Hoeveel keer doen jy iets omdat jou ma dit altyd so gedoen het? Ons ouers se voorbeeld het ’n blywende invloed, ook op ons verhoudings.
Jou ouers se huwelik is vir jou ’n voorbeeld
Jy hoef net na jou ouers se troufoto te kyk om te sien hoe tye verander het. “Die patriargale gesin is vervang deur ’n gesin waar man en vrou op dieselfde vlak funksioneer,” sê voorligtingsielkundige dr. Trysie Grobler.
“’n Vrou se ma is altyd op ’n manier (en dikwels op ’n onbewuste vlak) in haar eie huwelik teenwoordig,” sê Pauli Geldenhuis, ’n berader van Pretoria.
Jou ma is inherent deel van hoe jy jou rol as vrou (en ma) sien. Sy is die rolmodel van hoe ’n vrou binne die huwelik teenoor ’n man optree en wat ’n vrou van die huwelik kan verwag.
Gesinskenner James Dobson sê dat die pa in sy verhouding met die ma ’n voorbeeld aan sy dogter stel van die tipe man met wie sy eendag gaan trou. En die ma van die tipe vrou wat die dogter vir haar eie man gaan wees.
As vrou moet jy die wysheid hê om jou soms van jou ma se voorbeeld te distansieer. Pas toe wat vir jou werk, maar moenie voel jy is ’n teleurstelling vir jou man en kinders as jy nie self voor die kospotte swoeg en eerder iets by die winkel gaan kry nie.
Dalk het jy gedink dat getroude mense nooit vassit nie omdat jou pa en ma nooit voor julle gestry het nie. As jy met hierdie idee voor die kansel gaan staan, kan julle eerste meningsverskil jou erg skok. Jou ouers het dalk wel verskil, maar nooit voor die kinders nie.
Wanneer finansies druk of julle werkspanning ervaar, kan julle maklik in die negatiewe funksioneringspatrone van julle ouers terugval. As jy weet dat jou ma haar altyd onttrek het en jy geneig is om dieselfde te doen, moet jy harder daaraan werk om die kommunikasielyne oop te hou.
Verwagtings van die huwelik kan julle pootjie
Al is julle reeds jare getroud, kan antwoorde op die volgende vrae julle help om mekaar beter te verstaan en tot ’n kompromie te kom oor dinge uit die verlede wat vir julle werk of nie.
Vra byvoorbeeld: Het my ouers ’n goeie verhouding gehad? Hoe het hulle rolverdeling gewerk? Hoe is besluite geneem en hoe is konflik hanteer? Hoe, wanneer en waar is liefde gewys? Hoeveel waarde is aan geld en besittings geheg?
Fokus op dit wat julle verhouding van die begin af laat werk het en herinner jouself voortdurend aan julle wenresep.
Loop ons dieselfde paadjie as ons ouers?
Miskien het jy ook al gedink: My ouers se huwelik was ’n gemors, daarom is dit geen wonder dat my eie ook ’n mislukking is nie. Die kwaliteit van jou ouers se verhouding speel ’n rol in jou eie verhoudingslewe, maar jy het steeds die keuse om ou patrone af te leer.
As jy nie so gelukkig is om uit ’n ouerhuis te kom waar jou ma en pa se voorbeeld ’n inspirasie kan wees nie, verskuif jou fokus. Kyk weg van dit wat verkeerd geloop het in jou ouerhuis en dus ’n moontlike negatiewe impak op jou eie huwelik mag hê.
Daar was dalk ook dinge wat hulle reg gedoen het waaruit jy kan leer. Terselfdertyd kan jy ook leer uit dit wat jy nié wil hê in jou eie verhouding moet gebeur nie. As jou ma altyd jou pa verkleineer en gekritiseer het, kan jy jou voorneem om dit nooit met jou man te doen nie, maar hom liewer erkenning te gee vir die goeie dinge wat hy doen.