Kwaliteit slaap is belangrik vir jou gesondheid, energie en emosionele welstand. Tog sukkel baie mense om saans af te skakel. Ontdek hoe goeie slaapgewoontes jou kan help om beter te rus en meer uitgerus wakker te word.

Dit is skuins ná 23:00, en ek is doodmoeg. Môre is ’n uitdagende dag en my brein moet rus, maar o wee … al wat kom is die slaap. Skielik pla alles … die kraan drup, iemand snork, daar is ’n kattegeveg vyf strate verder. En dit tref my my graad 12 kind moet, voor môre, ’n skooltaak doen!

Jou liggaam en brein herstel tydens kwaliteit slaap

Nét more-oggend gaan vra ek vir die apteker ’n kalmeermiddel …

Dit kan mos nie so aangaan nie! Nag ná nag vind hierdie binnegesprekke plaas. Klink dit bekend? Of gebeur dit net met my?

Die meeste mense voer van tyd tot tyd hierdie stryd. Daar is talle oorsake hiervoor, enige iets van hormonale versteurings tot trauma of erge spanning.

Indien die probleem voortduur en in slapeloosheid verander, sal jy al die simptome van intense moegheid begin ervaar. Dit kan skadelik vir jou gesondheid en welstand wees.

Volwassenes het sewe tot nege uur se slaap per dag nodig terwyl tieners agt tot nege en ’n half ononderbroke ure benodig. Dit wissel van persoon tot persoon, maar ’n mens leer jou liggaam ken. Elke uur voór middernag is twee uur ná middernag werd.

Dit is ’n gevolg van die verskillende slaapfases, asook die invloed wat die aarde se tydritme op jou liggaam het.

Slaap vind in vier fases plaas. Die patroon begin met die eerste fase, dan die tweede en derde fase, waarna fase twee herhaal word.

Dan gaan die liggaam na REM-slaap (rapid eye movement), die vierde fase. Na REM-slaap keer die liggaam terug na fase twee, gevolg deur nog ’n REM-fase.

Klein veranderinge kan jou help om beter te slaap

Hierdie siklus word vier tot vyf keer gedurende die nag herhaal. Die meeste mense bereik die eerste REM-fase ongeveer 90 minute nadat hulle aan die slaap geraak het. Dit duur net ’n rukkie, maar daarna word elke REM-tydperk stelselmatig langer en kan tot ’n uur lank duur.

Die algemeenste gevolge van ’n tekort aan slaap is verswakte prestasie omdat die geheue sowel as kognitiewe vermoëns aangetas word. Emosionele probleme en uitdagings, soos depressie, angstigheid en erge gemoedsversteurings, vererger met te min of te veel slaap.

’n Groot uitdaging is die gesondheidsprobleme wat ontwikkel as gevolg van onvoldoende rus.Voorbeelde hiervan is gewigstoename, hormonale wanbalans, hartaanvalle, hipertensie, beroertes en geestesiektes.

Goeie slaappatrone kan ons lewenskwaliteit verhoog en ons lewensverwagting verleng. Sien dus toe dat jy ’n goeie nagrus inkry. Deeglike voorbereiding is die hoofbestanddeel vir enige suksesvolle gewoonte.

Rig eerstens jou slaapkamer reg in vir ’n ordentlike rusplek.

  • Hou die kamer donker. Die minimum lig wat pla, is altyd beter.
  • Sorg vir ’n rustige atmosfeer met nie-steurende, herhalende geluide.
  • Reguleer die temperatuur; koeler is beter.
  • Belê in ’n goeie matras en kussings.Vervang dit elke drie tot ses maande.
  • Maak jou kamerruimte vir jouself visueel mooi.

Goeie slaapgewoontes help jou om beter te slaap

Berei jouself daarna voor.

  • Moenie twee uur voor jy inkruip swaar maaltye eet nie.
  • Maak seker dat jy goed gehidreer is.
  • Besoek die badkamer voor jy vir die nag gaan lê.
  • Vermy ’n halfuur voor ligte af-tyd tegnologie soos telefone en rekenaars met blou lig.
  • Bly by ’n vaste roetine.
  • Koester dankbare, vredevolle en aangename gedagtes.
  • Hou ’n notaboekie langs jou bed waar jy alle goeie idees of dinge wat jou bekommer neerskryf.

Hou die volgende in gedagte om meer ontspanne te gaan lê:

  • Oefen gedurende die dag (oggend of vroegmiddag).
  • Vermy stimulante, soos byvoorbeeld koffie, ná 15:00.
  • Moenie honger of oorversadig in die bed klim nie.
  • Gaan besoek mense – kom uit die huis! So ruil jy energie uit, eerder as wat jy heeldag geïsoleerd agter ’n rekenaar sit.
  • Stel jouself bloot aan natuurlike sonlig, dit versterk jou sirkadiese ritmes en slaapsiklus
  • Kry genoeg magnesium in. Dit reguleer neuro-oordragstowwe in die senuweestelsel en ook die melatonien-hormoon, wat slaapsiklusse in jou liggaam beheer.

Onthou al hierdie inligting wanneer jy weer in jou bed klim. Kwaliteit slaap bevorder nie net ons gesondheid nie, maar verleng ook ons lewensverwagting.

My laaste gedagtes terwyl my oë toeval, is die woorde waarmee Benjamin Franklin vir my nagsê: “Early to bed, early to rise, makes a man healthy, wealthy and wise!”