Afskilfering jaag jou nie ’n fortuin uit die sak nie, en word by elke vrou en haar behoeftes aangepas. Jy sal goeie, vinnige resultate sien én voel, en besef jy verdien hierdie bederf.

Uit my eie ondervinding weet ek hoe wonderlik die verskil is wat dit maak! Ek werk saam met ’n bekende dermatoloog en in ons praktyk word daar baie van hierdie behandelings gedoen.

Voor ’n peel: die moets en moenies

Die Afrikaanse woord is “afskilfering”, maar in die bedryf praat ons sommer van peels. Ons kliënte ken ook die Engelse benamings van die behandelings en die bestanddele beter as dié in ons moedertaal. Onder andere glycolic of salicylic acid peels.

Dit doen die vel wonders. Ons sien baie goeie resultate nadat ’n reeks voltooi is.

’n Analise word van die kliënt se vel gedoen. Die regte keuse moet gemaak word oor watter spesifieke behandeling vir elke vrou en haar unieke behoeftes die beste sal wees. Ouderdom, hormone, leefstyl, stres, gene en swangerskappe word ook in ag geneem.

Die regte produkte is baie belangrik sodat jy jou voor die tyd eers tuis kan voorberei. Vogroom, gesigwasseep en sonskerm is die heel belangrikste. Dit sal ook die peel komplimenteer en jy sal beter resultate kry.

Onthou altyd jou sonskerm, selfs op reën- of bewolkte dae. Wees bedag op blou lig wat skadelik is en in allerlei toestelle versteek is: selfone, rekenaarskerms en sekere ligte. Iets so natuurlik soos ’n warm voertuig wat jou liggaamstemperatuur verhoog, is nie goed vir jou nie.

Laat staan ook eerder die ekstra glasie wyn en kos met baie speserye as jy jonk en gesond wil lyk.

Wat afskilfering vir jou doen en al die voordele

Dit is beter om met ’n laer persentasie peel te begin, en vir ’n korter tyd daarmee aan te hou voordat dit geneutraliseer word. So bou ons dit op. Elke maand ’n klein bietjie sterker en ’n klein bietjie langer.

Hierdie soort afskilfering kan elke vier weke gedoen word en is wonderlik goed vir jou, want …

  • dit is ’n bekostigbare, sakpas behandeling wat jou begroting steeds sal laat klop;
  • jy kan dit gedurende jou etensuur laat doen – die behandeling is letterlik so blitsvinnig;
  • jy hoef nie tyd af te neem en weg te kruip met ’n bloedrooi gesig wat lyk of jy gebrand het nie; en
  • dit het geen newe-effekte nie en almal gaan sien hoe pragtig en gesond jy lyk.

Salicylate is ’n natuurlike chemikalie wat in baie vrugte en groente voorkom. Die plant beskerm homself met hierdie chemikalie teen peste en insekte.

Dit kan ook chemies vervaardig word, om byvoorbeeld as bestanddeel in skoonheidsprodukte gebruik te word.

Wat is die voordele van hierdie wondermiddel?

  • Lagies word verwyder.
  • Nou kan dit die vel diep binnedring en die verstopte porieë skoonmaak.
  • Dit is besonder effektief vir die vermindering van olierigheid, aknee, witkoppies, swartkoppies en puisies.
  • Opgeboude olies in porieë word verwyder, en dit help om vinniger nuwe selletjies te vorm.
  • Dit verhoed dat die puisies merke maak, en laat dit vinniger uitdroog en herstel.
  • Jou vel sal meer gebalanseerd wees en gesonder vertoon.

Hoe werk hierdie behandeling, en is dit vir almal?

’n Glycolic acid peel is ’n natuurlike alpha hydroxy acid. Dit vreet soos ’n Pacman-mannetjie (in die gewilde outydse rekenaarspeletjie) al die dooie velletjies op. Dit is ’n kleurlose en reuklose molekule wat van vrugte en suikerriet afkomstig is.

Daar is baie voordele verbonde aan hierdie soort afskilfering, en dit is effektief vir normale tot kombinasievelle. Dit werk goed vir pigmentasie, want melanienproduksie word onderdruk.

Glycolic acid penetreer baie vinnig, want dis die kleinste van al die alpha hydroxy acids. Optimale afskilfering kom voor om te help dat produkte meer effektief sal wees en die grootste orgaan van jou liggaam beter sal funksioneer.

  • Die kollageen- en elastienproses word gestimuleer en tekstuur versag.
  • Hyaluronic acid word gestimuleer.
  • Dit sorg vir vog en gee jou iets wat ons almal elke dag nodig het – en veral op ’n Maandag: ’n goeie vel-kickstart!