Albei was op die randjie van die dood. WYNAND en LINDI DELPORT van die destydse musiekgroep Anders. Man en vrou kan getuig … Wonderwerke gebeur vandag nog.
Die keuse-oomblik wat Lindi in wonderwerke laat glo het
“Wat gaan aan, Pa?” Dinge was nie meer dieselfde by die huis nie. Hoekom nie?
“Ek het lief geword vir ’n ander vrou,” het hy stilweg gesê.
Daardie selfde aand nog is ons bymekaargeroep en ingelig.
“Ons het besluit om te skei.” Daar was nie ’n mooi manier om die slegte tyding oor te dra nie.
Ek het die volgende oggend met dikgehuilde oë skool toe gegaan. Die wêreld het in een oomblik inmekaargestort, my ingebore lewensblyheid het verdamp.
Die warmte van ons hegte gesin was yskoud en klinies uitmekaargeskeur.
En wanneer dit alleen en stil was, het die stemme gekom. Dit was amper hoorbaar in my kop: Jy is nie goed genoeg nie. Jy hoort nie op die aarde nie. Jy is niks!
’n Sielkundige het hierdie verskriklike gevoel ’n naam gegee. “Jy het depressie, in ’n baie erge graad.”
Medikasie kon help, ja, maar ek wou niks daarvan weet nie. Die besef was net daar: In jou geval is hierdie ’n geestelike stryd. ’n Stryd wat ek graag saam met die Here wou aanpak.
Die Bosveldwegbreeknaweek saam met my sussie-hulle kort daarna was pure genade.
Dit was skemeraand toe ek alleen tot bo-op ’n heuwel klim om na die sonsondergang te kyk. Al biddend en smekend teenoor die Here: “Vat asseblief hierdie depressie weg. Asseblief!”
En daar, in die stilte en grootsheid van die natuur, was dit skielik asof my ore oopslaan. Asof die Here self die woorde in my hart kom lê: “Jy kan genees word. Maar jy sal moet wíl.”
Dis reg, Here. Natuurlik wil ek! En daar, op die bultjie onder die sterrehemel, word die besluit geneem om gelukkig te wees. Om teen die hartseer Sý beste vir my lewe te kies.
Dit was ’n keuse-oomblik waarin alles verander het. ’n Wonderwerk.
Wynand vertel van die onmoontlike wat moontlik geraak het
Dit het alles op ’n gewone wasdag begin. Ma sê ek wou blykbaar net help. Sy het die hele oggend gestaan en doeke skrop, in een van daardie groot, blou doekemmers van ouds.
’n Klein bietjie water, skaars ’n duim diep, het in die bodem agtergebly. En toe lui die foon, slegs ’n paar meter weg.
Ma het aanhou gesels, en baba het naderhand stil geraak. Toe sy omdraai om te kyk wat aangaan, kom die skok van haar lewe.
Die kind het koponderstebo in die emmer gehang. Gesig in die klein bietjie waswater. Waarskynlik oorgekantel, en toe verdrink. Lyfie al blou. Geen pols of asemhaling nie. Dood!
Die lewelose lyfie is op die gras neergelê. Mond-tot-mond-asemhaling probeer, maar niks wou werk nie.
Toe begin Ma bid. So vurig dat ek blykbaar self begin asemhaal het, maar die gevaar was nog lank nie verby nie.
Mense sê soms dokters gee net slegte nuus. Eintlik dra hulle net die harde feite oor. “Julle seun gaan ongelukkig algehele breinskade hê. Hy gaan waarskynlik blind en verlam wees, en dalk nie kan praat nie. Baie jammer, maar daar is niks wat ons kan doen nie.”
My ouers was verpletter. Tog waar daar hoop is, is daar ’n uitweg.
’n Dag of wat later het my toestand halfpad verbeter. Ná ’n week het die ander helfte van my lyf ook begin saamwerk.
Dit was tyd om die masjiene te ontkoppel, maar ’n ouer moes teenwoordig wees. Pa het hierdie verantwoordelikheid op sy skouers geneem en langs die bed kom staan.
Toe gaan my oë oop en die eerste woord wat uitkom, is: “Daddy.” Die tweede woord: “Eina.”
