Wat die Bybel sê oor ... Genade

Wat die Bybel sê oor … Genade

Elke dag bring nuwe genade. Om te weet dat ek níks verdien nie, maar álles het, is God se vrye guns vir my lewe. Dit is ’n liefde sonder prys, diep uit die hart van God. 

Alles wat ek is en het, is net genade 

As ek in die oggend wakker word, is ek so dankbaar dat ek op die “wakkermaak-lys” was. Dankbaar dat ek my oë kan oopmaak en ’n volgende asemteug kan neem. Ek weet: Ek mag wees wié ek is, omdat ’n genadige God is Wie Hy ...

Elke dag bring nuwe genade. Om te weet dat ek níks verdien nie, maar álles het, is God se vrye guns vir my lewe. Dit is ’n liefde sonder prys, diep uit die hart van God. 

Alles wat ek is en het, is net genade 

As ek in die oggend wakker word, is ek so dankbaar dat ek op die “wakkermaak-lys” was. Dankbaar dat ek my oë kan oopmaak en ’n volgende asemteug kan neem. Ek weet: Ek mag wees wié ek is, omdat ’n genadige God is Wie Hy is.  

Deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal; eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is. (1 Korintiërs 15:10) 

Dis nie nodig om op sosiale media, vanaf preekstoele, verhoë en ander platforms myself te “bemark” nie. Ek kan bloot vashou aan die vertroue dat genade (die vermoë van God) binne-in my genoeg is. Dit sal my bring waar ek moet wees.  

Genade is die krag van die Heilige Gees wat in en deur my werk. Dit lei my om dinge wat voorheen onmoontlik gelyk het, sonder moeite en stryd te doen.  

Dit gaan nie net oor wat ék wil hê of wat ék wil bereik nie. Ek is mos nie bedoel om net my eie lig te laat skyn nie. Deur genade se krag kan ek God se lig weerkaats.  

Alles wat ek is en het, is te danke aan Hom. Ek rus in Hom en dit maak my nederig. 

Genade is God se krag in aksie 

Weet jy dat daar niks is wat jy kan doen wat maak dat God jou liewer sal hê nie? Net so is ook geen sonde erg genoeg, of tye in jou lewe so donker dat dit kan veroorsaak dat Hy jou minder liefhet nie.  

My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. (2 Korintiërs 12:9) 

Dít is God se genade – guns in ons lewe sonder dat ons dit verdien. Hierdie genade is nie eksklusief nie. Dit is ’n geskenk beskikbaar vir elkeen wat God vra om te help, en glo dat Hy kan en sal.  

Ons almal het soms moeilike dae wanneer dit voel of ons dit nie gaan maak in dié omstandighede nie. Dit is nie iets wat ons kies of waarvoor ons vra nie. Tog gebruik God dit dikwels om ons geloof en karakter te bou.  

Juis in hierdie tye, wanneer ons swak, moeg en hopeloos voel, het ons God se genade (krag van Sy omgee) so nodig.  

Genade versterk ons om deur daardie swaar tye te kom. Só laat dit ons met geen twyfel oor hoe groot en goed God vir ons is nie.  

God se genade verander, vertroos en versterk 

Ons verstaan nie altyd hoekom ons deur donkertes moet gaan nie. Dit maak nie altyd sin dat ’n God van liefde toelaat dat ons swaarkry nie.  

God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. (1 Petrus 5:10) 

Daar is ’n ander perspektief: Ons moet juis bly wees as beproewings oor ons kom. As ons geloof die toets deurstaan het, leer ons om te volhard. Só kom ons tot volle geestelike rypheid.  

Ongelukkig het donker tye dikwels juis die teenoorgestelde uitwerking. Dit kan ’n mens swaarmoedig maak en selfs in jou geloof laat twyfel.  

God gebruik hierdie situasies om ons te laat groei. Dit verander ons karakter en bou ons geloof.  

Ons kry wysheid en nuwe insig.  

Om te moet groei, is nooit lekker of maklik nie. Tog is dit beslis nodig. In hierdie tye kan ons net in die geloof aan Hom vashou. Ons vertrou Hom dat Hy die beste in ons na vore sal bring.  

As jy kan volhou, maak dit jou geestelik sterk. Jou Here is genadig en getrou en saam met jou in jou proses.  

Hy sal dinge reg laat uitwerk en jou weer oprig. 

Deel die artikel

Méér artikels

Ons hele lewe word deur hoop gerig. Hoop is die vertroue dat die Here sal, terwyl geloof die oortuiging is dat Hy kan, sê LYNETTE ...

Geduld is ’n Goddelike krag. Geduld gee ’n mens die vermoë om probleme of swaarkry te verduur, sonder om angstig of geïrriteerd daarmee te raak. ...

Scroll to Top