’n Ontdekking van identiteit danksy werksyn

7 000 keer het iemand geglo

Daar is ’n oomblik in ’n jongmens se lewe wanneer hoop nie meer net ’n gedagte is nie, maar iets wat begin beweeg. Dalk is dit die eerste dag op kampus. Dalk die eerste handboek wat oopgemaak word. René Roux, bestuurshoof: media van Solidariteit Helpende Hand, weet uit ondervinding dat vir baie studente is dit die wete dat daar iemand is wat in hulle glo.

’n Ontdekking van identiteit danksy werksyn

By Solidariteit Helpende Hand noem ons hierdie beweging werksyn. Daardie punt waar ’n mens se roeping begin vorm aanneem deur dit wat jy doen. Werksyn is nie net werk nie. Dit is identiteit in wording. Dit is om te ontdek wie jy is terwyl jy leer, probeer, struikel en weer opstaan.

Die Studietrust stap langs jongmense. Nie met groot beloftes nie, maar met stil volharding. Met die wete dat elke student ’n storie dra wat nog nie klaar geskryf is nie. Wanneer ’n student studeer, gebeur iets besonders. Dissipline word karakter. Drome kry rigting. En, stadig maar seker begin werksyn posvat, want om te studeer is reeds om te doen.

Potensiaal het geleenthede nodig om tot sy reg te kom

Die woord van God vertel vir ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:6).

Baie van ons Studietrust-studente kom uit omstandighede waar die pad vorentoe nie vanselfsprekend is nie. Die talent is daar, maar geleenthede ontbreek. Potensiaal wag vir iemand om ’n deur oop te sluit.

Wanneer laasgenoemde gebeur, sien ’n mens iets mooi: ’n Jongmens wat anders begin kyk na hulself, na hul plek in die wêreld, na wat moontlik is en na die rigting van hul roeping.

Ons sien dit wanneer ’n student hul eerste eksamen slaag. Wanneer hulle aanhou studeer al is dit swaar. Wanneer hulle, ná jare se harde werk, uiteindelik hul kwalifikasie ontvang.

Later sien ons dit weer wanneer hulle hul eerste salaris verdien, hul eerste pasiënt help, hul eerste klas aanbied en hul eerste dag se werk voltooi. Dít is werksyn in sy suiwerste vorm.

Een student se sukses word ’n ander student se geleentheid

Die Studietrust se hulp eindig nie by ’n rentevrye studielening nie. Dit leef voort in ’n eenvoudige, maar diep beginsel: wat jy ontvang het, gee jy terug. Studielenings word terugbetaal sodat ’n volgende student ook kan studeer. Só word stories met mekaar verweef. Só word hoop oorgedra van een hand na ’n ander.

7 000 studente is reeds deur die Studietrust bygestaan. Dit is 7 000 gesigte, 7 000 name, 7 000 lewenspaaie. Elke storie dra ’n roeping, elke roeping ’n moontlikheid. Dit is 7 000 stories van werksyn wat stadig, getrou en volhoubaar ontvou.

Om nie net te oorleef nie, maar te leef

In die Bybel is die getal sewe nooit net ’n nommer nie. Sewe is die getal van volheid en voltooiing. God het die skepping in sewe dae voltooi. Die sewende dag was ’n dag van rus, ’n teken dat die werk goed en volledig was. Dwarsdeur die Skrif simboliseer sewe iets wat afgerond is, iets wat sy doel bereik, iets wat in lyn is met God se bedoeling.

Wanneer ons dus praat van 7 000 stories, praat ons simbolies ook van volheid: van werk wat nie net begin is nie, maar wat betekenis dra. Van roepings wat ontwikkel word. Van jongmense wat nie net oorleef nie, maar begin om werklik te leef.

Party van hierdie studente keer later terug na hul gemeenskappe as rolmodelle. Hulle lewens fluister ’n eenvoudige waarheid: dit is moontlik en daar is hoop. Só word elke storie deel van ’n groter geheel; ’n bewys dat hoop bestaan.

’n Bereidwilligheid om in ander se toekoms te belê

7 000 stories is dus nie ’n eindpunt nie. Dit is ’n getuienis. ’n Getuienis van geloof, van volharding, en van werksyn wat stadig, maar seker, gemeenskappe dra.

Die Studietrust bestaan nie om vinnige oplossings te bied nie. Dit bestaan want ons glo daarin om die pad saam ons studente te stap, om aan te hou glo, selfs wanneer die pad lank en moeilik is. Werksyn vra tyd, dit vra geduld en dit vra mense wat bereid is om in ander se toekoms te belê.

Toekomstige doeners wat ’n betekenisvolle lewe lei

Die Studietrust stel studente in staat om die kennis, vaardighede en karakter te ontwikkel wat hulle nodig het om betekenisvol in die arbeidsmark en in die samelewing te funksioneer. Ons fokus nie net op toegang tot studie nie, maar op toegang tot roepingsgedrewe werk. Dit is werk wat waardigheid bring, identiteit vorm en gemeenskappe versterk.

Ons sien studente as toekomstige doeners: onderwysers, ingenieurs, verpleegkundiges, ambagslui en entrepreneurs. Mense wat die wiel van vooruitgang draai en hoop in aksie omsit.

Werksyn roep mense om hul Godgegewe gawes nie te laat lê nie, maar dit doelbewus te ontwikkel en aan te wend tot voordeel van hulself én hul gemeenskap.

 Studie is een van die kragtigste platforms waarbinne hierdie gawes gevorm word. Sonder opleiding bly baie jongmense se potensiaal onbenut.

Die Studietrust bied daarom nie net finansiële hulp nie, maar ’n aanloopbaan na roeping, identiteit en volwaardige deelname.

Skenkings help om nog mooi stories te skryf

Deel die artikel

Méér artikels

Dit is ’n oomblik wat baie van ons al beleef het: Jy gee vir iemand iets om te eet, en jy sien die dankbaarheid. Maar ...

Klein gebare het die vermoë om groot verskille te maak. ’n Eenvoudige aankoop, ’n geskenkte item of ’n daad van hoop kan drome bewaarheid, lewens ...

Scroll to Top