Pandemonium het losgebars in die hospitaalgange. Want wat gebeur het, was onmoontlik! Klein Wynandjie moet dan sonder woorde, gevoel of verstand wees.
Wat so pas gebeur het, was ’n wonderwerk!
Die wonder van saamwerk en saamsing as ’n egpaar
“Ons was nie in dieselfde skool nie, maar het in die kerk ontmoet. In dieselfde jeugorkes,” vertel Wynand. “Sy het my oog gevang soos ’n mooi blink dingetjie ’n kraai se aandag trek.”
“Maar dit was nie vir een van ons liefde met die eerste oogopslag nie,” onthou Lindi. “Eerder twee mense wat lank mekaar se geselskap as vriende geniet het, en toe stelselmatig verlief geraak het. Dit is seker een van die beste maniere om ’n verhouding te bou. Met tyd en vriendskap as basis.”
Vir Lindi lê die geheim van liefde daarin om iemand se binneste goed te leer ken. “Ek het op Wynand se hart verlief geraak. Selfs vandag nog, in daardie oomblikke wanneer ek so kwaad raak dat ek hom met ’n pan kan bykom, kan ek my steeds nie die lewe sonder hom indink nie,” sê sy laggend, en knipoog vir haar man.
So lekker soos hulle kan saamwerk en saamsing, so menslik is hulle ook.
“Dis waar ja, maar in ons huwelik gaan dit nie oor ek en jy teen mekaar nie,” verduidelik Wynand. “Eerder: Ek en jy sáám teen die probleem. Soos hierdie woorde dit stel: ‘Saying sorry does not always mean I was wrong. It simply means I value the relationship more.’” Die verhouding is belangriker as wie die geveg wen.
“As iets pla, los ons dit op. Dadelik,” beaam Lindi. Dis ’n vennootskap van gee en neem. ’n Aanslag wat hulle vandag ’n gedugte span op die verhoog maak. Twee mense wat saam hulle roeping uitleef: om siele te wen en lewens te verander deur musiek.
Twee lewens wonderbaarlik gespaar om ’n verskil te maak
“Ons was nog jonk getroud, by ’n kerkdiens, toe die pastoor praat oor die deel waar die Here sê: Wees heilig, want Ek is heilig,” vertel Lindi. “In die vertaling wat hy gebruik het, is die woord ‘anders’ in plaas van ‘heilig’ gebruik. Dus: Wees anders, want God is anders.”
“Ons het dadelik daarby aanklank gevind,” sê Wynand, “en het net daar besluit dit is hoe ons ook wil wees. ’n Mens hoef nie noodwendig vir ander te sê jy is ’n Christen nie, hulle moet dit in jou lewe kan raaksien.
“Mense moet kan sien daar is iets wat in jou lewe skyn, wat jou ‘joyful’ en anders maak. Dan kom hulle na jou toe met oop harte, en dan is die geleentheid reg om jou geloofstorie te deel.
“Dit wat ’n mens doen, dra baiemaal meer gewig as dit wat jy sê,” som Wynand op. “Mense moet kan sien daar is iets anders aan ons, en daardie ‘iets’ moet Jesus wees.”
“Om anders te wees, beteken vir my om Sy beloftes en manier van doen na te volg, ongeag die omstandighede of hoe die wêreld voorskryf,” sê Lindi. “So is ons byvoorbeeld met almal in die bedryf vriende. Ons is ‘loud’, lag graag en hou van pret.
“Maar kernwaardes soos respek, onvoorwaardelike liefde, om nie te oordeel nie en om Hom die middelpunt van ons loopbaan en gesin te maak, bly die belangrikste.”
So, wie is Wynand en Lindi van Anders? Twee sielsgenote, passievol oor musiek. Twee lewens wonderbaarlik gespaar. Een doelwit voor oë.
Om in alles wat hulle aanpak, hulle bes te gee – in geloof, met die regte gesindheid, en dan op God te vertrou vir die res. Selfs al is dit deur lewe en dood, voorspoed en teenspoed.
“Want Hy het ons nog nooit in die steek gelaat nie.”
“Om teen die hartseer Sý beste vir my lewe te kies. Dit was ’n keuse-oomblik waarin alles verander het. ’n Wonderwerk.”