[VIDEO] MANDI BAARD gesels oor onvrugbaarheid en vriendskap

MANDI BAARD deel haar eerlike reis deur onvrugbaarheid, geloof en hoe vriende en familie haar krag gegee het om aan te hou glo.

Teen 42 het ek al my deel van struikelblokke beleef. As ek terugdink aan die dag toe ek gehoor het ek gaan ’n ma word, onthou ek net so sterk die tyd voor dit – toe alles hopeloos en moedeloos gevoel het. Ek het soveel mediese behandelings probeer, ek het gebid, ek het hoop vasgehou … maar steeds wou dit nie gebeur nie. Selfs die mees gevorderde prosedures het misluk. Op ’n stadium het ek gevoel ek het niks oor om aan vas te hou nie.

Wat my deur daardie donker dae gedra het, was die mense rondom my – familie, vriende en ons gemeenskap. Sonder hul onvoorwaardelike liefde, hul gebede en hul ondersteuning, sou ek waarskynlik nie die krag gehad het om aan te hou nie. Hulle het my gedra toe ek self nie meer krag gehad het nie. Uiteindelik het ek die wonder van daardie positiewe uitslag beleef.

Vriendskap beteken vir my lojaliteit en vertroue. Dis die vriende by wie jy veilig voel, wat nie net in die mooi weer by jou is nie. Hulle is bereid om eerlik te wees, selfs om te sê: “Ek stem nie saam nie.” Hulle hou jou verantwoordbaar, maar doen dit met liefde en deernis. Hulle luister nie net nie – hulle dra jou hart saam met jou.

My pa het altyd gesê: “Jou reaksie verander nie die situasie nie.” Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe waar dit is. Ek hoor steeds sy stem in my kop – veral wanneer ek moedeloos of kwaad voel. Dit herinner my om asem te haal en te vra: “Wie wil ek in hierdie situasie wees?” Dit is raad wat ek daagliks toepas.

Deel hierdie inhoud:

Meer Video's

Scroll to Top