Of dit nou ’n nuwe dieet of oefenprogram is, of selfs net om ’n bietjie netjieser te leef. Begin elke dag met goeie voornemens.
Ou gewoontes is moeilik om te verbreek. Dit is normaal om terug te glip na jou ou gewoontes.
Veronderstel jy is op ’n dieet en jy eet ’n hele pakkie fudge op, in plaas van net een stukkie. Gee jy dan sommer op en eet ’n stuk koek ook?
Die beter reaksie nadat jy die pakkie fudge opgeëet het, sal wees om te sê: “Dit was nou lekker. Ek kon voel my lyf het die soetigheid nodig gehad en dit is normaal om soms ietsie soet te geniet. Maar dis nou klaar.
“Ek voel wel skuldig oor die hele pakkie fudge. Ek gaan egter nou die res van die dag daarop fokus om weer by my dieet te hou. Een keer se bietjie te veel fudge gaan nie my vorige drie dae se gesond eet kanselleer nie.”
’n Gewoonte is nou maar een maal nie ’n maklike ding om te verander nie. Dit is nie realisties om te dink jy gaan die gewig wat jy oor twee jaar opgetel het in twee weke verloor nie!
Besluit dat vandag ’n goeie dag gaan wees. Begin elke oggend as jy opstaan met die positiewe voorneme en gedagte dat vandag ’n goeie dag gaan wees.
Stel vir jouself net een of twee doelwitte per dag. As jy dalk vandag net een van jou doelwitte bereik, moenie te skuldig voel nie. En moenie te kwaai met jouself wees oor die ander een nie.
Aanvaar dit en motiveer jouself om dit weer te probeer regkry, eerder as om op te gee.
Solank jy net ná elke struikelblok van vooraf met ’n nuwe voorneme begin, sal jy uiteindelik by jou doel uitkom.