Gryp jy ook so vinnig na aanvullings of medisyne dat jy van al die effektiewe natuurlike geneesmiddels vergeet? Praat met ’n kenner van natuurlike middels, en probeer eers jou siekte of probleem met iets uit die natuur verbeter.

Ons word om elke hoek en draai oorval met produkte vir gesondheid. Die mark vir verslankingsmiddels en teenverouderingsprodukte is groot en word wêreldwyd goed ondersteun. Jy kan ’n pil, poeier, drankie of oplossing vir byna elke kwaal vind.

Moenie oorhaastig net nóg ’n aanvulling koop nie

Hoe kies jy een vir jou begroting en behoeftes? Kyk jy na die pragtige etiket? Vat jy die een wat klinies getoets is? Die een met die lang lys bestanddele waarvan jy skaars die name kan uitspreek? Óf die een met ten minste vier uit vyf sterre?

Jy beskou die neem van ’n aanvulling dalk as ’n goeie oplossing. Maar kos bevat baie meer as net ’n paar voedingstowwe, dit bevat honderde biochemiese komponente. Die voedsel in ons yskas, kruidenierskas, groenterak en vrugtemandjie is reeds propvol voedingswaarde.

Die Griekse filosoof Aristoteles het geskryf,“daar is nie ’n ding in die natuur wat nie wonderbaar is nie”.

Behalwe dat kos lekker en deel is van alle sosiale geleenthede, moet jy dit eet vir energie, voeding en oorlewing. Dit is só deel van ons alledaagse lewe dat ons eintlik vergeet hoe kompleks en gesofistikeerd voedsel is en waar dit vandaan kom.

Die hoofbron van energie in lewende organismes is die son.

Laerskoolkinders leer in biologie van fotosintese, en skets plante met verskillende wortelstelsels wat tot diep in die grond strek.

Deur fotosintese neem plantblare sonlig en koolstofdioksiedgas op en vervaardig voedsel in die vorm van glukose en stysel. Die grond waarin die plant staan, verskaf water en minerale, soos stikstof, fosfor en kalium, wat deur die plantwortels opgeneem word.

Maak seker die kos op jou bord het verskillende kleure

Groente en vrugte bevat antioksidante en ’n kleurpigment wat die plant beskerm teen siektes, insekte en beserings. Dis die plant se

“immuunstelsel”.Wanneer jy eet, is dié voedingstowwe beskikbaar vir jou absorpsie. Dit verbeter jou eie immuniteit en gesondheid.

Kenners beveel aan jy moet al die kleure van die reënboog inneem, want groente en vrugte se kleurpigment bevat verskillende soorte fitonutriënte. Fitonutriënte soos likopeen en betakaroteen is antioksidante, en gee onderskeidelik aan groente en vrugte hulle rooi en geel/oranje kleure.

Antioksidante beveg vrye radikale wat skade, siektes en veroudering in die lyf veroorsaak. Elke kleurpigment het ander gesondheidsvoordele en daarom is ’n verskeidenheid in die dieet nodig.

Plantaardige voedsels is ook ryk aan vitamiene, minerale en vesel. Dit sluit nie net groente en vrugte in nie, maar ook volgrane, peulgroente, neute en sade.

Omega-3-vetsure, vitamien E, vitamien C en proteïene hou ook gesondheidsvoordele in en werk veroudering teen. Donkerpienk vis (salm, sardyn, makriel en haring), vlas- en chiasade, asook okkerneute, is ryk aan omega-3-vetsure.

Vitamien E verleng selleeftyd en dien as ’n antioksidant (olies, neute en sade) en vitamien C help met kollageenvorming (soetrissie, koejawel, sitrus, bessies en broccoli).

Vir ’n mooi vel, hare en naels, maak seker jou dieet bevat elke dag genoeg proteïene. Sowat ’n palmgrootte met elke hoofmaaltyd is ’n goeie porsie.

’n Gesonde spysverteringskanaal laat jou liggaam werk

Proteïene hoef nie net van dierlike oorsprong te wees nie, bone, lensies, kekerertjies, soja, sade en neute is ook goeie bronne.

Jou spysverteringskanaal bevat sowat 70% van jou immuunstelsel en navorsing toon verskeie siektetoestande hou verband met ’n ongesonde hoeveelheid slegte bakterieë in die dermkanaal.

Om gesond te bly en veroudering te vertraag moet jy toesien dat die gesonde bakterieë in jou dermkanaal genoeg is. Kosse ryk aan vesel soos volgrane, groente, vrugte, peulgroente, neute en sade dien as voeding vir die goeie bakterieë in die spysverteringskanaal.

Dit hou ook voordele in vir hartgesondheid en speel ’n belangrike rol in die behandeling van diabetes, vetsug en spysverteringsprobleme.

Sekere voedselsoorte bevat ook goeie bakterieë en kan direk deur die dieet ingeneem word. Dit sluit gefermenteerde kosse in soos jogurt, maas en kefir-drankies.

Kefir is beskikbaar as ’n suiwel en nie-suiwel drankie en word gemaak van ’n kombinasie van bakteriese en gis-kulture. Dit kom voor in die verkoelde suiwelafdeling van die meeste gesondheid- en kettingwinkels.

As jy weer oorweldig voel deur alles op die mark, onthou alles in die natuur is perfek geskape vir jou behoeftes. Vul jou mandjie met groente, vrugte, sade, olies, neute, grane, proteïenkosse en gefermenteerde voedsel.

Jy gaan soveel meer inkry as net met ’n aanvulling.