Daar is ’n duidelike verband tussen hoe jy voel en jou algemene gesondheid. Voel daarom goed oor wie jy is. As jy jouself as positief en suksesvol sien, is die kanse goed dat dit sal volg.
Jou kultuur en agtergrond is ’n belangrike aspek
Sodra jy met mense praat oor wie hulle is, kom die vraag op waar hulle vandaan kom en aan watter groep en kultuur hulle behoort.
Kultuur en agtergrond is een van die lense waardeur jy na ander kyk. Wees sensitief daarvoor, en ook vir die feit dat hulle ook vanuit hulle kultuur en agtergrond na jou kyk.
Jou agtergrond is belangrik omdat dit jou help vorm het. Jou familie is seker die groep wat jou die meeste beïnvloed. Jy sal telkens jouself dinge hoor sê wat jy eintlik deur jou familie aangeleer het.
Moenie dit alles net weggooi nie. Moet ook nie jou agtergrond en die kultuur waarin jy grootgeword het, probeer vergeet nie.
Hoewel jy deur jou kultuur, familie en agtergrond beïnvloed is, het jy ’n keuse wat om daarmee te maak. Soek die boustene vir jou identiteit uit, herwaardeer dit en wees wie God jou bedoel het om te wees.
Kies ’n beroep wat vir jou bevredigend is
Jou werk of beroep is een van die dinge waaroor jy ’n keuse het. Jy kan van beroep te verander as jou huidige werk nie vir jou werk nie.
Jy definieer jou identiteit ook vanuit jou beroep. Jou beroepsidentiteitlaat jou ervaar jy is iemand wat eiewaarde het en waarde kan toevoeg. In geen beroep is alles perfek nie. Tog laat jou entoesiasme oor jou werk jou weer en weer aangaan en die swaar tye ook hanteer.
Dis van wesenlike belang dat jou beroep iets van jou binnekant moet resoneer. Jy gaan ’n swaar lewe tegemoet as jou beroepsidentiteit haaks is met jou selfidentiteit.
Normaalweg is ’n persoon se professionele beroep ’n deel van sy lewe sekondêr tot ander lewensterreine. Tog is die skeidslyn tussen jou professionele rol en jou private lewe nie altyd so duidelik nie. Daarom moet jy seker maak dat jou beroep bevredigend moet wees, want dit beïnvloed jou private lewe.
Goeie verhoudings maak jou gelukkig en gesond
Verhoudings is op alle vlakke noodsaaklik. In die besigheidswêreld of met gesamentlike projekte word vennootskappe gesluit. In liefdesverhoudings word elkeen ’n liefdesmaat vir die ander. Verhoudings is die hart van vriendskappe.
Daarom is dit uiters nodig om te werk in die rigting van fantastiese verhoudings waar elkeen gerespekteer word vir wie julle is en julle mekaar se identiteit help opbou. Soek doelbewus mense wat jou energie versterk en jou opbou.
Smee ’n band wat met elke verdere kontak dieper gebou word op die basis van respek en vertroue. Moenie jou laat aftrek deur mense wat giftig van geaardheid is nie. Vermy diegene wat gereeld jou positiwiteit dreineer.
Bring meer tyd deur in die geselskap van mense wat jou verryk en met wie jy ’n langtermynverhouding kan hê. Moenie so min van jouself dink dat jy nie nee kan sê vir verhoudings wat nie opbou nie. Jy het ’n keuse.
Aanvaar verantwoordelikheid en neem beheer oor jou optrede
Selfbestuur is die funksie wat jy het om jou op koers te hou met jou identiteit en jou roeping.
Om emosioneel intelligent te wees is ’n groot bate vir selfbestuur. Deur jou eie emosies te verstaan en te bestuur, bestuur jy jouself in die rigting van die beste moontlike jy.
Besluit wat is jou prioriteite. Kyk of jou emosies in harmonie daarmee is. As jy emosies ervaar wat vir jou vreemd is of nie by jou prioriteite pas nie, moenie dit ontken nie. Só kan jy op die werklike beweegrede vir die emosie afkom en dit aanpak.
Selfbestuur is eintlik impuls-bestuur. Dis om die impulse wat jy ervaar, te beheer sodat dit jou nie dinge laat aanvang waaroor jy later spyt is nie.
Vra jou af: Pas hierdie impuls by my waardes? Indien nie, wat is die regte ding wat jy nou moet doen al voel jy nie lus daarvoor nie? Doen dit dan.