Wou jou kind ’n ingenieur word, maar sy matriekeksamen het nie volgens plan verloop nie? Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Xcel-program is jou kind se tweede kans.
Wat die Xcel-program vir voornemende studente kan beteken
Die Fakulteit Ingenieurswese se Xcel-program, wat deur die NWU en die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom aangebied word, is ’n alternatiewe roete vir voornemende studente wat nie aan die vereiste toelatingskriteria vir wiskunde en fisiese wetenskappe voldoen nie.
Xcel stel studente in staat om graad 11 en 12 te herhaal en só nuwe punte vir hul portefeuljes vir skoolgebaseerde assessering (SBA) op te bou.
Die SBA is ’n portefeulje van bewysstukke wat bydra tot die finale assessering in die matriekeksamen.
Ná voltooiing van die program skryf studente weer die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen in wiskunde en fisiese wetenskappe onder toesig van die departement van basiese onderwys.
Indien hulle beter finale punte behaal, kan hulle vir toelating tot ingenieurswese kwalifiseer.
Hoe jou kind se jaar met die Xcel-program gaan lyk
Die kurrikulums vir wiskunde en fisiese wetenskappe van graad 11 en 12 word herhaal, met weeklikse klasse (’n totaal van 10 uur) en tutoriale van twee uur per vak.
Die doel is om SBA-punte te verbeter en dan weer die NSS-eksamens in albei vakke te skryf.
Daarna word leerders geregistreer as NWU-studente vir ALDE 111 en ALDE 121 om akademiese lees- en skryfvaardighede te ontwikkel.
Studente moet dan aan ’n ontwerp (binne die konteks van rekenaargesteunde ontwerp en programmering) werk wat in 3D gedruk word en dit aan ’n paneel ingenieurs voorlê.
Verskillende ondersteunings- en verblyfopsies vir voornemende studente
Tydens die Xcel-jaar ontwikkel studente goeie studiegewoontes, doeltreffende studiemetodes en tydbestuursvaardighede.
Individuele akademiese en sielkundige ondersteuning is beskikbaar waar nodig.
Studente voltooi ook praktiese vakke wat hulle vir formele ingenieurstudies voorberei.
Hulle ontwerp hul werk, druk dit in 3D en bied dit tydens ’n mondelinge assessering aan ’n paneel ingenieurs aan.
Dit lê die grondslag vir die ingenieursprojek in hul finale jaar, wat deur ’n nasionale ingenieurspaneel geassesseer word.
Verblyf in universiteitskoshuise word nie aanbeveel nie, aangesien koshuisaktiwiteite dikwels met die verpligte Xcel-klasse bots.
Akkommodasie is egter by die Hoërskool Ferdinand Postma beskikbaar. Die skool het woonstelle sowel as ’n koshuis vir manlike studente.
Doen nou aansoek vir die NWU se Xcel-program. Laai die aansoekvorm af.