Aktrise REANDI GREY het by die Oulike Ma-bederfdag ma’s aangemoedig om normaal te laat gaan en ouerskap as ’n avontuur te geniet. Vier jou kind se uniekheid en ontdek die vreugde van kreatiewe, vrye ma-wees.
Om ma-wees te geniet benodig jy God en kreatiwiteit
Die belangrikste van alles is jou kind pas glad nie in ’n boksie nie, en dit is oukei. Vergeet van wat as normaal beskou word en geniet eerder die avontuur van “ma-wees”.
Die Here verwag nie dat ons ons kinders perfek grootmaak nie. Hulle kom wel perfek hier aan. Al wat tel is dat ons kinders lief is vir die Here.
Dit beteken nie ons maak vervelige kindertjies groot nie. Ons het dan hierdie Bron van onuitputbare krag en energie en lewe en lig en liefde en positiwiteit.
Ek sê nie niks gaan verkeerd loop nie. Ek sê as iets verkeerd loop, dan het jy die hulpbronne om dit beter te hanteer.
Volgens my het jy twee dinge nodig om ’n baie goeie dag te hê: God en kreatiwiteit.
God: want as iets verkeerd loop, gaan Hy jou die selfvertroue gee om jou kreatiwiteit te kan gebruik om jou probleem op te los.
En waar begin kreatiwiteit?
Dit begin by die huis.
Ons moet ons kinders by die huis leer om kreatief en verbeeldingryk te wees, want die wêreld gaan dit nie vir hulle leer nie. Die wêreld wil nie hê ons moet vir onsself dink nie.
Dink aan ’n speelgoedwinkel. Stap jy nou in die winkelgang af en lees op die verpakkings, het 99% instruksies op.
Hoe wil jy vir ’n kind sê hóé hulle moet speel? Instruksies is daar om ons veilig te hou, ek verstaan dit, maar hoekom voer die wêreld ons met ’n lepel?
Om deur hierdie lewe te kom en suksesvol te wees en te floreer, moet jy verbeeldingryk en kreatief wees.
’n Huis kan nie net ’n plek wees waar kinders slaap en eet nie.
Laat jou kind wees wie hulle wil wees
’n Huis moet ’n plek wees waar ons hulle die vryheid gee om te wees presies wie hulle wil wees en presies wat hulle wil wees.
Partykeer stres ons so baie oor alles dat ons hierdie vryheid van hulle wegvat.
Ons moet besef hoe belangrik dit is dat ons ons kinders grootmaak met vryheid om te wees wie hulle wil wees.
Ek het amazing ouers gehad. Hulle het my toegelaat om my eie klere te maak, met daai weird goed partytjies toe te gaan en die huis te verlaat en rêrig te wees wie ek is.
Ek kon drie keer ’n week my kamer skuif, my mure verf en as ek by die huis kom dan nog ’n wasbak ook verf. They let me do it. Want hulle het geweet as ek dit nie doen nie, onderdruk dit wie ek is.
MGeniet die avontuur van ouerskap saam met jou kind
In ons huis probeer ons rêrig om ons kinders te inspireer en te motiveer om kreatief en verbeeldingryk te wees. Daar is ’n paar dinge wat vir ons werk.
Die eerste een is om waardes bo reëls te stel. Want hoekom kom ’n kind ’n reël na?
Eintlik om jou tevrede te stel.
Maar as hulle waardes het, dan beteken dit daar is ’n hele nuwe wêreld wat vir hulle oopgaan, want hulle kan self besluit wat hulle gaan doen en self besluit hoe hulle die probleem gaan oplos.
Die tweede een is om hulle karakter te prys en nie net hulle optrede nie. Ons besef nie hoeveel woorde ’n verskil in ons kinders se lewe kan maak nie.
Dan deur aanvaarding. Om te aanvaar wie hulle is en hulle die vryheid te gee om te wees wat hulle is. En dan moet jy hulle toelaat om ook foute te maak.
Om ’n ma te wees, is die grootste avontuur wat ek nog beleef het.
Maar kan julle dink hoe ’n groot avontuur dit vir die kind is?
Dit is so ’n groot avontuur en as ons hulle in ’n boks druk om groot te maak soos wat die buurvrou haar kinders grootmaak, ontneem ons hulle van die avontuur en steel van hulle. En dit is vir my die geheim vir ’n gesonde verhouding tussen ma en kind: Om daai avontuur net te omarm.
Laat hulle net leef.
So, ek wil vandag vir julle vra: Is julle kinders gelukkig? Staan hulle op met ’n glimlag op hulle gesig, ’n lied in hulle hart en ’n lus vir die lewe?
Dan kry jy dit reg!
Hoe jy daai glimlag daar kry en hoe jy daai lied in die hart kry, maak nie saak nie.
Solank hulle happy is, is dit al wat tel.