Tracey Lange, ’n gevierde Suid-Afrikaanse TV- en radio-aanbieder, het sedert haar 2012-deurbraak met kykNET se Bravo! ’n geliefde huishoudelike naam geword wat kykers bekoor.
Wat was tot dusver die mees lonende deel van jou loopbaan, en hoe hou jy aan grense verskuif?
Ek sou sê dit moet beslis die geleentheid wees om met soveel verskillende soorte mense te kan gesels. Dit bewys dat almal anders is, en om nie bevooroordeeld te wees nie.
Jy kyk na sekere mense en het die idee dat hulle almal dieselfde is, gegrond op ondervindings of ervarings met ander soos hulle. Dan kom jy mense teë wat net soos hulle lyk, maar hulle wys vir jou dat mense heeltemal anders is.
Dit is ook belangrik om met mense te gesels wat ’n bietjie anders as jy dink, sodat jou kop oopgemaak kan word. Dit is so maklik om net in jou eie kring te bly – jou familie wat presies soos jy dink, jou vriende wat jy kies omdat hulle doen en dink soos jy.
En as jy dit doen, gaan jou kop nooit oop nie. Ek dink jy besef dan nie altyd hoe heeltemal verkeerd jy dalk dink nie.
Dit is een van die beste dele van my werk.
Wat dryf jou om verskillende fasette van die mediabedryf te verken, en hoe balanseer jy die kreatiewe en besigheidskant van jou werk?
Baie mense glo dat kreatiewe mense net soggens wakker word, wag vir inspirasie, en dan spontaan skep. Dit is absoluut ’n leuen.
Jy moet eintlik tyd daarvoor uitmaak. Lysies is vir my baie belangrik. Dis belangrik om tyd in die maand uit te sit en te sê: Vir die volgende uur of twee gaan ek sonder enige afleidings net kyk wat opkom om my kreatiewe kant te voed.
Ek gaan rondstap – sonder enigiets in my ore – net rondkyk en kyk wat gebeur.
Vir my is dit makliker om georganiseerd te wees, want dit maak dit moontlik dat as iets onbeplan opduik, ek dit kan hanteer omdat ek weet wat voorlê. Dis ’n interessante balans.
Ek kry dit nie elke dag reg nie, maar oor ’n maand gesien, seker 90% van die tyd. Die res van die tyd byt ek vas en kyk hoe dit werk.
Deon Meyer, een van my medevervaardigers by Scene23, sê altyd: Almal dink omdat hy ’n skrywer is, wag hy net vir inspirasie. Nee, hy het ’n skedule. Hy word vroeg wakker, ry fiets, drink koffie, en sit dan vir ’n paar uur en skryf. Al weet hy nie wat hy gaan skryf nie – hy skryf net, want iets sal vloei.
Dissipline is bitter belangrik.
Wat was van die grootste lesse wat jy oor liefde en vennootskap geleer het, en hoe hou jy en jou man, Avukile (Avu), julle verhouding sterk?
Ja, ons mag mekaar dalk nie baie sien nie, maar ons máák die tyd. Ons sit dit doelbewus eenkant. Dit was nog van vóór ons getrou is af só. Omtrent ’n jaar nadat ons begin uitgaan het, het ons besef ons kalender is so vol dat ons min tyd saam het.
Toe kom my man by die huis aan met ’n groot wit plakkaat. Elke maand skryf ons alles neer wat moet gebeur. Sy kleur is blou, myne is groen, en wat ons saam doen, skryf ons in oranje. Ons maak ook tyd om net te gesels en op te vang.
Ek dink mense dink dit moet outomaties gebeur – en ja, sekere dinge gebeur spontaan – maar dis belangrik om doelbewus tyd daarvoor uit te sit.
Hy is fantasties om slaggate te identifiseer – om vooruit te kyk as iets nuuts op pad is. Ek is weer iemand met meer vertroue. Ek kry ’n idee en hardloop daarmee – ek glo die slaggat sal omseil word, dan maak ek later ’n plan.
