Uiteindelik kon ek my droom begin najaag’

Uiteindelik kon ek my droom begin najaag

Daar was ’n droom in DEWALD WASSERFALL se hart. Al wat hy wou doen, was om te sing. Maar niks wat die moeite werd is, kom ooit maklik nie.

Om die droom in jou hart na te jaag

Jy is goed, maar nie so goed nie.” Dit was die baas se woorde. Hy het van my singery gepraat.

’n Goeie pos, maar iets het ontbreek. Ek was glad nie gelukkig nie. My hart het elders gelê. Soos altyd, by musiek.

Die versoek was eenvoudig: ...

Daar was ’n droom in DEWALD WASSERFALL se hart. Al wat hy wou doen, was om te sing. Maar niks wat die moeite werd is, kom ooit maklik nie.

Om die droom in jou hart na te jaag

Jy is goed, maar nie so goed nie.” Dit was die baas se woorde. Hy het van my singery gepraat.

’n Goeie pos, maar iets het ontbreek. Ek was glad nie gelukkig nie. My hart het elders gelê. Soos altyd, by musiek.

Die versoek was eenvoudig: ’n dag af by die werk om te gaan sing in die eindronde van ’n musiekkompetisie waarvoor ek gekwalifiseer het.

“Jy sal maar net ’n keuse moet maak,” was min of meer sy woorde. “Of jy kies om hier te bly … die pad van finansiële sekerheid … die kans om aandele in die besigheid te kry … die gerief van standvastigheid.

“Of,” het hy voortgestoom, “jy jaag hierdie belaglike droom na, wat jou in elk geval nêrens gaan bring nie.”

Die keuse, skielik helder en duidelik.

“Nou maar goed … Lekker dag vir jou ook. Tot siens.”

Met dié woorde stap ek by die kantoor uit. Met ’n groot glimlag en ’n ligte hart. Dit was een van my grootste spronge in geloof. ’n Stukkie getrouheid aan myself. Die waagskoot om die een ding na te jaag waarvoor ’n mens glo jy gemaak is.

Uiteindelik kon ek my droom bewaarheid en aan ’n musiekloopbaan werk.

Ek het my trots in my sak gesteek en op plekke gaan sing waar net ’n handjievol mense opdaag.

Gelukkig kweek passie ook uithouvermoë – ’n uithou en aanhou om jou hart te volg.

Op een so ’n plek was die sanger Theuns Jordaan een van die agt mense in die gehoor. Hy moes seker gehou het van wat hy hoor en sien en het die regte mense in die bedryf gekontak.

Hy het hulle aangeraai om te kom luister, “want hier is talent” – en uiteindelik het die groot deurbraak gekom wat elke moeilike, dapper besluit tot op daardie punt die moeite werd gemaak het.

Moenie toelaat dat moeilike tye jou drome steel nie

Terugskouend word my lewe nogal deur sulke dramatiese oomblikke gekenmerk. En groot, moeilike keuses. Soos die gebeure wat ontvou het toe ek ’n nat-agter-die-ore 17-jarige was.

’n Verlore outjie wat eintlik nog maar niks van die lewe geweet of verstaan het nie. In een dag, stukkend gebreek en platgeslaan.

My ma is oorlede ná ’n lang stryd met kanker en skielik was ek bitter kwaad. Vir die Here, vir die lewe, vir alles.

Haar dood was die einde van ’n baie hartseer, soms frustrerende, hoofstuk. Maar dit was ook die begin van ’n nuwe een, vol hoogte- en laagtepunte. Pynlike lesse en nuwe wyshede.

Al is ons in ’n Christenhuis grootgemaak – vol goeie waardes, altyd betrokke by die kerk – het haar dood my geloof ’n reuseknou gegee.

Daar was baie vrae. Hoekom het Hy haar net weggevat? Waarom moes sy so ly? Hoekom het niks wat ons probeer het, ooit gehelp om haar gesond te maak nie?

Die woede en onbeantwoorde vrae het my in ’n diep gat ingesuig. Vir jare lank.

Dit was donker tye. Daar was baie verkeerde keuses. Slegte dinge. Wêreldse goed waarna ek gegryp het in ’n poging om die verlies en pyn te verwerk. Maar ook die wete: Niks van hierdie goed kan werklik die seer wegvat nie.

Een so ’n dag, op my laagste laagtepunt, het die besef skielik soos ’n lig deur die newels gebreek. In ’n oomblik van helderheid, was die besef daar: Dewald, jy is besig om jouself ernstige skade aan te doen. Om só aan te gaan, gaan jou dood beteken.

