Lewensafrigter MARLET TROMP verduidelik dat ons verwagtinge kan vervul deur dit te verander in ’n doelwit met ’n definitiewe plan van aksie.
’n Verwagting is ’n wens wat ons wil vervul
Dink jy dis goed om verwagtinge te hê of nie? Weet jy watter verwagtinge jy het?
’n Verwagting is ’n wens wat ons vervul wil sien. Ons verwag ander mense moet optree soos ons wil hê. Maar ons beheer nie ander mense nie. Hulle kan optree soos hulle wil.
Hulle weet meestal nie eens wat ons van hulle verwag nie, want ons sê hulle nie.
Dit loop natuurlik uit op teleurstelling, want daar word nie aan die verwagting voldoen nie.
Wanneer ons verwagtinge van iemand anders het, impliseer dit dat ons daardie persoon nie onvoorwaardelik aanvaar nie. Verwagtinge en aanvaarding staan dus teenoor mekaar.
Ons “sien” net ons verwagtinge en sien nie die ware mens in die ander een raak nie. As ons ons verwagtinge kan elimineer, sal ons die ander persoon en wie hy of sy is regtig raaksien en so aanvaar.
Twee mense wat op trou staan, is ’n goeie voorbeeld van verwagtinge wat gestel word. Die vrou dink sy trou met die wonderlikste man. Sy verwag hy gaan haar elke Vrydagaand uitneem, kom kyk hoe sy netbal speel op Saterdag, en Sondag kan hulle by haar ouers gaan eet.
Die man dink hy trou met die wonderlikste vrou. Hy verwag sy gaan Vrydagaande saam met hom braai, op Saterdae saam met hom rugby kyk, en Sondae gaan hulle by sy familie eet.
Drie jaar later skei hulle en beskuldig mekaar: “Jy is nie die mens met wie ek getrou het nie.”
Het hulle met mekaar getrou of het hulle met ’n stel verwagtinge getrou? In plaas van die mens self het hulle net hulle verwagtinge raakgesien.
Ons is mense en dis eintlik onmoontlik om nie verwagtinge te hê nie. Hoe nou gemaak daarmee? Jy kan verwagtinge op een van twee maniere hanteer.
Eerstens kan jy dit wat jy van ander verwag eerder self doen. Op dié manier kry jy wat jy wil hê en, belangriker, vermy jy teleurstelling.
Hier is ’n voorbeeld: Jy wil hê jou man moet elke Vrydag vir jou tien rooi rose koop, maar die arme man weet dit nie eens nie.
Neem beheer oor dit wat jy verwag
Die selfdoenmetode werk so: Jy koop elke Vrydag vir jouself tien rooi rose. Jy kry wat jy wil hê en jou verwagting, wat op teleurstelling uitloop, word uitgeskakel.
’n Tweede opsie is om met die persoon van wie jy iets verwag te “onderhandel” tot daar ’n “kontrak” is.
Onthou net dat onderhandeling gee en neem impliseer. Soms kry jy alles wat jy wil hê, soms net ’n deel daarvan en soms selfs niks. Die belangrikste punt is dat die verwagting uitgeskakel word en jy presies weet waar jy staan.
Neem weer die voorbeeld van die rose. Die vrou gaan na haar man toe en sê sy wil graag hê hy moet elke Vrydag vir haar tien rooi rose gee. Miskien sê hy ja of dat hy dit net elke tweede week sal doen. Dalk sê hy dat hy dit beslis nie gaan doen nie.
Wat ook al die uitkoms is, dit is die kontrak. Die vrou weet wat sy gaan kry of nie gaan kry nie. Sy kan nie teleurgestel word nie, want die verwagting is nou ’n kontrak.
Die gebruik van hierdie tegniek is daarop gemik om jou te bemagtig en jou tot aksie te laat oorgaan. Jy wag nie vir mense om dinge vir jou te doen waarvan hulle in elk geval nie eens bewus is nie. Jy tree self op om te kry wat jy wil hê.
Wanneer ons verwagtinge van onsself het, is dit steeds verwagtinge, maar ons het self beheer daaroor. Die oomblik as jy jouself teleurstel, gaan sit en dink en identifiseer jou verwagting.
Sodra jy die verwagting geïdentifiseer het, probeer dit omsit in ’n doelwit. Skep vir jou ’n bevestigingsmantra (affirmation) wat met jou doelwit verband hou. Hierdie mantra moet geformuleer word asof jou doel al reeds bereik is.
’n Verwagting van die self is binne ons eie beheer. Ons kan die verwagting vervul deur dit te verander in ’n doelwit met ’n definitiewe plan van aksie om dit te bereik.