Groot hartseer het die sangeres IRENE-LOUISE VAN WYK geïnspireer om te bly groei. Maar dit is ma-wees wat haar vir ewig verander het.
“Tekkies Brand” het van jou ’n huishoudelike naam gemaak. Het jou loopbaan verloop soos jy verwag het?
My loopbaan het nie uitgedraai soos ek gedink het nie. Ek sal sê dit het in baie opsigte beter uitgedraai as wat ek ooit kon hoop.
Ek het nooit gedink ek sal die geleentheid kry om te sing nie, laat staan nog vir so lank. Dit is hierdie jaar my negende jaar in die musiekbedryf en ek kan nog steeds doen wat ek so liefhet.
Ek het nog baie drome. ’n Paar van my drome het reeds waar geword. Ek het byvoorbeeld aan Afrikaans is Groot deelgeneem en ’n paar ander klein dinge gedoen wat ek altyd vir myself gehoop het.
My ander groot droom is Krone, wat later hierdie jaar gebeur. Ek is baie opgewonde en dankbaar dat ek steeds kan doen wat ek doen ná nege jaar. Ek het mense wat my ondersteun en steeds na my musiek luister ná so ’n lang tyd.
In 2020 het jy jou ma se lied “Kringe” as ’n duet opgeneem waar jy saam met haar sing. Wat het dit vir jou beteken om saam met jou ma te kon sing, soveel jaar ná haar dood?
“Kringe” was vir my ’n ongelooflike ervaring. Toe my ma “Kringe” opgeneem het, was ek baie jonk. Ons het oorweeg om my in die liedjie te kry, maar dit het nie uitgewerk nie.
Ek was te jonk, en hulle het toe Nádine se stem gebruik, wat ’n pragtige liedjie geword het.
Dit was altyd ’n groot droom vir my om ’n liedjie saam met my ma te hê, wat ongelukkig nooit gebeur het nie. Daarom het ons, ’n paar jaar ná my ma se afsterwe, besluit om Nádine se stem te vervang met myne, om ’n ma-dogter-duet te maak.
Dit het ’n ongelooflike liedjie geword. Ek het dit vir ’n paar vertonings gesing, maar die oomblik was vir my te groot, so ek het dit vir eers uitgehaal.
Die liedjie is vir my baie spesiaal, en nadat ek my dogtertjie gehad het, het dit ’n nuwe betekenis gekry. Nou kan ek die ma-dogter-verhouding met my dogtertjie deel.
Deel iets van wat jou dogtertjie Kelsey al gedoen of gesê het wat jou hart laat vermurwe het?
Dit is vir my ’n groot voorreg om ’n mamma te wees. My dogtertjie is nou vier en word hierdie jaar vyf.
Sy is op ’n baie lekker ouderdom en doen daagliks oulike goed. Dit is vir my lekker om te sien hoe sy ’n persoonlikheid kry en ’n wil van haar eie het.
Sy sê gereeld vir my sy’s lief vir my, wat elke mamma se hart sag maak. Iets snaaks wat gebeur het, is dat Kelsey regtig ’n prinses is.
Eendag het sy ’n permanent marker in die hande gekry. Ek het ’n klomp wat rondlê vir my merchandise of parfuum en om vir mense te teken by shows.
Kelsey is lief om te teken en ek was bang sy gaan enige plek teken. Ek sê toe vir haar, “Kelsey, sit daardie permanent marker neer,” en sy sê vir my, “no.” Ek sê weer, “Kelsey, sit daardie permanent marker nou neer,” en sy sê, “no, you must say please.”
As ouers probeer ons ons kinders maniere leer, nou probeer sy vir my maniere leer. Ek sê toe, “Kelsey, please sit die permanent marker neer.” Sy antwoord, “no, I am prinses Kelsey.’ Ek sê toe, “okay prinses Kelsey, please sit die permanent marker neer.”
En toe sit sy hom neer, net omdat ek gesê het “please” en “prinses Kelsey”.
Sy is super cute, baie snaaks en silly, en het soveel energie en liefde om te gee. Sy het die mooiste hart en ek is baie opgewonde om te sien watter mensie sy gaan word.
En hoe sou jy sê het ma-wees jou verander?
Ek dink elke vrou verander op die een of ander manier wanneer sy mamma word. Ek het besef dat die gesegde “you can’t pour from an empty cup” baie waar is.
As my glasie leeg is, kan ek nie gee nie. Maar as mamma vind jy ekstra water om te gee, selfs as jy siek is of nie goed voel nie.
