Voel jy moeg en of jy geen energie het om jou daaglikse take aan te pak nie? Daar is goeie nuus. Dit kan opgelos word deur die regte tipe graan by jou dieet in te sluit. Nie alle koolhidrate is verbode nie – volgraan is ’n móét.

Komplekse koolhidrate soos volgraanprodukte is koolhidrate wat stadig in jou liggaam verteer en geabsorbeer word. Glukose (suiker) word dus teen ’n stadiger tempo in die bloedstroom vrystel. Hierdie geleidelike vrystelling beheer jou bloedsuikervlakke optimaal.

Onverfynde koolhidrate word weer vinnig in die liggaam verteer en geabsorbeer. Sodoende word energie teen ’n vinniger tempo vrygestel, maar ná ’n kort rukkie sal jy weer pootuit wees.

Jou energievlakke moet konstant hoog genoeg wees

Dit is amper asof jou liggaam wipplank met jou ry. Die een oomblik is jy vol lewenslus, net om weer ’n oomblik later gedreineer en pap te voel.

Aangesien volgraanprodukte jou bloedsuikervlakke die beste handhaaf, sal dit goed wees om meer van hierdie tipe voedsel in jou dieet in te sluit. So voorsien jy jou liggaam van volgehoue energie.

Ons noem dit ook onverfynde koolhidrate. Dit het min prosesse ondergaan en behou al drie dele van die graan. Die drie dele is die ru-vesel (buitenste doppie van die graankorrel), die endosperm, asook die kiemgedeelte wat baie noodsaaklike voedingstowwe bevat.

Verfynde koolhidrate is graan wat baie meer prosesse ondergaan het. Dit behou op die ou einde slegs die endosperm en nie ook die kiem- en ru-vesel gedeelte soos wat by volgraan die geval is nie.

Dit beteken daar het baie noodsaaklike voedingstowwe tydens die verwerkingsproses verlore gegaan. Daarom is dit nie so gesond vir jou nie, en moet jy dit liefs vermy.

Bring gerus meer bekende grane by jou dieet in, soos bruinrys, hawermout en volgraanbrood, -pasta en -beskuitjies. Ondersoek ook minder bekende grane soos amarant. Probeer witbrood, -meel en -rys uitsny. En bly eerder weg van koekies, pizza, pasteie en donuts.

Voorkom verskeie siektes deur volgrane in jou etes

Volgrane help met die voorkoming van leefstylsiektes. Volgraanprodukte bevat ’n groot hoeveelheid minerale en vitamiene soos magnesium, kalium, sink, koper, mangaan, B-vitamiene, asook vitamien E en fitochemikalieë.

Hierdie nutriënte hou verskeie belangrike gesondheidsvoordele in. Dit help om cholesterolvlakke te verlaag, dit verminder die risiko van diabetes mellitus tipe 2, vetsugtigheid en beheer ook hoë bloeddruk.

Die fitochemikalieë kan ook help om jou risiko vir kolonkanker te verminder.

Die veselinhoud in volgrane voorkom hardlywigheid deurdat dit water in die dikderm absorbeer. Dit verbeter weer op sy beurt ontlasting, en jou algehele gesondheid.

Vesel tree ook op as ’n probiotika. Met ander woorde, dit help om die goeie bakterie in jou spysverteringskanaal te bevorder en sodoende jou immuunsisteem te versterk.

Verskeie studies het al bewys dat mense wat verfynde koolhidrate vervang het met volgraanprodukte, se konsentrasie van inflammasiemerkers in die bloedstroom aansienlik afgeneem het. Daarom help dit om inflammasie te voorkom.

Neem die regte vesel in as jy voedselallergieë het

Wat as jy allergies is vir gluten? Gluten verwys na die proteïen wat in die endosperm van verskeie graansoorte, soos koring en rog, aangetref word. Dit maak deeg elasties, help dit rys en verskaf ook aan die eindproduk sy taaierige tekstuur.

Die proteïeninhoud wissel van graan tot graan. Sommige mense is óf allergies vir gluten óf is gluten-sensitief óf het seliaksiekte. Indien jy een van hierdie toestande het, moet jy eerder koring en rog vermy en dit vervang met bruinrys, bokwiet, hawermout of amarant.

Kyk mooi op die voedsel-etikette voor jy volgraanprodukte koop.

Hoe weet jy ’n produk is waarlik volgraan? Dit is belangrik om daarop te let of die woord volgraan of whole wheat op die verpakking voorkom en nie slegs die woord graan of wheat nie.

Wonder jy nou hoe gaan jy te werk om maklik die regte volgrane by jou etes in te sluit?

Dis eenvoudig. Kry dit in deur ’n toebroodjie van volgraanbrood, gekookte eier en slaaiblare. Of vervang die brood met kraakbeskuitjies, en die vulsel met enige ander wat gesond is.

Maar jy hoef nie al drie maaltye per dag van rou bestanddele af gaar te maak nie. Sekere “kits”-geregte is soms aanvaarbaar. Lees net eers die verpakking.

Dis eenvoudig. Kry dit in deur ’n toebroodjie van volgraanbrood, gekookte eier en slaaiblare. Of vervang die brood met kraakbeskuitjies, en die vulsel met enige ander wat gesond is.

Maar jy hoef nie al drie maaltye per dag van rou bestanddele af gaar te maak nie. Sekere “kits”-geregte is soms aanvaarbaar. Lees net eers die verpakking.

Selfs bokspap is van tyd tot tyd oukei – maak net seker dit bevat vesel en goeie grane sonder allerlei suikers.

Volgraan kom uit die hart van die natuur en kan jou kwaliteit van lewe net verbeter. Jy sal vir eens en vir altyd vir jou moegheid koebaai kan sê.