Wil jy graag effektief verslank, maar jy weet nie waar om te begin nie? Dieetkundige AN DU PLESSIS verduidelik wat bedoel word met ’n goeie dieet- en oefenplan.
Ontdek hoe fokus op gesondheid lei tot effektiewe gewigsverlies
Die beste manier om maerder te word, is om op gesondheid te fokus, en nie op gewigsverlies nie. Jy kan maklik ’n obsessie hieroor ontwikkel. Dit kan dan veroorsaak dat jy eksperimenteer met verskillende diëte om so gou as moontlik daai gewig af te skud.
Die klem moet val op ’n gesonde leefstyl, wat insluit ’n gebalanseerde eetplan, oefeninge asook die regte gesindheid. Dit is die resep vir voortdurende gewigsverlies totdat jy jou doelwit-gewig bereik het.
Daar gaan tye kom wat jy gaan stilstaan by een gewig, maar moenie moed verloor nie. Bly positief en gaan voort met jou gesonde maaltye, en oefen gereeld!
’n Gebalanseerde dieet bestaan uit laevet- en hoëvesel-voedsel. Laasgenoemde sluit in volgraanprodukte soos hawermout, mielies, volkoringbrood, saadbrood en groente en vrugte.
Probeer ten minste vyf porsies groente of vrugte per dag inkry. Verkieslik met die skil. Die vrugte is ’n gemiddelde grootte vrug, ongeveer 30g.
Jy moet melk inneem vir kalsium. Hiervan is twee porsies nodig. Een porsie is 200ml. Dit sluit in afgeroomde of vetvrye melk en ongegeurde, vetvrye jogurt.
Vir die gemiddelde vrou is die styselporsies gewoonlik vyf per dag. Een porsie is 125ml gaar voedsel.
’n Vleisporsie is 30g. Vir die gemiddelde vrou is dit gewoonlik vier hiervan per dag wat deur die dag verdeel kan word.
Eet byvoorbeeld 90g vleis by die hoofmaaltyd en ’n eier of 125ml bone in tamatiesous by ’n ligte gereg. ’n 90g-porsie is min of meer so groot soos jou vuis.
Proteïen sluit in rooivleis, hoender, vis, kaas, asook peulgroente soos droë bone, droë ertjies en lensies – die pienk en die bruin soort.
Vette is drie porsies per dag, byvoorbeeld 5ml olie, botter, mayonnaise, 10 klein olywe en ’n kwart van ’n medium avokadopeer.
Bly weg van die Banting-dieet. Dit het ’n hoë vet-inhoud en baie min of geen koolhidrate nie, dus is dit ongebalanseerd. Dit beperk groente en vrugte ook tot net sekeres wat min of geen koolhidrate bevat.
Dit is nie volhoubaar nie en baie duur. Items soos byvoorbeeld klapper- en amandelmelk pas nie by elke begroting nie. Op langtermyn is hierdie eetplan baie ongesond vir jou hart.
Die beste benaderings om volhoubaar en effektief gewig te verloor
Die tweede faktor is die oefenprogram van ten minste ’n halfuur of meer per dag. Kies oefeninge waarvan jy hou en waarmee jy kan volhou, soos gym, draf, fietsry en dans.
Begin stadig, byvoorbeeld met 10 minute elke dag. Verhoog dit geleidelik na 30 tot 60 minute, ten minste ses dae per week vir gewigsverlies. As jy nog nooit geoefen het nie, en jou doel fiksheid en gesondheid is, is 30 minute drie maal per week genoeg.
Die verslanker moet ’n paar basiese riglyne volg. Moenie etes oorslaan nie, al eet jy net groente en vrugte. Groente is die basis van ’n verslankingsdieet. Moet nooit porsies uitsny nie, eet eerder meer daarvan.
Sny vet uit jou dieet, want vet maak vet. Pas op vir weggesteekte vet in geregte en gebak in groentes.
Hoe minder jy eet, hoe laer word jou metabolisme. Dis wat jy eet en die hoeveelheid op een slag wat belangrik is. Eet meer groente en vrugte wat laag in kilojoules is en die metabolisme verhoog.
Kitsdiëte werk nie, want wanneer jy ophou, eet jy net weer soos vantevore. Alles gaan oor ’n gesonde lewenstyl.
Weeg net een keer per week en hou daarby. Dit het ’n sielkundige motiveringseffek.
Water het geen kilojoules nie. Drink ses tot agt glase of meer per dag. Veral as jy lus het vir ’n verbode item. Drink eers die voorgeskrewe hoeveelheid water per dag en die begeerte sal verdwyn.
Alkohol is hoog in kilojoules. Drink dieetkoeldrank of vul ’n bietjie wyn in ’n glas met sodawater aan en drink stadig.
Dis nooit te laat om te begin nie. Moenie skuldig voel as jy ’n klein bietjie oortree nie. Begin net dadelik weer reg eet.