Dis die klein dingetjies wat vassteek en uiteindelik die kosbaarste onthou-oomblikke word. Maak die doelbewuste keuse om tyd saam te spandeer as ’n gesin.
Gesinne moet goeie gewoontes vestig vir elke dag
Jou lewe is die somtotaal van al die aksies en besluite wat jy daagliks neem en doen.
Net so is dit in die gesin. Elke klein goeie daad en besluit word opgegaar oor ’n tydperk totdat julle ideale eendag realiseer.
Doelwitte alleen waarborg nie sukses nie!
Baiekeer wil julle iets verander, maar julle verstaan nie hoe om daar uit te kom of hoekom julle dit wil hê nie.
Julle wil dalk elke aand saam eet. Of saam Bybelstudie doen. Of ’n beter verhouding met mekaar hê.
Die vreemde ding is, almal wil soortgelyke resultate hê, maar nie almal is suksesvol nie. Sekere mense bereik hulle doelwitte met vlieënde vaandels terwyl ander nooit daarby uitkom nie.
Aan die begin wou alle paartjies tog seker ’n lang en gelukkige verhouding hê. Niemand het gedink om hulle bes vir vyf jaar te gee en dan vir ’n egskeiding te vra nie. Waarom kry net party dit reg?
Onthou, julle identiteit bepaal julle besluite, gewoontes en aksies. Sê nou maar julle glo julle is ’n besige gesin, dus kan julle nie saam eet nie. Dit skep ’n misleidende identiteit wat julle potensiaal saboteer.
Daarom moet julle nuwe gewoontes kweek wat fokus op “wie”- doelwitte en nie “doen”-doelwitte nie. Die gesprek verander van “wat wil ons doen?” na “wie wil ons wees?”
Julle missie is dalk dat julle graag kwaliteittyd saam wil spandeer. En dat julle ’n gesin wil wees wat eerlik en liefdevol is.
Wanneer julle weet wié julle wil wees, sal julle weet watter besluite om te maak. Dit sal help om te weet watter gewoontes om aan te leer en watter aksiestappe om te doen.
Speel saam en hê pret as gesin
Vroegoggend se tande borsel kan groot pret wees. Selfs Sussa se hare vasmaak met elke knippie en rekkie sorgvuldig op sy plek, skep ’n geleentheid vir laggies en speel.
Ons jaag van die een aktiwiteit of afspraak na die volgende. Daar is altyd ’n volgende Facebook-plasing, ’n Twitter-bekgeveg, of die skinder oor vandag se “saak” in sosiale media. Die volgende aktiwiteit waarnatoe die kinders aangery moet word. Nóg ’n vergadering.
Maar skielik is die kinders groot en julle wonder hoe dit gebeur het.
Moenie wag tot dan nie. Kom nóú op vir asem!
Die lewe is ernstig genoeg. Oomblikke van spontane pret is die tye wat almal sal onthou.
Daag almal in die gesin uit om vroegoggend in hulle pajamas op die gras te baljaar. Voel die nattigheid onder julle voete, die dou op julle tone. Asem die vars lug en die reuk van klam grond diep in. Hulle, én jy, sal dit vir seker nooit vergeet nie.
Ons spandeer baie tyd saam in die motor. Wees ’n slag laf en stop om kosmosblomme te pluk. Neem ’n foto om die oomblik vir altyd vas te vang.
Die buitelug roep – gaan speel weer, word weer kind, jaag mekaar om die huis en kielie die een wat gevang word.
Kry weer daai “naskoolgevoel”. Laat almal hulle swaar tasse vol bekommernis en bagasie by die deur neersit en pak ’n bietjie af.
Gesinne wat saam speel, het ’n band en ’n identiteit wat vir altyd sal hou.
Al is jou kinders se grootwordjare minder weelderig as die van hulle maats, sal hulle vir altyd die pret en saamspeel onthou en koester.
Wys vir jou kinders hoe regte sukses lyk
As ouers is ons eerste begeerte om net die beste vir ons kinders te gee. Sonder dat hulle aan die seer in die lewe blootgestel word.
Ons probeer om altyd die beste voetjie voor te sit. Ons wil die lewe maklik laat lyk en die persepsie skep dat ons altyd in beheer is. Jy moet mos vir hulle wys hoe sukses lyk!
Die realiteit is, die lewe is ’n kombinasie van hoogtepunte en laagtepunte. As ons nie die terugslae van die lewe beleef nie, kan ons ook nie die suksesse waardeer nie.
