[VIDEO] MICHELLE SPIES │ My gestremdheid is deel van God se plan

MICHELLE SPIES is amper heeltemal blind, maar tog het sy al twee Comrades-ultramarathons voltooi. Sy sien haar gestremdheid as deel van God se plan.

As kind was ek lief vir sport, maar teen agt kon ek nie meer die bal sien nie. Niemand wou my kies vir hulle span nie, so ek moes hardloop. Gelukkig was ek nog altyd lief daarvoor.

Toe ek ouer word, het dit meer vir my beteken. Dit is ’n ontsnapping en tyd saam met die Here. Om in die natuur te wees, laat my die naaste aan die Here voel.

Die een silwerrandjie van nie kan sien nie, is dat alles vir my mooi lyk as ek hardloop. Ek sien nie die dooie blare, rommel langs die pad, of slaggate nie, wat nie altyd lekker is nie. Boonop het ek my beste vriende op die pad ontmoet. Ek sê elke dag vir die Here dankie dat ek kan hardloop.

Ek weet nie wat ek sou doen sonder hardloop in my lewe nie. Dit is terapie, ’n ontsnapping, ontlading, en tyd saam met die Here.

Ek het besef dat my gestremdheid nie ’n beperking is nie, maar eerder ’n unieke aspek van my lewensdoel.

Ná ’n wedloop het iemand vir my gesê: “Jy is so ’n inspirasie.”

In daardie oomblik het ek besef dat ek ander kan inspireer. Wat is ons grootste doel op aarde? Is dit nie om die Here se koninkryk te laat groei nie?

As my storie net een persoon kan inspireer nadat hulle die wonderwerke sien wat die Here in my lewe gedoen het, en hulle na Sy koninkryk lei, dan is ek bly dat ek nie kan sien nie.

Deel hierdie inhoud:

Meer Video's

Scroll to Top