En toe, kom die kopskuif. Noem dit die Heilige Gees, of my gewete, of die stemmetjie in my hart … Die feit is, ek het net daar ’n besluit geneem: tot hier toe en nie verder nie.

Die Here maak ons elkeen met ’n doel

Ek is steeds besig om die paadjie na ’n ware, beter self uit te kerf. Om nuwe uitdagings aan te gryp, op my eie voete te staan en nie te verval in gemaksones wat uiteindelik tot ongelukkigheid lei nie.

Hierdie soort besluite sal seker nog ’n paar keer vorentoe geneem moet word: om dapper te wees en weg te stap, eerder as om in ’n situasie te bly wat nie meer innerlike geluk bring nie.

Geluk. Dis so ’n gelaaide woord. Vir my beteken dit die teenoorgestelde van geld najaag. Om iets te doen wat inherente vrede en vreugde bring, selfs al word jy nie daarvoor vergoed nie.

In my lewe was daardie “iets” nog altyd musiek. Dis ’n taal wat almal verstaan.

Musiek kan mense uit die slegste dag van hulle lewe ruk en op ’n beter plek neersit. Dit kan jou dinge laat onthou of na plekke meevoer wat spesiaal was.

Moenie die tyd tot jou beskikking mors nie. Gebruik dit om die dinge te doen waarvoor jy lief is; die goed waarvoor jy gemaak is.

So amper het ek ge-“settle” vir ’n “veilige” werk, en die een ding gemis wat vandag waarskynlik my roeping is. Om mense se lewens deur musiek aan te raak.

Soms voel ek steeds soos die grootste stuk gemors op aarde en wil dan sommer ophou sing, maar dan gebeur die “magic”. Net één persoon kom vertel dat ’n liedjie – iets wat ek geskep het – hulle lewe aangeraak het.

Dis so ’n fantastiese gedagte! Dan weet ’n mens net weer: “Your design defines your purpose.”

Ek glo die Here maak ons elkeen met ’n doel, en die unieke manier waarop jy ontwerp is, bepaal daardie doel.

Vir my beteken ’n geloofsprong om doelbewus die dinge na te jaag wat jou van binne gelukkig maak.

Die pad na sukses is nie altyd maklik nie

Die maklikste manier om te misluk, is om mense gelukkig te probeer hou. Dit gaan nie gebeur nie. Nie almal kan of gaan van jou hou nie – jy is nie ’n koeksister nie.

Maak eerder vrede met wie jy is, leer uit jou foute en werk aan jou tekortkominge, dan gebeur die res vanself.

Iets wat ook keer op keer uitstaan, is hoe ’n mens nooit jou paadjie alleen hoef te stap nie. Dis asof die Here elke keer iemand vir my stuur, ’n rigtingwyser, ’n oop deur, wat my help.

Ek is nie die wêreld se beste voorbeeld van ’n Christen nie, maar een ding is seker: Wanneer jy deur diep water gaan, ontmoet Hy jou ook daar.

Selfs in die donkerste gat was ek nooit alleen nie. Dit was amper asof ek daar móés wees, met ’n rede.

Nog elke keer was die besef daar: Dewald, jy is nie alles nie. Ook nie untouchable of regtig in beheer nie.

Dit maak ’n mens dankbaar vir daardie kere wat die lewe jou in ’n swart gat laat val, want ek het beter, ligter en wyser anderkant uitgekom.

Maar as ’n mens glo dis jou ding, moenie opgee nie. Mense is meer geneig om te sê hoe iets nie gedoen kan word nie, as om ander aan te moedig om dit wel reg te kry.

Moenie dat mense jou onderkry nie. Hulle weet niks. Sukses hang van jouself af.

Weet ook as jy regtig hard genoeg in iets glo en kies om te spring, moet jy voorbereid wees vir die feit dat die pad gewoonlik nie soos ’n maklike, gerieflike roete gaan uitstrek nie.

Dit verg eers harde werk, klippe kou, vasbyt en moeilike besluite neem voordat jy by die lekker uitkom.

En gelukkig los Hy jou nooit alleen nie.

“Moenie die tyd tot jou beskikking mors nie. Gebruik dit om die dinge te doen waarvoor jy lief is; die goed waarvoor jy gemaak is.”

Deel die artikel

Méér artikels

As jong meisie het sangeres en TV–aanbieder ROUCHELLE LIEDEMANN se swak selfbeeld haar lank gekeer om haar drome uit te leef. Vandag leef sy in ...

SOEKIE KROG van Radikids-faam het al haar kwota swak besluite geneem, maar dit het haar die vermoë gegee om vandag beter keuses te kan maak. ...

Scroll to Top