir die Olimpiese spele te kwalifiseer.  

Sy het haar besluit geneem. 

Verpletterde drome: jóú keuse 

  • As jou droom om die een of ander rede verpletter word, wees realisties oor die werklikheid, maar besef dat dit nie beteken dat daar nooit nuwe drome vir jou kan/mag wees nie. 
  • Wees bereid om die roete na jou einddoel aan te pas. Jou droom kan dalk steeds ’n werklikheid word; die “hoe” en “wanneer” verg dalk net ’n bietjie herbeplanning. 
  • Vind ’n uitlaatklep vir jou woede en teleurstelling. Werk daardeur, maak vrede daarmee en los dit in die verlede. 
  • Drome vra passie, toewyding en geduld. Sorg dat al drie deel is van jou pad. 
Deel die artikel

Méér artikels

As jong meisie het sangeres en TV–aanbieder ROUCHELLE LIEDEMANN se swak selfbeeld haar lank gekeer om haar drome uit te leef. Vandag leef sy in ...

SOEKIE KROG van Radikids-faam het al haar kwota swak besluite geneem, maar dit het haar die vermoë gegee om vandag beter keuses te kan maak. ...

Scroll to Top