Daar is altyd ’n stukkie van jou wat gee as jou kind dit nodig het.
Om siek te wees en ’n siek kind te hê, is nie vir sissies nie. Selfs wanneer jy voel jy kan nie opstaan nie, doen jy dit net.
Ek het besef ek is baie sterker en meer in staat as wat ek gedink het. My hart kan baie liefde gee en het ook sagter geword.
Jy is baie gewild op sosiale media. Hoe antwoord jy iemand wat jou kritiseer oor jou voorkoms en gewig?
Baie mense vra my altyd oor cyber bullying. Ek het nooit regtig bullying op skool ervaar nie; die meeste bullying wat ek ervaar het, was as volwassene.
Dit is grootmense wat ander grootmense afbreek. Ek kan ure lank gesels oor cyber bullying. Ek voel dat mense wat cyber bully, van die laagste is. Hulle kruip agter hulle skerms weg.
As jy ’n lelike comment kry en op hulle naam klik, is dit dikwels ’n skuilnaam, skuilfoto, of geen foto nie, en geen content op hulle profiel nie. Hierdie persoon bestaan nie.
Dit laat jou dink: Hierdie persoon wil nie eens hulleself op sosiale media sit nie, maar sê iets oor jou. So, vat dit net van wie dit af kom. Hoekom gee jy om wat ander mense dink as hulle nie eens hulleself like nie?
Dit is crazy dat mense dink hulle het ’n reg om op hulle rekenaars iets te sê. Ek bly nie stil nie. Hier en daar delete ek goedjies, maar ek voel dit is belangrik om op te staan. Ek het altyd teruggestaan en gekyk hoe mense my cyber bully, maar deesdae staan ek op vir myself en sê dit is nie reg nie.
Ek maak partykeer ’n video daaroor en dalk gee ek confidence vir ’n ander dogtertjie wat ook geboelie word, om op te staan vir haarself.
Dit is nie oukei om oor iemand se voorkoms te comment nie. Mense gaan jou anyway judge, so jy kan netsowel doen wat jou gelukkig maak.
As jy in die straat rondloop, kan ek jou belowe dat die meeste van die mense wat iets te sê het oor my online, dit nie in die regte lewe sal sê nie.
Hulle sê dit agter hulle rekenaar, want hulle voel hulle het meer power. Baie keer, as ek op daai comment comment, delete hulle dit. Dit is vir my ’n tipe shake it off; dit beteken niks.
Wanneer ’n mens na jou kyk op Instagram lyk jou wêreld pienk en vrolik, maar jy is ook baie oop en eerlik oor jou ervarings met angs en depressie?
Ek is iemand wat nog altyd baie oop is oor my struggles, angs en depressie. As jy angs en depressie in jou lewe gehad het, is dit nie iets wat net weggaan nie; dit is iets waarmee jy elke dag lewe en elke dag is anders.
Party dae voel jy great en ander dae sukkel jy om uit die bed te klim, wat baie met my gebeur tot vandag toe.
Daar is dae wat ek nie krag het om uit die bed te klim nie. Ek antwoord niemand nie, ek is nie op my selfoon nie, ek ignoreer basies almal.
Dit is vir my belangrik om daaroor te praat, want toe ek grootgeword het, was daar nie vroue wat hieroor gepraat het nie. Ek weet my ma het ook verskriklik baie gesukkel met depressie en niemand het daaroor gepraat daai tyd nie. Sy kon nie daaroor praat nie, want dit was taboe.
Dit is vir my belangrik vir mense om te weet ek is ook net ’n mens. Ek is besig om ’n motiveringspraatjie te skryf met die naam, Die ware ek.
Baie mense dink hulle ken my storie, hulle weet wie ek is, maar sosiale media is nie die regte lewe nie.
Sosiale media is ’n highlight reel van al die goeie goed wat aangaan in ons lewens; niemand wys as dit sleg gaan in hulle lewe nie. Ek voel dit is belangrik vir mense in die kollig om daaroor te gesels.
Dit is iets waarmee ek steeds struggle. Ek sien steeds ’n sielkundige en ek is baie oop daaroor.
Ek hoop en wens dat meer mense sal oop wees daaroor. Ek weet baie mense sukkel daarmee, maar hulle vertel nie die mense om hulle daarvan nie en dit is hoekom ons baie mense verloor.
Weet net jy is nie alleen nie en daar is altyd iemand wat bereid is om jou te help.