Die beeldskone krulkop REANDI GREY kleur jou dag in deur net haarself te wees. As huweliksmaat, mamma, aktrise en klereontwerper leef sy haar droom uit. Sy fokus op dít wat haar siel voed en gelukkig maak. 

Ek mis die eenvoud en vryheid van die plaaslewe.  

“Kan ek op die plaas gaan bly?” het ek gevra.

My ouers was geskok. Hoekom wil ’n klein meisietjie dan nou haar ouerhuis verlaat.

Tog het my ouers verstaan dat my hart, siel en gees op die Vrystaatse plaas geblom het. Daarom het ek elke langnaweek en skoolvakansie gaan kuier.

Dit was vir my vreeslik lekker om die plaas vir Oupa te bestuur. Ek het soggens vroeg opgestaan, die windbuks gevat en die vinke wat Oupa se bome uitroei, gaan skiet. Dan is die eiers uitgehaal en daar vir die diere kos gegee.

Daar het ek geleer hoe om gelukkig met myself, nes ek is, te wees.

Ek kan inspirasie en motivering op enige plek vind. 

As kunstenaar vat dit nie baie om inspirasie te kry nie – solank iets nuut geskep kan word. Enige spasie waarin ek my kreatiewe self kan wees, inspireer my.

Wanneer ek verf, skilder of aan my klerereeks werk, is ek op my gelukkigste.

Tussen lewendige kleure word my gevoelens uitgedruk en my innerlike weerspieël. Elke kind is ’n kunstenaar, die probleem is hoe om ’n kunstenaar te bly as jy groot word.

Om vorm en tekstuur in alledaagse dinge te sien – wat ander mense nie noodwendig sien nie – dít maak my sielsgelukkig en die lewe die moeite werd.

My ouers het besef ek is ’n gebore kunstenaar. 

“As sy net doen waarvoor sy lief is, kan sy gefokus bly,” het my ma een aand vir my pa gesê.

Om op skool te konsentreer was vir my moeilik, maar alles het verander nadat die dokters met my ma gepraat het. Hulle het gesê dat ek aandagsgebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) het, maar my ouers het besef ek is net ’n kunstenaar.

Dit het ook ’n groot impak op die verhouding tussen my en my ouers gehad, want hulle het besef dat hulle kind ’n skepper is.

My ouers het my die vryheid gegee om kreatief te wees en tyd te spandeer aan dít wat my die mens maak wat ek veronderstel is om te wees.

My ouers wys my hoe om lief te hê. 

Ons het elke jaar wildtuin toe gegaan. Terwyl my ma en sussie nog laat geslaap het, het my pa vroeg opgestaan.

Dan het hy ’n groot fles koffie gemaak en die vorige aand se braaivleis saam met beskuit in ’n kosmandjie gepak.

Ons sou eerste by die wildtuin se hek staan.

Dit was ons spesiale tyd saam. Ons sou by watergate sit en gesels, die diere ’n bysaak.

Dit was vir my die mooiste opsomming van liefde – my pa se bereidwilligheid om my liefdestaal te verstaan en te praat.

My liefdestaal is kwaliteit-tyd. Én my pa het dit geweet.

My lewe is beter as dit waaroor ek gedroom het. 

“Mamma is by die huis! Sy is klaar gewerk,” hoor ek my dogtertjie se stemmetjie en haar kaalvoetjies in die gang afgehardloop kom. Dis die droom.

Ek leef definitief my droomlewe, maar dis nie die droomlewe wat ek in gedagte gehad het nie.

My hele lewe lank was drama nommer een op my lys – dít was my lewenslange droom.

Om getroud en ma te wees was nie deel van die droom nie.

Net voordat ek as duikinstrukteur Mosambiek toe sou trek, kruis my man en my paadjies vir ’n tweede keer. Toe ek weer sien, is ons getroud. Nou is ons tweede dogtertjie al op pad.

Ek wil as aktrise stories van hoop vertel. 

As ’n mens ’n aktrise is, is dit eintlik verskriklik lekker. ’n Mens kry die geleentheid om verskillende karakters uit te leef.

Akteurs speel die karakters van mense wat hulle nog nooit eens ontmoet het nie. Hulle gaan na plekke wat hulle andersins nooit sou sien nie.

Terwyl ek die rol van Esti Fouche in 7de Laan gespeel het, het kykers vir my dankie gesê dat ek vir hulle gewys het dat hulle omstandighede nie hulle menswees definieer nie.

Die dramawêreld gee my die geleentheid om nuwe hoop aan kykers te gee. Hoewel dit vir my ’n fantasiewêreld is, is dit iemand daar buite se werklikheid.

Geen paadjie wat jy stap, is ooit onnodig nie. 

Ek wou my lewe lank net ’n aktrise word, maar ek het toe eerder grafiese ontwerp gekies. Dit sou meer stabiliteit bied.

In die middel van my eerste jaar was ek bitter ongelukkig en onvervuld. Die lieflike ouers wat ek het, het my nuwe studiekeuse ondersteun.

Ek het afgevlieg Stellenbosch toe, drama-oudisies gaan doen en keuring gekry. Alles was reg, maar my trots het my gekeer om op te skop.

Toe my klerereeks ’n werklikheid word, het ek met dankbaarheid besef dat my studies in grafiese ontwerp my vandag baie help.

Die paadjies wat ek gestap het, het my tot by vandag gebring – ’n kleurvolle en vervullende plek.

Dis nou tyd vir my om terug te gee. 

Dis my begeerte om met ander te deel wat die lewe my geleer het. Daar is soveel lesse wat ’n mens hier op aarde leer.

Ek dink dis hoekom God ons geskape het – om dissipels vir hom te wees, om mekaar te help en te ondersteun.

My volgende groot stap is ’n podsending vir dertigers genaamd “Die lewe begin op 30”.

Dis ’n ongelooflike geleentheid en voorreg!