Bennie Fourie is ’n geliefde komediant en akteur, bekend vir rolle in Hotel en Taktiek. Hy is ook ’n trotse familieman, getroud met Mila Guy en pa van Karoo.
Watter rol het jou meer oor jouself geleer as wat jy verwag het?
Die rol wat ek gespeel het waaruit ek die meeste geleer het, sal Goose in Taktiek wees. Dit was ’n lekker komiese rol, ’n eenvoudige rol, maar die rol agter die rol was vir my nogal uitdagend.
Dit was die eerste keer wat ek ’n volle reeks as die hoofkarakter gespeel het, maar ook die regie behartig het.
Jy moes nogal op jou tone wees, want jy is besig om te speel, maar gee terselfdertyd notas vir ander akteurs. Jy speel dalk self sleg, maar jy moet steeds notas vir iemand anders gee.
Dit was ’n groot ego check om nie te sê nie: “Ek gee nie om nie.” Dit gaan nie daaroor om die beste te wees nie. Dit gaan daaroor om ’n lekker tyd te hê en die karakter wat ek selfs geskep het te geniet.
Gelukkig het ek ’n mederegisseur gehad om my ’n bietjie te help met die performance directing. Dit was ’n lekker uitdaging.
Het jou sin vir humor jou al deur ’n moeilike tyd gedra?
Niks spesifiek nie, maar toe ek enkellopend was, het ek baie keer dinge met grappies afgemaak.
Dit was diep eensaamheid – in ’n tyd in ’n mens se lewe waar jy vir ’n paar jaar gewag het vir die regte persoon om oor jou pad te kom sodat jy kan trou.
Ek het dit destyds lig gehou, al was dit ’n bietjie moeilik.
Met my pa se dood dink ek was dit ook om altyd vas te hou aan sy grappies en om dit lig te hou soos hy dit sou gedoen het.
Dit is ’n lekker salf om op te kan smeer.
Het jy as dominee se kind ooit gevoel jy moet ’n spesifieke beeld handhaaf?
’n Mens leef maar met oë op jou as jou pa ’n dominee is. En hoe maak ’n mens jouself los daarvan?
Ons was baie geseënd om ouers te hê wat regtig betrokke was en wat nie verwag het dat ons holier-than-thou moet wees nie. Hulle het vir ons vlerke gegee het om onsself te wees.
Daar was nie enige druk op ons geplaas nie. Ons was geseënd om nooit die kollig op ons te hê nie van: “Julle moet, moet, moet.”
Maar dit was ook lekker om met ware Dopper-reëls groot te word.
Watter geloofsles het jy geleer toe niemand anders gekyk het nie?
Juis om uit ’n pastoriehuis te kom. In jou kop het jy amper ’n first-class ticket hemel toe, want jou pa is ’n dominee en jy hoef nie self te kies nie.
Dit was vir my ’n groot gewaarwording: Ja, jou pa kan ’n dominee wees, jou broers, almal om jou kan gelowig wees.
Die wedergeboorte was die besef dat jy in beheer is om te kies: Gaan jy glo of gaan jy nie glo nie en watter impak gaan dit op jou hê.
Ek dink dit was ’n groot les om te leer om self te moet kies. Om te glo dat dit wat in my hart is waar is.
Watter waarde in jou en Mila se verhouding bring julle telkens weer na mekaar toe?
Ons is baie erg op ons oggende. Ons probeer so ver as moontlik elke oggend saam koffie drink, bid en ’n bietjie Bybelstudie doen.
Dit is asof die dag net reg begin asof ’n mens net mooi belyn.
Nou is die nuwe uitdaging met Karoo wat ons besig hou in die oggend, maar ons probeer nog steeds stil sit, bid vir mekaar, bid vir hom.
Dit is asof jou dag net reg begin. Dinge kan vinnig daarsonder ontrafel.
Wat is die belangrikste les wat jy by jou pa geleer het en aan Karoo wil oordra?
Definitief: hou dit lig.
My pa was verskriklik snaaks. Hy was dominee, maar hy was baie entertaining.
Hy het altyd gesê: “Is daar lewe voor die dood?” Dit is so ’n ware sêding.
Mense wonder altyd: Is daar lewe ná die dood? Maar is daar lewe voor die dood? Is ons besig om regtig te leef?
Die les is: Wees wakker. Soek geleenthede. Daar is baie daarbuite. Daar is mense om jou wat nie soveel geleenthede soos jy het nie en wat jy kan help.
“Is daar lewe voor die dood?” is ’n mooi ding wat ek ook vir my laaitie sal wil sê. Ons kan by die eindpaal uitkom, maar hoe gaan ons daar uitkom?