Bang vir oud word? Moenie wees nie!

Bang vir oud word? Moenie wees nie! 

Maak jou reg vir iets beters en leef met nuwe geesdrif en uithouvermoë – ongeag jou ouderdom. Wie wil eendag terugkyk en sê: “Ek wens ek het ...” 

Begin om anders te kyk na veroudering 

Seisoenwisselings is verwarrend met rolle wat skuif en liggaamlike en emosionele veranderings.

Weet God is by jou en fokus op jou roeping. Só kan jy op koers bly en gelukkig wees.

Jou funksie as vrou verander voortdurend! Ander dinge raak belangriker en kleinighede wat as struikelblokke beskou is, oorkom ...

Maak jou reg vir iets beters en leef met nuwe geesdrif en uithouvermoë – ongeag jou ouderdom. Wie wil eendag terugkyk en sê: “Ek wens ek het …” 

Begin om anders te kyk na veroudering 

Seisoenwisselings is verwarrend met rolle wat skuif en liggaamlike en emosionele veranderings.

Weet God is by jou en fokus op jou roeping. Só kan jy op koers bly en gelukkig wees.

Jou funksie as vrou verander voortdurend! Ander dinge raak belangriker en kleinighede wat as struikelblokke beskou is, oorkom jy dalk makliker. Dit is ’n wyse vrou wat kan sê: “Mag ek die beste vrugte voortbring in die seisoen waarin ek my nou bevind.”

Soos jy in Hom groei, is jy meer bruikbaar in Sy hand. Naderhand kan jy meer dien, liefhê, deernis toon, en in wysheid en nederigheid leef.

Jy het al ’n paar duur lesse geleer en weet dat bitterheid net jou eie voorspoed opvreet. As jy gewillig is om aan te pas, te buig en gevorm te word soos Hy jou op jou lewenspad lei, sal niks jou kan stop nie.

Vra jou die vraag af: Mediteer ek meer op die uitdagings wat my in die gesig staar, of mediteer ek meer op die Een wat my beter ken as ekself, en wat die oplossing vir my uitdagings is?

Begin elke oggend van jou lewe deur jou gewilligheid en gehoorsaamheid te gee. Daardeur sal jy berge sien skuif, bonatuurlike oplossings sien afspeel en geleenthede hê om Sy lafenis te wees vir ’n bekommerde siel langs jou. Word ’n instrument in Sy hande. Dit is ons grootste vervulling op aarde. Word stil en vra vir meer dankbaarheid in jou hart.

Só begin jy anders kyk na jou situasie.

Ouderdom is relatief – hoe oud is jy werklik? 

Die aantal omwentelings van ons aardbol om die son ná jou geboorte is ’n gegewe. Dit is jou chronologiese ouderdom. Moenie daardie getal te veel ter harte neem nie. Ouderdom is ’n relatiewe begrip en baie daarvan is in jou kop.

Maar hier is die knelpunt. Wie sien uit na 60 jaar se agteruitgang as jy reeds op 40 ge-peak het? En wat as jy nie so seker is van jou koers nie of ’n nuwe veld wil verken?

Het jy al agtergekom dat wanneer alles goed gaan en jy jouself hart en siel in ’n situasie inleef, ouderdom nie eens ter sprake kom nie? Op daardie oomblik is jy sielkundig heerlik jonk.

Maar, wanneer jy moeg of siek voel en die lewe druk, kan ’n mens heelwat ouer as jou jare voel. Dan is jy sielkundig bejaard.

Daar is ook diegene wat tydloos voorkom. Mense wat vol lewenslus is en tot ’n rype ouderdom sterk, gesond en betrokke bly. So ’n persoon se biologiese ouderdom kan tot 15 jaar jonger as hulle chronologiese ouderdom wees. Dís waarna ons mik.

Hoe verseker ’n mens dat die jare tussen 40 en 100 die beste nog is? Dit is noodsaaklik om ten minste met die aanbreek van elke dekade jou lewe onder die loep te neem. Soos ’n vlieënier wat gedurig die vlugroete moet dophou en aanpas om koers te hou.

Navorsing wys dat indien ’n mens so vroeg moontlik ’n gesonde leefstyl vestig, jy fiks en gesond kan bly en jou brein onbeperk kan aanhou ontwikkel. Veral as jy ná 40 ophou rook, baie matig drink en gereeld oefen en leer.

’n Mens moet ook doelbewus werk om positiwiteit in jou lewe te kweek en goeie vriendskappe en verhoudings te vertroetel.

Ons sê dikwels oor ons jonger self: As ek toe maar geweet het wat ek nou weet. Dink daaraan: Jy wéét nou wat jy nou weet. Integreer daardie kennis en ervarings, leer uit vroeëre foute en bly ontvanklik om nog baie meer te leer en te ervaar.

Dit verg ’n doelbewuste besluit en volharding om met genoegdoening ouer te word.

Oefen word belangriker soos jy ouer word 

Ouderdom is nie ’n geldige verskoning om nie te oefen nie. Jou liggaam verander en liggaamsvet neem toe. Oefening word daarom juis belangriker soos jy ouer word. Dit dra by tot beter lewensgehalte.