Hy dink vooruit, sien die slaggate en werk planne uit voordat iets gebeur.
Ek glo: As jy jou bekommer oor iets wat dalk nooit gebeur nie, mors jy tyd. Vir my gaan dit oor vertroue en hoe vinnig ek dink ek kan reageer.
Ek het by hom geleer om altyd die beste van mense te glo. Hy glo regtig die beste van almal. Ek is positief, maar as ek sien hoe hy mense benader, dink ek: “Waar kry jy die geloof?”
Watter rol het jou ouers gespeel in die vorming van wie jy vandag is, en is daar spesifieke lesse of tradisies wat jy in jou eie lewe koester?
Ek is absoluut niks sonder my ouers nie. Hoe ouer jy raak, hoe meer besef jy dat sekere lesse deel geword het van jou fondasie.
My ma het my geleer om altyd oë oop te hou vir wonderwerke – die kleinste wonderwerke. Sy is fantasties daarmee om die kleinste ding raak te sien as bewys dat God daar is.
Sy sal haar Bybel oopmaak en sê: “Genugtig, ek onthou daai vers – dis die Bybelvers van die aand toe ek en jou pa verloof geraak het!”
Dit het my geleer om konstant oë oop te hou vir klein dinge. Ek soek nie net die groot goed nie – dis die klein dinge wat daagliks wys dat God daar is. Dit is ongelooflik kosbaar.
My pa het ’n wonderlike balans gehad tussen geloof en Christelike waardes, maar ook om te lag en pret te hê. Om nie elke gesprek oor God te maak nie. Sy geloof was so deel van sy fondasie dat hy dit nie altyd hoef te noem het nie – jy kon dit sien. Dit het gewys: Balans is belangrik.
Nog iets: Ons lag nie vir mense nie. Dis iets wat hulle my sterk geleer het. Ons kan vir onsself lag, selfs spot, maar nooit vir ander nie. As kind kon ek nie hanteer as iemand val en mense lag nie. My eerste gevoel was: “Ek weet hoe seer dit moet wees.”
En dan: Om altyd goed te doen. Selfs in kleinste oomblikke iets goeds doen – en as jy dit kan doen, doen dit sonder om twee keer te dink.
Vertel ons van die moeilikste dag in jou lewe en hoe jy daardie oomblik hanteer het?
Daar was baie moeilike dae. Ek dink nie daar’s net één spesifieke dag wat uitstaan nie. Ek beweeg gewoonlik vinnig aan en kyk nie altyd terug nie. Maar as ek een dag moet uitlig, was dit die dag nadat my pa oorlede is.
Hy het op 30 September gesterf, en sy verjaarsdag was 1 Oktober. Hy was so deel van ons program – nie net agter die skerms nie, maar ’n bekende gesig onder die gaste. Daardie week het ek steeds die program gaan doen.
My ma het gesê: “Dit hang van jou af. Dit hang van hoe sterk jy voel. Maar ek sal sê – doen dit. Doen dit vir jou pa.” Ons was so bevoorreg om hom te hê, en hy was ’n wonderlike man.
So ek het die program gedoen. Ek het verduidelik wat gebeur het en vir almal gesê: “Kom ons gaan net voort.” My ma was steeds daar, die familie steeds betrokke, want ons het daardie aand spesiaal beplan om sy verjaarsdag te vier – saam met hom. En toe maak hy dit nie.
Dit was ongelooflik moeilik, maar ook onvergeetlik. Dit was net God se krag wat my daardeur gedra het, en almal se gebede. Dis presies hoe my pa was. Slegte goed gebeur, maar jy moet vra: Wat nou? Moet ek aangaan? Hoeveel mense word geraak as ek nie?
Ek het aangegaan. En ek is so bly ek het. Daardie dag sal ek nooit vergeet nie.
