Klein, slim en bekkig. Dís hoe mense vir ELOISE CUPIDO leer ken het. Sy is ’n voorbeeld van hoe om met selfvertroue vol en uitbundig te leef.
Maak besluite wat jou selfversekerd laat voel
Ek het ’n “attitude of yes” teenoor die lewe gekweek. Sal altyd eerder “ja” as “nee” sê, selfs al moet ek soms eers ná die tyd uitpluis hoe om die werk te doen.
Só het ek, wat absoluut niks van sport af weet nie, al byvoorbeeld die bodaankondiging vir die Olimpiese Winterspele in Frans uitgesaai.
En ’n paar jaar later – weer regstreeks en wêreldwyd – duik die geleenthede op om as sportkommentator by twee Europese Spele uit te saai.
Dit is wel belangrik om fyn na jou instink te luister. Om slegs in te stem as dit ’n eerlike ja kan wees. ’n “Ja” wat jou met respek gaan behandel.
Jare gelede was daar ’n klein rolletjie in ’n baie gewilde sepie. Ek was bloedjonk in die bedryf en nog onseker van hoe dinge werk. In daardie stadium was my toegang tot vervoer ’n groot probleem.
Ek het gevra, verduidelik, planne probeer maak … maar die werkgewer wou op geen manier tegemoetkomend wees nie.
Toe moes ek myself vra: Wil hierdie mense regtig vir Eloise Cupido hê? Of net die boksie kan merk om te sê: “Ons het ’n bruin meisie in die rolverdeling.”
Die uiteindelike besluit was om eerder weg te stap; selfs al sou dit ’n loopbaansprong gewees het.
Om vir die regte redes nee te sê, het die ruimte verbreed om ja te kon sê vir ander geleenthede wat my menswees beter sou dien.
Glo in jouself en leef met selfvertroue
Moet nooit bloei op mense wat jou nie gesny het nie. Daar is diep wonde en gate in ’n siel as jy op ’n sekere manier grootgeword het, of ’n paar slegte dinge beleef het.
Daarom moet ’n mens seker maak dat die verlede nie ’n negatiewe impak op jou toekoms het nie.
Wanneer ek bewus raak van ’n sielswond, sal ek alles in my vermoë doen om dit skoon te maak en gesond te laat word.
Een so wond wat ek lank saamgedra het, was om sonder ’n pa groot te word. Dit het ’n groot leemte gelos wat later in ’n paar verkeerde keuses oorgespoel het.
Sonder ’n pa as voorbeeld, het ’n vrou nie ’n bloudruk van hoe ’n man haar behoort te hanteer nie. En dan beland ’n mens in slegte verhoudings waar jy ’n bietjie misbruik word.
Ek is vandag gelukkig getroud, en ons het ’n pragtige seuntjie, maar moes ook daai pad van verwerping stap.
Diep, onder al die bekkigheid, voortvarendheid en loopbaansukses het ek steeds gedink ek is nie goed genoeg nie.
Dis hoekom dit so belangrik was om ’n gesonde, gebalanseerde selfbeeld te bou.
Vandag is dit ’n passie om ook ander mense se liggies helder te laat skyn. Om uit my volheid, ook ander vol te maak.
Ons almal het die behoefte om te weet: Maak ek regtig saak?
As jou pad ooit myne kruis, weet vir seker dat jy ’n kompliment gaan kry.
’n Eerlike stukkie aanmoediging waarmee ek jou gaan herinner: Jy is awesome!
Want ons is. Dis tyd om dit te glo en voluit te gaan leef.