As ons ’n lang en gesonde lewe wil hê, moet ons ons perspektief oor kos en oor ’n gesonde leefstyl verander. Dit begin alles by balans.
2020 was Japannese vroue se lewensverwagting ’n indrukwekkende 84,67 jaar. In Suid- Afrika is vroue se lewensverwagting heelwat minder – 64 jaar. Wat doen Japannese vroue dan anders?
Die vroue in Japan het die mooiste vel. ’n Mens sukkel regtig om hulle ouderdom te skat.
Blou sones is waar mense die langste lewensverwagting in die wêreld het. Okinawa is ’n eiland in Japan. Daar raak die gemiddelde vrou 90 jaar oud. Daar is ’n paar blou sones in die wêreld en daar doen mense min of meer dieselfde dinge.
Hulle eet amper geen geprosesseerde kosse nie en eet meestal vrugte en groente. Hulle eet ook meer vis as rooivleis. En laastens, maar beslis nie die minste nie, beskou hulle kos as medisyne.
Die mense in hierdie blou sones eet seisoenaal. Hulle slaap genoeg en spandeer baie tyd buite in die natuur.
Hulle beweeg ook daagliks – hulle hardloop nie noodwendig marathons nie, maar hulle bly aan die beweeg.
Superkosse kan veroudering vertraag en jou langer gesond hou
Daar is drie kosse wat die verouderingsproses kan vertraag. Eerstens kollageen – jy kan dit of deur kos inneem of ’n aanvulling gebruik.
Dit is oral in Japan beskikbaar. Hulle gebruik dit in drankies en in gesonde peuselhappies. Die Japannese is mal daaroor!
Kosse wat kollageen bevat, is beenmurg, vis, blaargroentes, bessies, eiers en sitrus wat die liggaam kan help om kollageen te absorbeer.
Groentee is ’n superkos wat vol anti-oksidante is. Dit is ’n goeie idee om jou dag elke oggend met ’n koppie groentee te begin. Dit mag egter dalk ’n tydjie vir jou palet neem om daaraan gewoond te raak …
Bessies het baie kognitiewe voordele wat jou geheue verbeter en help om skade wat daar teen breinselle mag wees, te verminder. Dit is ook uitstekend vir jou vel omdat dit propvol vitamiene, minerale en anti-oksidante is.
Iets wat ons by die Japannese kan leer, is hoe hulle hulleself tyd gun vir ontspanning. Hulle is mal oor onsen-kuierplekke. Dit is baddens vol minerale waarin hulle graag sit en kuier.
Daar is ook masseringsplekke om elke hoek en draai. Dit help natuurlik om hulle stresvlakke onder beheer te hou. Tydens middagete gaan sit almal buite om vars lug te kry.
Ons moet nie die waarde daarvan onderskat om net ’n bietjie te stop en asem te haal nie.
Japannese beweeg! Hulle stap baie en die gimnasium is propvol. Hulle fokus daarop om hulle lywe gesond te hou.
Daar is balans en baie verskeidenheid op hulle borde. Wanneer jy na hulle borde kyk, sal jy altyd ’n verskeidenheid van kosse sien wat soos die reënboog lyk.
Kom ons leer iets by hulle. Pas net een van die dinge toe en kyk hoe dit ons lewe kan verander.