Dit is nie nodig om te wag vir ’n spesiale geleentheid om met ’n glansende voorkoms te spog nie, het CINDY NELL–ROBERTS tydens die Nuwe Jy–fees gesê.
Wees elke dag jou mooiste en beste self
Toe ek aan Mej. Heelal deelgeneem het, was daar ’n reusespan wat my vir die kompetisie moes regkry.
Ek het eendag vir my chaperone gevra: Hoe weet ek watter uitrusting ek op watter dag dra? Hou ons die beste uitrusting vir die laaste dag? Of dra ek dit nou vir ’n spesiale partytjie?
Hy sê toe vir my: Cindy, jy dra altyd jou beste uitrusting die eerste dag. Môre worry oor homself.
Begin só. Daag só op vir jou eie lewe: Dra jou mooiste pakkie. Wend jou mooiste grimering aan. Dra jou mooiste uitrusting. Stileer jou hare op hul mooiste. Daag elke dag op as jou beste self.
Waarvoor wag jy? Om daardie mooi uitrusting te dra? Daardie grimering te doen? Daardie hare te doen? Om daardie spesiale ding te doen?
Doen dit nou, elke dag, want dit het ’n reuserimpeleffek op jou lewe. Dra elke dag jou mooiste rok. Wees elke dag jou mooiste self. Wees elke dag jou beste self.
Ek weet baie vroue het kinders en dis baie moeilik om elke dag jou beste self te wees en versorg te wees, maar probeer. Ek probeer, en elke dag begin ek oor as ek misluk. Dan probeer ek môre weer.
Vroue maak gereeld verskonings. Ek hoor baie ek is te oud om …
Dit is lankal nie meer ’n verskoning nie. Daar is duisende vroue wat dit reeds vir ons bewys het.
My 60-jarige vriendin het pas met ’n modelloopbaan begin. Sy het besluit sy gaan nou gewig verloor en modelwerk doen. Kan jy dit oorvertel? En sy is ongelooflik. Nou spog sy nie net met ’n veldtog nie, maar ook agente.
Maya Angelou wys vir ons jy kan ’n modelloopbaan op 50 begin.
Klein veranderinge aan jou grimering kan jou beeld transformeer
’n Rooi en koraal lip kan jou saam met ’n mooi serp verander in die elegantste vrou wat jy jou kan verbeel. Jy is nooit te oud vir ’n rooi of koraal lip nie.
Jy is nooit te oud vir vals wimpers nie. Ons doen al die makeovers op Minki en Vriende – die vroue is nie spring chickens nie. Dan sit ons vals wimpers aan en baie sê dat hulle nog nooit ’n vals wimper gedra het nie. Hulle sien hulleself dan ná die tyd en dink: Sjoe, ek lyk ongelooflik.
Vertrou in jouself dat jy dit steeds het. Jy het dit, girl! Jy moet net hierdie ek-is-te-oud-besigheid los.
Ek hoor baie met grimering: Ek is te oud vir nuwe kleure op my oë. Daarmee sê ek nie sit ewe skielik blou oogskadu op nie, maar probeer ’n gekleurde oogomlyner in groen of navy. Klein goedjies kan jou regtig ’n hupstoot gee.
Probeer dit net. Wat het jy om te verloor?
Daar is honderde vroue wat presies daardie ding gedoen het wat jy sê jy is te oud voor. Jy is beslis nie te oud vir ’n nuwe jy nie!
My ma het 13 kilogram verloor. Sy het net besluit sy gaan. Ook nie met ’n vreeslike gesing en ’n gedans of ’n aankondiging nie. Sy het besluit sy gaan baie meer gefokus wees met wat sy met haar lewe doen. En daar het sy dit nou gedoen.
Jy kan oor begin. Jy kan voor begin. Jy kan verbeter en jy kan jouself nuwe lewe gee. Jy kan op enige ouderdom op jou beste voel!
Máár ’n groot droom het ’n plan nodig, want anders het jy net hierdie droom, maar dit gebeur nooit.