Op watter manier het humor jou lewe al beter gemaak?
Humor het al menigmaal my lewe beter gemaak. As iemand lelik met my was – reg in my gesig – kon ek dit ontlont deur net te lag. Want ek kon nie glo iemand kan so lelik wees nie!
Die rede is omdat ek self nooit só met iemand sou praat nie. Maar ander mense doen dit, en as jy op daardie oomblik net lag – of vir hulle lag – haal jy die angel uit die situasie.
Hulle het gewoonlik geskrik, en dit het my gered. Dit het gemaak dat ek nie iets leliks hoef terug te sê nie.
Nou, jare later, as ek daardie mense sien, dink ek: “Aha, ek onthou…” Maar ek het niks om oor skaam te wees nie. Ek het niks gesê wat ek moet terugtrek nie.
Die Bybel sê: “Wraak is myne,” sê die Here. Ek het nog nooit gevoel ek moet iets terugdoen nie. Ek weet nie wat in daardie mense se lewens gebeur het nie, maar ek weet dinge is reg aan my kant.
En ek glo dis omdat ek nooit iets terug gesê het nie – ek het net gelag. Lag ontwapen mense en beskerm jouself terselfdertyd. Dit hou jou hart skoon en gee jou vrede.
Hoe beïnvloed jou geloof die manier waarop jy jou werk benader?
Baie mense vra oor die industrie waarin ek werk: “Hoe kan jy nog kerk toe gaan?” of “Hoe verseker jy dat jou waardes nie in konflik kom met jou werk nie?”
Maar die waarheid is: ek het al in verskeie industrieë gewerk. Pas uit hoërskool het ek by ’n prokureursfirma begin werk, later ook in die kleinhandel.
Ek het met mense in uiteenlopende bedrywe gesels, en elkeen kom in ’n stadium waar hulle waardes stoei met omstandighede. Dis nie uniek aan my industrie nie.
Ja, daar is meer stories rondom die vermaakbedryf – dinge is meer in die kollig. Mense sien en hoor meer daarvan. Maar dieselfde gebeur in enige beroep. Dit hang nie van die industrie af nie – dit hang van jou af as mens. Jy moet self besluit waar jy staan.
Ek het van die begin gesê: Ek wil deel wees van hierdie industrie omdat ek glo mense kán anders wees. Ons hoor altyd hoe mense in die bedryf lelik of selfsugtig is. Ek het besluit: Ek wil daardie beeld verander.
Dis nie net in die media nie – dieselfde gesindheid het ek in die regte gehad. Oral waar ek werk, wil ek my lig laat skyn en dinge beter los as wat ek dit gekry het.
Watter persoonlike lewensles sal jy graag wil oordra aan jong vroue wat net so ambisieus is soos jy?
Ambisie en drome is wonderlik – dis fantasties – maar dit beteken niks sonder dissipline nie. Jy moet besluit wat jy wil hê, wanneer jy dit wil hê, en dan moet jy bereid wees om die werk in te sit.
Gebed is ook vir my uiters belangrik. My ma sê altyd: “Maak geen planne sonder die Here nie.”
Ek en my man doen dit elke jaar – ons gaan sit en beplan ons huwelik, en hoe ons verhouding daardie jaar moet lyk. Ons maak die planne, en dan bid ons saam daaroor en vra vir God se hand daarop.
Dit geld presies dieselfde vir jou loopbaan en jou drome – vir enigiets in jou lewe. Sit en maak die planne. Dan, nadat jy beplan het, bid jy daaroor. Vra vir God se hand op dit alles.
Een van my gunsteling-sêgoed is: “My drome is niks in vergelyking met God se planne vir my lewe nie.”
En ek glo dit met my hele wese, want ek het dit al so dikwels beleef.
Jy moet jou planne maak, ja – maar wees ook gereed vir enigiets wat op jou pad kom. Want jy kan weet: God weet al lank van dit en Hy is reeds daar.