Soms is liefde ’n vriendin wat saam met jou stap

Soms is liefde ’n vriendin wat saam met jou stap

Boesemvriendinne gaan oor veel meer as gebreide prostese. René Roux vertel hoe die Bybelboek Rut haar laat verstaan waarom iemand wat saam stap vir ’n vrou met borskanker soveel beteken.

Een eenvoudige besluit van Rut wys wat ware naasteliefde is

Ek lees graag Rut. Dit is nie die groot gebeure wat die meeste met my hart praat nie. Wat my elke keer opnuut vasvang is die een eenvoudige besluit wat ’n jong vrou geneem het.

Sy het besluit om nie weg te stap nie. Sy het besluit om by Naomi te bly toe sy alle rede gehad het om haar eie pad te kies. Sy het langs iemand gaan staan wat alles verloor het en gesê: “Waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly.”

Liefde is nie altyd groot woorde of buitengewone dade nie. Soms is liefde net die besluit om nie iemand alleen te los wanneer die lewe op sy swaarste raak nie.

Wees ook iemand se Rut

Brei, skenk of vra ’n prostese aan Ken jy ’n vrou met borskanker, of wil jy self help? Lees op die Boesemvriendinne-bladsy hoe jy kan brei, skenk of ’n prostese aanvra.

Wees ook iemand se Rut

Boesemvriendinne gaan oor veel meer as net ’n gebreide prostese

Wanneer mense die naam Boesemvriendinne hoor, dink hulle gewoonlik eerste aan gebreide borsprostese. En ja, dit is natuurlik die hart van die projek.

Duisende vroue reg oor Suid-Afrika het al deur hierdie projek ’n sagte, ligte en gemaklike prostese ontvang wat met liefde deur vrywilligers gebrei is.

Ek het self al die hekelnaald opgetel. Maar hoe meer ek die stories van die vroue agter hierdie projek leer ken het, hoe meer het ek besef dat Boesemvriendinne oor veel meer as ’n prostese gaan.

Dit gaan oor die boodskap wat saam met elke pakkie gestuur word. Iemand het aan jou gedink. Iemand het vir jou tyd gemaak. Iemand het vir jou gebid. Iemand wil hê jy moet weet dat jy nie alleen is nie.

Borskanker verander baie meer as net ’n vrou se liggaam

Ons onderskat soms hoe groot die emosionele impak van borskanker is. Wanneer ’n vrou die diagnose ontvang, verander haar lewe binne oomblikke.

Skielik bestaan haar wêreld uit doktersafsprake, behandelings, wagtye en onsekerheid. Daar is vrae waarvoor niemand antwoorde het nie en dae waarop selfs die sterkste vrou moed verloor.

Vir baie vroue is die fisieke behandeling uiteindelik net een deel van die reis. Die groter uitdaging lê dikwels daarin om weer hulself in die spieël te sien en te glo dat hulle steeds dieselfde waarde het as voorheen het.

Ek het al soveel keer gehoor hoe vroue sê dat hulle ná hul operasie gevoel het dat hulle het iets van hul identiteit verloor. Dit laat ’n mens besef hoe diep hierdie pad sny.

’n Tannie met breinaalde word ‘n vrou se Rut

In hierdie donker, moeilike tye, weet ek, sit ’n tannie iewers in Suid-Afrika met ’n paar breinaalde en bolletjies wol.

Sy ken nie die vrou vir wie sy besig is om te brei nie. Sy weet nie hoe oud sy is of waar sy woon nie.

Tog sit sy ure lank en brei of hekel met sorg en liefde. Daardeur sê sy aan die vrou: “Jy is nie vergete nie. Daar is steeds mense wat jou raaksien en saam met jou stap.”

Só word hierdie tannie wat brei of hekel die vrou met borskanker se Rut. Elke steek wat gebrei word, vertel dieselfde verhaal as wat Rut destyds vir Naomi vertel het. Ek sal saam met jou stap!

Deel die artikel

Méér artikels

Wat begin as ’n eenvoudige droom om vroue te bemagtig, kan met geloof, volharding en diensbaarheid groei tot ’n beweging wat hoop bring en lewens ...

Jesus het die vrou met bloedvloeiing nie volgens haar siekte of omstandighede aangespreek nie, maar volgens haar identiteit. Daardie een woord – “dogter” – herinner ...

Scroll to Top