Op aarde is ons nie sonder seerkry nie, maar ook beslis nie sonder God nie. Sommige dae is moeilik. Dit neem tyd om aan jou wonde gewoond te raak, sê Rianet Engelbrecht, ma van die vermoorde Marna Engelbrecht.
Ek het nog die vorige middag vir Marna deur die motorruit gegroet voordat ek plaas toe gery het. Nooit het ek kon dink dat dit die heel laaste keer sou wees nie. Maar iewers deur die loop van daardie nag, is Marna en haar vriendin in hulle koshuis vermoor …
Stefaans se foon begin lui. Hy is ontsteld. Waar is my foon? Soek. Fokus. Alles voel deurmekaar. Riané kla dat my foon al ’n ruk lank lui. Dan kom die nuus wat ons hele wêreld omkeer.
Selfdood? Marna én haar maat Sharnelle? Kan nie wees nie. Maar dis wat die stem oor die telefoon vir my sê. Albei van hulle. In die koshuis, gisteraand.
Ons drie bondel in die bakkie in. Die res van die pad bid ek vir krag, genade en vrede. Wat ook al gebeur het, Marna het die Here geken. Waarvoor kan ek meer vra? Op aarde is ons nie sonder seerkry nie, maar ons is ook beslis nie sonder God nie.
By die koshuis het ek vir Marna gekry waar sy gelê het. Dood, op die badkamervloer. Ek het haar voorkop gesoen. Sy het seergekry. Vir ’n rukkie. Die pyn wat haar moordenaar vir ons agtergelos het, gaan egter vir altyd bly.
En ek vergewe hom.
Hoe kan jy? Wil almal weet. Maklik. Daar is nie plek vir hom in my lewe nie. My herinneringe en gedagtes behoort net aan Marna. Alles van haar was so mooi. Haar gesig, haar gesindheid, haar hart en haar lewe.
Wat Xander [Bylsma] gedoen het, is tussen hom en die Here. Wat ek doen, is ook tussen my en Hom.
Ek glo nie dit was sy wil dat Marna so seer moes sterf nie. Maar ek glo beslis dat Hy my elke liewe tree van die pad staande gehou het.
En steeds doen. Hy was en is die heeltyd daar.
Ek weet regtig steeds nie hoekom dit met Marna moes gebeur het nie. Dalk was sy maar net op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek. Maar ek weet dat sy reg was vir so iets. Sy was reg om na haar vir-altyd-huis toe te gaan.
Sommige dae is moeilik. Soms ondraaglik. Dit neem tyd om aan jou wonde gewoond te raak, en te herstel. En dis ’n ongerieflike proses. Dalk het ek te lank gewag? Tot en met die uitspraak en vonnisoplegging, het ek my seer onderdruk.
Daar was tye wat ek nie wou aangaan nie. Ek wou so graag ook doodgaan. Dood wees. Weg. Iewers op ’n plek waar ek nie al hierdie goed hoef te voel nie. ’n Plek waar ek nie hoef te sien hoe swaar Riané en Stefaans kry nie. Waar ek nie swaar kry nie.
Een aand was besonder seer. …
The story of my life begins and ends with You. Nothing more to say. Nothing more to do.
Ek het lanklaas ’n liedjie geskryf. Of gesing. Die woorde en melodie het amper op die papier neergeval.
The story of my life. There are moments – joy and pain. You were there to take my hand. Gave me strength and peace again.
Verligting het deur my gespoel.
Asof die drukpot se deksel so effens gelig het. Ek kon weer asemhaal. Eendag, sal ek hierdie liedjie opneem sodat daar iets van Marna vir ewig op aarde bestaan. ’n Bewys daarvan dat al die seer en pyn nie verniet was nie. Dat daar nog baie mooi oorbly.
Daar is steeds hope en hope emosies om deur te werk. Dit is wat van ons mense maak. Gevoelens. Ek raak al beter daarmee, maar besef ook dat ek nog ’n lang pad het om te loop. Maar my lewe is nie heeltemal gestroop van vreugde nie.