[OUDIO] Maak ‘n kopskuif – doen wat vreugde gee

’n Leeftyd van dinge teen jou sin doen, kan ’n ongelukkige, onvervulde, vervelige lewe tot gevolg hê. Maak ’n kopskuif en kies vryheid en vreugde.

Doen dinge anders, of doen ander dinge. Ervaring kan wysheid bring, mits ons dit gebruik. Foute is uitstekende leermeesters as jy daaruit leer. As ons nie aksie neem en daadwerklik dinge anders doen om nuwe deure oop te sluit wat ons wíl oopsluit nie, trap ons in ’n slaggat.

Handhaaf jou waardigheid. Jy is niemand se vloerlap nie. Soms is dit nodig om op te staan vir jouself. Om nee te sê en weg te stap van ’n persoon of omstandighede. Neem verantwoordelikheid vir wat jy wil manifesteer en vir jou welstand.

Sommige dinge moet ons maar net doen omdat dit belangrik is vir ons welstand. Hou op om vir jouself te sê jy “moet” dit doen. Doen dit omdat dit belangrik is. Soos gesond eet, om jou finansies goed te bestuur, en huis skoon te maak.

Selfrespek en innerlike welstand is om genoeg dissipline aan die dag te lê. Om konsekwent en verantwoordelik te wees in álle sfere van jou lewe.

Ons het almal die vermoë om te doen wat ons siel laat sing. Om die lewe in die hoogs moontlike gees te ervaar. Om vervuld te lewe. Maar dit vereis soms ’n nuwe perspektief-lens, hernude aksie, selfrespek en verantwoordelikheid vir jou eie welstand.

Dit vereis ’n kopskuif. Doen jy wat jou siel laat sing? Leef jou volle potensiaal uit sodat dit jou vreugde kan verskaf.

Deel die oudio
Scroll to Top