Lynette Beer

Wat mense NIÉ WEET nie … 

LYNETTE BEER, een van Suid-Afrika se mees inspirerende motiveringsprekers, gesels oor haar pad na sukses en die opofferings waarvan niemand weet nie.

Vir baie jare het jy gesukkel om betekenisvolle verhoudings te vorm, en op professionele vlak het jy dit uitdagend gevind om saam met ander in die werkplek saam te werk. Wat was die groot keerpunt vir jou? 

Ja, dit was verskriklik uitdagend. Ek het baie mense gehad wat aan my gerapporteer het. Een dag het ek dit net verloor. Ek het my persoonlike assistent ingeroep en die insident ...

LYNETTE BEER, een van Suid-Afrika se mees inspirerende motiveringsprekers, gesels oor haar pad na sukses en die opofferings waarvan niemand weet nie.

Vir baie jare het jy gesukkel om betekenisvolle verhoudings te vorm, en op professionele vlak het jy dit uitdagend gevind om saam met ander in die werkplek saam te werk. Wat was die groot keerpunt vir jou? 

Ja, dit was verskriklik uitdagend. Ek het baie mense gehad wat aan my gerapporteer het. Een dag het ek dit net verloor. Ek het my persoonlike assistent ingeroep en die insident bespreek. Ek het gesê: “Ek is goed vir julle, ek koop Kentucky en cupcakes elke Vrydag. Ek verdien beter samewerking.”

Sy het gevra of ek regtig haar antwoord wil hoor. Ek het ja gesê. Sy het gesê ek is glad nie so oulik as wat ek dink nie. Dit het my gebreek.

Sy het insidente genoem waaraan ek skuldig was: altyd laat, ingehardloop en opdragte gegee, nie vinnig op e-posse gereageer nie. Ek het besef sy is reg. Hoewel ek antwoorde gehad het, kon ek niks terug sê nie.

Ek glo vandag die Here het dit so gewil. Ek het vir die Here gevra hoe ’n mens verander. Ek het die woord in my, ek is wedergebore, die Heilige Gees woon in my, maar my gedrag wys dit nie.

Toe gee die Here vir my ’n droom. Ek het gedroom van ’n lêer waaruit ek studeer het, en my Sielkunde 1-notas liasseer het. Toe ek dit oopmaak, kom ek af op die Hippocrates-model oor temperamente. Dit het my lewe verander.

Dis nou al 12 jaar later sedert jy die korporatiewe omgewing verlaat het en as entrepreneur aan jou handelsmerk begin werk het. Jy maak ’n groot verskil in mense se lewens. Wat moes jy op ’n persoonlike vlak opoffer op jou pad na sukses? 

Hierdie is ’n baie diep vraag. Ek het baie opgeoffer.

Die leer na sukses vra vir opoffering. Vir my was die grootste opoffering dat ek nie kinders het nie.

Dit maak my emosioneel, maar ’n mens moet outentiek wees.

As ek iets kon verander, sou ek nugterdenkend wou wees en besluit het om te trou en kinders te hê. Dit was my grootste prys om te betaal.

Vandat ’n mens ’n dogtertjie is, droom jy oor die ideale man, jou kinders, jou huishouding en vakansies, en die dag as hulle kinders het en jy ’n ouma raak. Vir my was dit die grootste prys om te betaal.

Ek vertrou dat ek steeds in die plan van die Here is. Ek glo dat ek ’n nalatenskap sal hê in die werk wat ek vir die koninkryk gedoen het.

Jy gee wonderlike raad vir mense om hulle verhoudings te verbeter, maar is self nooit getroud nie. Wat is die rede dat jy steeds enkellopend is? 

Ek het liefgehad en geglo ons gaan trou. Hy het die verhouding verbreek. Dit het my baie seergemaak en ek het erge verwerping ervaar, soveel so dat ek in die hospitaal beland het.

Dit was vir my baie seer. Uit die aard van my pyn, was dit vir my baie moeilik om weer te vertrou.

Jare later het ek weer verhoudings gehad, maar ek het besef my werk gaan oor verhoudings

Ek het toe eendag vir myself dieselfde vraag gevra. Hoe help ek ander mense, as ek nie self in die huwelik staan nie? Ek het tot die slotsom gekom dat ’n mens nie ’n huweliksprobleem kry nie, maar ’n verhoudingsprobleem binne die huwelik.