Die meeste mense bereik hulle maksimum spierkrag tussen 27 en 32 jaar. Daarna kan die spoed en krag waarmee die spiere saamtrek geleidelik begin afneem. Dit geld ook vir die uithouvermoë en soepelheid van die spierweefsel.

Vandat jy jou 30’s bereik, moet jy dus 10% harder aan jou liggaam werk. Of jy moet aanvaar dat jou gewig elke tien jaar met tot 4 kg kan toeneem.

Party mense glo, verkeerdelik, dat aftakeling ál is wat ná 50 voorlê. ’n Onaktiewe lewenstyl kan ’n bose kringloop word. Omdat jy styf en stram voel, oefen jy nie. Intussen raak jou spiere en gewrigte al swakker, wat weer tot nuwe pyne en skete lei.

Hierdie agteruitgang kan vrygespring of verlig word deur aktief te bly. Jy moet deurgaans jou spiere, gewrigte en ledemate inspan. Om jou soepelheid te behou, begin die dag met ’n paar strekoefeninge sodra jy agterkom jy raak minder beweeglik.

Hou in gedagte dat dit ’n rukkie sal duur voordat verswakte spiere weer soepel word. Tog, met geduld en getrouheid kan jy die voordeel hiervan geniet.

Die regte strekoefeninge werk stramheid teen. Só kan jy makliker, vinniger en méér beweeg. Boonop verlig hierdie vorm van oefening die spanning in stywe spiere, asook sielkundige spanning. Dit bevorder ook die bloedsomloop – voorwaar terapie vir jou liggaam en gees.

Wat is die beste raad vir iemand wat vir die eerste keer begin met ’n oefenprogram of iemand wat vir drie maande of langer nie geoefen het nie? Indien jy ouer is as 50, moet jy eers jou dokter gaan spreek voordat jy met ’n vaste oefenprogram begin.

As jou dokter toestem, is jy gereed vir die oefeninge. Dit sal jou ’n fikser, gesonder, fermer en ’n gelukkiger mens maak. Vir beginners, ongeag ouderdom en fiksheidsvlak, is stap die maklikste en natuurlikste aërobiese oefening.

Kyk vorentoe – jy kan telkemale nuut begin 

Jy kan kies: Alles bly dieselfde en jy is ongelukkig, ontevrede en verveeld met alles wat jy reeds afgehandel het. Of jy kyk vorentoe en lê ’n nuwe fondasie vir ’n nuwe manier van lewe. Wat ’n voorreg!

Ons lewensprosesse is reeds as ’n DNS-kode in elke sel van ons liggaam geprogrammeer. ’n Perfekte meesterplan van wie ons is, wat vooraf deur die Skepper saamgestel is. Ons unieke DNS-bloudruk.

Die meeste mense is nie bewus van hierdie gawe of die werking van ons “horlosie-gene” (clock genes) of DNS-horlosie nie. Ons is geneties vooraf geprogrammeer om op sekere tye, sekere prosesse, wat ook hormoonprosesse insluit, aan en af te skakel.

DNS-siklusse neem ’n gemiddeld van sewe jaar. Dié horlosie-gene skakel een proses af waarna ’n nuwe proses dan weer aangeskakel word.

Elke stadium van jou lewe is deel van ’n normale proses. Hoekom sien mense dan sommige fases as moeilik of self as ’n krisis? Uit blote onkunde! Beskou jou ouderdomsfase eerder as ’n avontuur en geniet dit.

Die doel van elke fase is om klaar te maak met die dinge van ’n kind. Dis tyd om ’n nuwe, volwasse fondament te lê. Jy het een van twee keuses: Óf jy behou jou ou fondament. Óf jy kan kies om alles nuut te maak. Maar hoe doen ’n mens dit?

Trek ’n lang lyn op ’n stuk papier en merk dit af van 0, 10, 20 tot 90+. Dis jou lewenslyn. Skryf by ouderdom 90 jaar neer wat jy graag in jou lewe sou wou hê.

Merk die ouderdom waar jy nou is. Vra jouself: Gaan die plek waar ek nou is, of hierdie persoon, of hierdie werk, of dit wat in my lewe is, my werklik help om op my oudag (ons het 90 gekies) ’n kwaliteitlewe te leef?

Besluit wie en wat jy wil behou en in jou nuwe fondament wil inbou. Wie en wat laat jy uit? Werk sorgvuldig. Jy doen belangrike selfondersoek en innerlike werk. Vra vir hulp en leiding indien nodig. Doen wat nodig is en wees in alles dankbaar.

Deel die artikel

Méér artikels

Jy skep jou lewe deur wat jy oor jouself glo, dink en spreek. So, wees bewus van jou gedagtes en selfgesprek om sprankelend en vol ...

Veranderings wat jy vandag in jou leefstyl maak, kan oor baie jare vorentoe sorg dat jou liggaam stadiger verouder en jou risiko vir siektes verminder. ...

Scroll to Top