Voel dit vir jou of jy en jou kind heeltyd in ’n magstryd gewikkel is? Leer om meer doeltreffend te onderhandel met jou kind.
Moenie dadelik ’n antwoord gee nie. Ouers is besig en dikwels het kinders vyftig versoeke in ’n uur! Dis maklik om nee te sê sonder om regtig oor die versoek na te dink.
Op daardie oomblik is dit mos die vinnige en minder stresvolle antwoord. Tog kan dit op die lange duur stres verhoog as gevolg van argumente wat later ontstaan.
Onthou, daar is niks fout daarmee om vir jou kind te sê jy het ’n paar minute nodig om daaroor te dink nie, selfs al is dit ’n klein versoekie.
Onderhandeling leer jou kind belangrike lewensvaardighede
Gaan dink eers na oor die versoek. Wanneer jy vir jou kind sê jy gaan ’n paar minute neem om eers oor sy versoek te dink, maak seker dit is regtig net ’n paar minute. Moenie ’n uur neem voordat jy antwoord nie.
Hoe langer jy vat, hoe meer gefrustreerd en hoe knaender gaan hy wees oor die saak. Dit vergroot weer die kans dat jy ongeduldig sal raak en net dadelik nee sê.
Wanneer jy meer tyd nodig het om te dink of dit met manlief te bespreek, sê net reguit: “Ek weet jy wil graag pizza hê vir aandete, maar ek is nie seker wat Pappa beplan het nie. Oor ’n kwartier is hy by die huis, dan hoor ons by hom.” Jou kind weet dan hoe lank hy moet wag.
Jy is ook besig om hom belangrike lewensvaardighede te leer as jy jou belofte nakom. Dit wys ook dat sy versoek belangrik geag word.
Oorweeg al die opsies voordat jy nee sê. Onderhandeling vind gewoonlik plaas wanneer jy as ouer nee sê vir iets wat jou kind wil hê. Kinders wil baie dinge “hê”.
Hulle wil na plekke toe gaan, dinge doen, items koop… dit kan oorweldigend raak. Soms sê ons outomaties nee sonder om werklik te dink of die antwoord dalk ja kan wees.
Jou sesjarige vra byvoorbeeld of sy kan vingerverf, maar jy is dadelik gekant teen die idee. Dit sal net ’n gemors afgee wat jy later sal moet skoonmaak.
Tog is jy spyt nadat jy haar afgejak het. Jy besef dat jy ’n geleentheid misgeloop het om haar besig te hou en aan ’n kreatiewe aktiwiteit deel te neem.
Om dan toe te gee as sy aanhou neul, gaan haar motiveer om in die toekoms aan te hou vra omdat sy reeds een keer haar sin gekry het.
Bly dan eerder by jou aanvanklike besluit al weet jy jou antwoord het verander. Probeer in die toekoms eers nadink voordat jy besluit.
Kom tot ‘n kompromie wat vir almal werk
Maak seker jy kry al die nodige inligting.
Wanneer jou elfjarige seuntjie vra of hy by sy maatjie, Hendrik, kan gaan speel, maak seker jy weet presies wat die kuier behels.
Vra vrae soos: Hoe sal hy daar kom; is die vriend se ouers tuis; watter ander maatjies gaan daar wees; en wat gaan hulle doen? Maak seker dat hy verstaan op watter voorwaardes jou antwoord ja is.
Byvoorbeeld, hy kan na sy vriend se huis gaan as een van Hendrik se ouers tuis is en hulle in die erf speel. Die antwoord kan help om die slaggat te vermy waar jy jou toestemming later terugtrek omdat jy ontdek het sy ouers is nie tuis nie en twintig van Hendrik se maatjies is oorgenooi vir pret sonder enige toesig.
Betrek jou kind by die besluitneming. Nie alle situasies is onderhandelbaar nie, maar sommige is wel.
Jou tienerdogter vra of sy ’n vriendin kan oornooi, maar jy is gedaan na ’n dag se werk en is nie lus vir tienermusiek wat kliphard gespeel word nie.
Sy begin met jou redeneer dat jy juis gesê het sy moet haar tyd meer effektief gebruik as om rond te lê die vakansie. Jy reken sy kan eerder haar deurmekaar kamer regpak.
Probeer altyd die positiewe (netjiese kamer en goeie tydsbesteding) teenoor die negatiewe (jou moegheid en lae geraasdrempel) opweeg.
Onthou om mét mekaar te onderhandel, eerder as óm mekaar. Daar is niks fout daarmee om met jou kind te praat oor haar besluit nie. Dit kan help dat sy self oor die voor- en nadele van haar keuses dink.
Om oor ’n versoek te gesels beteken nie dat jy dit toestaan nie. Gaan ’n kompromie aan: ’n skoon kamer vir ’n kuiersessie.