Nuwe liefde en lewe – ’n tweede kans na verlies 

BERTHA DU PLESSIS, weduwee van die voormalige krieketspeler Hansie Cronjé, deel haar storie van verlies en die tweede kans op liefde wat nuwe lewe gebring het. 

Liefde en humor het ons gedra deur die moeilike tye 

Tydens die verhoor het ek nie omgegee vir die wêreld nie: Ek kon net sien hoe seer en swaar hierdie man kry vir wie ek lief is. Hy was teen die grond. Dit was moeilik. Snags moes ons die lakens omruil, want dit was deurnat gesweet tot op die matras.  

Ek ...

BERTHA DU PLESSIS, weduwee van die voormalige krieketspeler Hansie Cronjé, deel haar storie van verlies en die tweede kans op liefde wat nuwe lewe gebring het. 

Liefde en humor het ons gedra deur die moeilike tye 

Tydens die verhoor het ek nie omgegee vir die wêreld nie: Ek kon net sien hoe seer en swaar hierdie man kry vir wie ek lief is. Hy was teen die grond. Dit was moeilik. Snags moes ons die lakens omruil, want dit was deurnat gesweet tot op die matras.  

Ek het Bybelversies op die spieël geplak waar Hansie skeer sodat sy oog dit net êrens kon vang. In die lêers wat hy met sy bankstate moes deurwerk, het ek ook versies geplak. Ek glo in die krag van gebed.  

Die maande net ná die King-kommissie was erg. Dit was beslis ook nie vir my maklik nie. Ek kan nie eers meer presies onthou wat gebeur het nie, maar ek het ’n paar goedjies in ’n tas gegooi en gesê ek is nou op pad.  

Hansie het saam met my na die motorhuis gestap en toe ek die venster oopmaak om hom te groet, staan hy reg met sy kredietkaart in sy hand. Sy woorde was: “Vat asseblief my kaart, dan kan ek ten minste weet waar jy is as jy dit gebruik!” Ons het al twee uitgebars van die lag en die tas is uitgepak.  

Hansie het baie bokse vol briewe gekry van mense wat gesê het hulle vergewe hom, maar hy wou dit eers nie lees nie. Ek kon nie verstaan hoekom nie, maar het later besef dit het hom net slegter laat voel oor die baie mense wat hy teleurgestel het.  

Die seer van verlies en die besluit om voorentoe te beweeg 

Ek het baie hard probeer om Hansie te help, maar dit was iets wat hy vir homself moes doen. Op die ou end het hy homself vergewe. In sy laaste radio onderhoud het hy verwys na die liedjie “Die skoene moet jy dra” van Valiant Swart. Hy het geweet dis die skoene wat hy moes dra. Hy moes die gevolge van sy dade dra, maar daar was weer lewenslus, daardie entoesiasme oor die lewe.  

As ek aan hom dink, dink ek aan die laaste keer wat ek hom voor sy dood gesien het: Ek was die naweek by hom in Johannesburg en Maandagoggend moes ons albei vroeë vlugte haal – ek George toe om betyds te wees vir werk en hy Kaapstad toe vir ’n gholfdag. Ons was nogal haastig en ek onthou by die deurstap op O.R. Tambo-lughawe het hy gaan staan en my ’n stywe druk gegee en gesê: “Net vier slapies.”  

Hy het daardie glimlag op sy gesig gehad wat tot in sy oë gaan. Dis hoe ek hom onthou: met daardie liefde in sy oë en daardie bietjie opwinding van nog net vier slapies voor ons mekaar weer sien.  

Dit was nooit eers in my verwysingsraamwerk om te dink daar kan iemand anders wees na Hansie nie. Dit was vir my amper so moeilik soos die dag toe Hansie dood is. Ek kon nou kies om aan te gaan met my lewe of om te bly waar ek was.

Die Here se genade maak nuwe liefde en nuwe lewe moontlik 

Met die Here se genade het ek ’n tweede kans gekry. Hy het Jacques gebruik om my lewe vir my terug te gee en ek is baie dankbaar daarvoor.  

Na Hansie se dood het ek ’n krat van sy goed gehou: my Hansieboks. Daarin is byvoorbeeld Hansie se dromstokkies. Hy het altyd oorfone op sy kop gesit, met die musiek kliphard en dan gemaak of hy vreeslik speel!  

Daar is ook ’n trui waarin hy altyd verskriklik mooi gelyk het vir my; sy Bybel waarin hy klomp aantekeninge gemaak het; sy laaste jaar se dagboek waarin hy sy afsprake gemaak het; sy skoene wat na die ongeluk in sy sak was.  

Elke nou en dan as ek hartseer voel, gaan maak ek my boks oop en huil lekker en dan maak ek dit weer toe.  

Met Jacques hoef ek nie weg te steek as ek hartseer raak en onthou nie. Hy verstaan as ek deur my Hansie-boks krap. Dit maak dit vir my soveel beter dat ek iemand het wat omgee en verstaan.  

My lewe is oneindig deur Hansie verryk en ek is ongelooflik dankbaar daarvoor. Ek het geleer van wen en verloor, van val en opstaan, van liefde en dood.  

Saam met Jacques en ons twee pragtige seuns het ek geleer van nuwe lewe, nuwe liefde. Ek wil elke dag probeer geniet, soveel as moontlik dinge saam doen en leef met die hoop en wete dat ons almal vir wie ons lief is eendag saam met Jesus in die hemel sal sien. 

Deel die artikel

Méér artikels

Die soektog na betekenis is ’n reis. JO VAN DER MERWE deel hoe haar soeke na haarself haar gelei het na ’n doel, aanvaarding en ...

LAURIKA BEKKER deel die hartroerende verhaal van haar dogter se ongeluksreis, van verwoestende beserings tot ’n pragtige herstel, en ’n besluit tussen lewe en dood. ...

Scroll to Top