Hoe gaan ek vandag effektief wees? Bestuur jou tyd, projekte en doelstellings om jou te help om die beste gebruik te maak van elke geleentheid.
Weet hoe om te beplan en te skeduleer
Ek verstom my altyd aan mense wat eenvoudig meer uit ’n dag kan haal as ander. Hulle kry dit reg, want hulle gaan vir doelbereiking. Hulle weet hoe om te beplan en te skeduleer, om te delegeer en te beheer, om doelstellings te stel en die stappe uit te werk en te neem om daar uit te kom. Hulle is gewoon effektief, en is beslis nie soos die mense waarna daar in Spreuke 6:10 verwys word nie: “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie handevou en bly lê.”
Daarom oorval die armoede hulle nie, want hulle doen wat Spreuke 6:6 sê: “Gaan na die mier, kyk hoe effektief hy werk, leer by hom.” Die effektiewes onder ons snap wat in Efesiërs 5:16 staan: “en koop die tyd uit …”
Die eerste ding wat jy moet doen om jou drome te bereik, is om wakker te skrik. Efesiërs 5:14 sê: “Word wakker jy wat slaap … Wees versigtig hoe jy lewe … Maak die beste gebruik van elke geleentheid.”
Dit is nie genoeg om net effektief te wees nie. Jy moet effektief in die regte rigting op pad wees, met ander woorde jy het ook ’n kompas nodig.
’n Kompas gee vir jou die nodige riglyne sodat jy nie in die moeilikheid beland nie. Bekyk dus allereers jou karakter, want dit is jou karakter wat jou rigting gaan bepaal.
Steven Covey se boek oor tydsbestuur se titel is First things first. Jy moet dus eers jou waardes regkry en daaruit jou rigting bepaal. Dan eers kan jy besluit om effektief op daardie roete te gaan.
Wees effektief in die regte rigting
Is jy net in een aspek van jou menswees suksesvol of in alle aspekte van jou lewe? Maak seker dat jou lewe gebalanseerd is in alle opsigte.
Wat help dit dat jy in jou gesin se finansiële behoeftes kan voorsien, maar nie genoeg tyd het om jou kinders te sien grootword nie? Of, dat jy so hard werk, dat jy nie eens ’n sosiale lewe het nie?
Jy moet dus nie net tydsbestuur en rigtingbestuur doen nie, maar ook jou lewensbalans bestuur.
Die doel van die lewe is om jou lewensdoel te ontdek en dit uit te leef. Wanneer jy ’n behoefte raaksien en besef dat jy met jou talent, kennis en ervaring hierdie behoefte kan vervul, word jou lewensdoel gebore.
Hier is ’n paar dinge wat jy in jou Stiltetyd vir die Here kan vra:
- Gee vir my die krag, wil en dissipline om vandag die tyd uit te koop en effektief te wees.
- U is die pottebakker en ek is die klei – help vorm my karakter vandag, al is dit deur swaarkry.
- Gee vir my die krag vandag om nie net aan een aspek van my lewe aandag te gee nie.
- Maak vandag my oë oop vir die behoeftes van die wêreld en maak my opgewonde om my talente daaraan te koppel om ’n verskil op aarde te maak.