Kinders het ’n ingeboude begeerte vir ouers se goedkeuring. Om onvoorwaardelik aanvaar te word. En die liefde te ervaar wat hulle laat voel hulle is veilig, al gaan dit soms nie soos beplan nie.
Dis bevrydend as Pa en Ma kan erken dat hulle ook ’n fout gemaak het. Dis ’n geleentheid om te mentor en ’n vertrouensverhouding te vestig wat goud werd is wanneer die bordjies verhang word.
Ons hoef nie altyd die negatiewe dinge van ons kinders af weg te hou nie. Hulle is ongelooflik aanpasbaar. Hulle eie morele standaarde en persoonlikhede sal hulle deurdra.
’n Ouer wat nie foute maak nie, skep ’n onrealistiese beeld wat kinders altyd sal bybly. Dus is dit belangrik om die jongklomp eerder met realistiese veiligheid te omvou. Dis ons werk om ’n vangnet te wees as hulle dit nodig kry.
Daar is baie grootmense wat in vrees grootgeword het en nou nooit goed genoeg voel nie. Hulle kry dit nie reg om hulleself te aanvaar nie, juis omdat hulle ouers net hulle suksesse voorgehou het.
’n Familie dra mekaar deur sukses en mislukking
Baie mense bly hulleself meet teen die perfekte wêreld van hulle ouers en glo vas daar is fout met hulle. Hulle het gefaal, want hulle maak dan foute!
’n Gesin wat leer om mekaar te dra deur suksesse, sowel as deur mislukte keuses en terugslae, staan sterk en geanker. Hulle weet dat, ongeag wat gebeur, daar altyd ’n geleentheid is om te groei en mekaar te respekteer en te waardeer.
Die gesin word gekoester deur elkeen se sterk punte te erken en elkeen se tekortkominge te ondersteun.
So ’n ingesteldheid skep ’n gesonde omgewing waarin kinders ’n avontuurlustige en ondersoekende geaardheid kan ontwikkel. Dit alles sonder die vrees om verwerp te word as hulle dit dalk sou waag om ’n fout te maak.
Suksesse en mislukkings kan julle as gesin saambind en deurdra.
Elkeen van ons het die vermoë om ’n impak te maak en ’n invloed te hê op die mense om ons en die wêreld. Maar om dit te kan doen, moet jy jouself wees, nie ’n namaaksel nie, sê Bill Price.
Vrese – soos ’n vrees om geoordeel of gekritiseer te word, maak dit moeilik om die ware jy te ontdek.
Die verlede kan jou ook terughou. Dis waardevol om daaruit te leer, maar dan moet jy dit agter jou sit en aanbeweeg.
Miskien dink jy jy leef reeds jou doel. Maar as elke dag ’n opdraande stryd is, los alles en stop!
Iemand wat haar ware doel ken en leef, sal weet waarnatoe sy op pad is. Sy sal nie kan wag om uit die bed te spring nie, want sy weet dat elke dag haar nader aan ’n wonderlike toekoms neem.
Leef jou doel en laat dit oorspoel na jou gesinslewe
Sien dit so: Die toekoms is nie voor jou nie, maar binne-in jou. Dis soos ’n saadjie wat ’n pragtige boom word. Jy moet dit net ontdek.
Vra eers: Hoekom is jy hier? Die oomblik wat ’n mens daardie vraag kan beantwoord, kan jy dit begin leef.
Die volgende stap is ’n duidelike visie. Onthou, planne en hoe om daarby uit te kom, kan verander, maar jou doel verander nooit.
Een manier om uit te vind wie die ware jy is, is om jou hartsmense, wat jou goed ken en sekere eienskappe in jou raaksien, te vra. Hulle sal soms duidelik sien hoe jou ware doel nie tot uiting kom nie.
Vra wat hulle vir hulleself sê nadat julle saamgekuier het. En hoe jy hulle beïnvloed en inspireer.
Selfontdekking is baie belangrik, maar dit is ’n tydsame proses. Wanneer hierdie proses egter klaar is, moet jy dit met jou gesin deel.
Praktiese dinge wat julle kan doen, is om as ’n gesin byvoorbeeld ’n collage te maak van hoe elkeen dink julle toekoms moet lyk.
Om saam te gesels oor hoe julle as ’n eenheid kan saamwerk, maar steeds elkeen se individualiteit en uniekheid kan respekteer.
Bou die waardes in waarvoor julle staan en wat julle wil uitleef.
Kyk elke jaar na julle prentjie, verander dit indien nodig, en leer uit die foute van die afgelope jaar.
So skep jy jou eie geluk en leef jy jou doel, en spoel dit oor na jou gesin – en die wêreld!