Jy kry nie ’n ouer-kindprobleem nie, jy kry ’n verhoudingsprobleem tussen die ouer en sy kind. Jy kry nie ’n werksprobleem nie, maar ’n verhoudingsprobleem binne die konteks van die werk.

Ek het besef die intimiteit van ’n huwelik is ’n groot deel, maar ook net ’n gedeelte. Dit begin alles by verhouding. Ek het gemaklik geraak met die idee dat dit oor verhoudings gaan, nie net oor die huwelik nie.

Jou eie geloof is al tot die uiterste beproef … Deel die insident wat vir jou die meeste uitstaan? 

Covid was vir my baie uitdagend. Twee weke voordat ek Covid gekry het, het ek ’n blog geskryf. Ek was so kwaad vir wat Covid gedoen het aan mense en ek het oor Pestilensie gelees.

Pestilensie was op pad na Bagdad, toe hy ’n karavaan-eienaar raakloop wat hom vra waarheen hy op pad is. “Ek is op pad na Bagdad. Ek gaan 5 000 mense doodmaak.”

’n Paar dae later kom hy terug en die karavaan-eienaar sê vir hom: “Jy het gelieg, Pestilensie. Jy het gesê jy gaan 5 000 mense doodmaak, maar jy het 50 000 doodgemaak.”

Pestilensie sê toe: “Ek het net 5 000 doodgemaak, vrees het die res doodgemaak.”

Ek moes daardie stuk lees, want toe ek Covid kry, het my dokter vir my opdrag gegee om ’n video te kyk. Sy het gesê ek moet dit ses keer kyk, want sekere goed gaan in my liggaam gebeur.

Die oomblik as dit gebeur, moet ek weet, ek swaai of links of regs. As ek regs swaai, dan is dit tot die dood toe, en vir my het dit toe regs geswaai.

Ek het besef ek moet my gedagtes beskerm. Romeine 12 vers 2 sê jy moet dink oor wat lieflik, loflik, rein en edel is. Ek het geweier om oor die dood te dink. Ek het gesien hoe Jesus aan die kruis hang en hoe Sy bloed oor my val. Ek het die hele tyd net daai prentjie gesien.

In ’n stadium het dit gevoel of ek in ’n baie diep put afsak. Ek kon ֺ’n liggie sien en ek het probeer vastrap met my voete en probeer uitkom, maar ek kon nie. Ek het net gesê Jesus, Jesus, Jesus. Ek het aan die slaap geraak, en ek het die volgende oggend wakker geword.

Dit was ’n baie uitdagende tyd. Ek glo die Here het gesê ek gaan nie sterf nie, want Hy het nog baie werk vir my. Ek is dankbaar vir die tweede kans.

Jy het ’n geel-rooi temperament en streef na uitnemendheid. Wat doen jy wanneer iemand jou briesend maak? 

My geel temperament kan nogal kwaad raak. Albei my temperamente word gedryf deur woede. Ek moes ’n manier kry om my woede te bestuur. Ek het besef die dag wat ek Jesus Christus aangeneem het, het Sy Gees in my kom woon.

Ek het geleer om my woede te bestuur deur te stop en te dink voor ek doen. Ek sê vir myself ek is die lig in ’n donker wêreld, ek is die sout wat nie laf moet raak nie. Ek moet ’n getuienis wees. Duisternis sê ’n oog vir ’n oog, maar die platform van lig sê, ek is die lig in ’n donker wêreld.

Kry ek dit altyd reg? Beslis nie, maar ek kry dit meer reg as wat ek dit nie reg kry nie. Om dit te doen, moet ’n mens doelbewus leef.

Deel die artikel

Méér artikels

ANNA DAVEL staan elke dag op om al die nuwe geleenthede wat na haar kant toe kom, aan te gryp. Elke nuwe ervaring help haar ...

Sy skitter in die kollig, maar SASHA–LEE DAVIDS is in haar wese eintlik skaam en teruggetrokke. Sy moes leer om vrede te maak met wie ...

Scroll to Top