Die voorreg om te mag sterf in jou taal

Geroep om te dien, opleiding wat harte en lewens verander

Geïnspireer deur roeping en gewortel in geloof, leer versorgers by die Helpende Hand se Opleidingsinstituut nie net vaardighede nie, maar hoe om ware verskilmakers in ander se lewens te wees.

Haar hand rus sag in haar versorger se hand. Haar oë lyk hartseer, maar opgewonde oor wat wag. Waarskynlik omdat sy weet waarheen sy gaan. “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie,” lees tannie Marie se versorger vir haar uit die Bybel terwyl sy haar hare saggies vryf. “Net goedheid en guns sal my volg al die ...

Geïnspireer deur roeping en gewortel in geloof, leer versorgers by die Helpende Hand se Opleidingsinstituut nie net vaardighede nie, maar hoe om ware verskilmakers in ander se lewens te wees.

Haar hand rus sag in haar versorger se hand. Haar oë lyk hartseer, maar opgewonde oor wat wag. Waarskynlik omdat sy weet waarheen sy gaan. “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie,” lees tannie Marie se versorger vir haar uit die Bybel terwyl sy haar hare saggies vryf. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal in die huis van die Here tuis bly in lengte van dae.” Dawid se Psalm is voltooi en so ook tannie Marie se lewe. Sy blaas haar laaste asem uit en vat die Here se hand by die Jordaanrivier. Haar versorger maak tannie Marie se oë toe.  

Tannie Marie het gesterf in haar taal 

Die taal waarin sy eens op ’n tyd skool gegaan het, in die koor gesing het. Die taal wat sy as onderwyseres aangebied het, die taal waarin sy haar Verlosser gevind het. Die taal wat sy liefhet.

Haar versorger wat sy “Dogter” genoem het, staan saggies op, soos elke ander aand. Sy wou haar nooit wakker maak nie. Hierdie rus gun sy vir tannie Marie.

My ma was vir lank my ouma se versorger, daarna het sy ’n versorger gehad wat dag en nag na haar omgesien het en bederf het. Klein gebare soos om vir haar lekkers te bring en vir haar te sing. Hierdie versorger het soveel vreugde in my ouma se laaste dae gebring.

Natuurlik het ons familie elke keer wat ons kon, in Swellendam gaan kuier. My ma was elke dag by my ouma, maar haar versorger het ’n ander band met haar gehad. Die laaste band.

Hoe sê ’n mens dankie vir hierdie versorgers? Hoe sal ’n mens ooit kan dank betoon vir die onbaatsugtige roeping wat hulle uitleef? Hoe sal ’n mens ooit kan dankie sê dat hulle in die laaste oomblikke daar is?

By Solidariteit Helpende Hand se Opleidingsinstituutkampus sien ek studente wat geantwoord het op die roeping wat in hul hart geplaas is. ’n Mens sien nie net hierdie roeping nie, jy kan dit voel. Dit is tasbaar in die gange. Die roeping om te versorg.

Tannie Marie kon in haar eie huis sterf, saam met iemand wat haar lief leer kry het en respekteer. Haar kinders kon nie betyds by haar sterfbed wees nie, maar haar versorger was daar.

Daar is talle bejaarde persone, persone met gestremdhede en kinders wat versorging nodig het, en wat ’n seëning om dit te kan ontvang in jou hartstaal Afrikaans. Dit is waarom hierdie studente by die Opleidingsinstituut studeer, en dit is waarom ek my hoed vir hulle afhaal.

Opleidingsinstituut verander lewe van studente en hul pasiënte 

By hierdie instituut word daar aan ’n toekoms vir ons mense gebou. Daar word ’n pad gestap met diegene wat ’n verskil wil maak. Dit is ook op hierdie manier wat gemeenskappe ontwikkel word.  

Iemand se lewe word verander, ’n gesin se uitkyk word verander. Ons weet dat een van die beste maniere om ’n gemeenskap te ontwikkel is deur opleiding. Elkeen van die studente wat so nederig deur die gange stap en klas draf weet waarom hulle geroep is en hulle werk daaraan om die samelewing ’n beter plek te maak.  

By die private sentrum word vaardigheidsopleiding gebied wat diep in ons Christelike waardes gewortel is. Dit is hier waar lewens verander word. Dit is hier waar 141 versorgers al gestudeer het, en nog vele meer gaan.  

Studente geroep om gehaltesorg te lewer ongeag uitdagings 

Dit is nie ’n geheim dat Suid-Afrika ’n enorme tekort aan versorgers het nie. Daar waar opleiding wel plaasvind, is die gehalte nie altyd na wense nie.  

Dit moet en sal altyd ’n strewe wees dat opleiding van wêreldgehalte plaasvind in die gange van die Opleidingsinstituut. Dit is belangrik dat versorgers gereed is vir die uitdagings van die toekoms sodat hulle ’n bydrae kan lewer om gehaltesorg toe te pas daar waar hulle geroep is.  

Hierdie is ’n beroep van engele. Jy sal weet as jy hier lees wie in hierdie beroep sal floreer. Jy sal weet wie ’n verskil sal kan maak.  

Soos Hannes Noëth, uitvoerende hoof by Solidariteit Helpende Hand, sê: “Jy is geroep vir ’n tyd soos hierdie.” Miskien is hierdie jou tyd. Die samewerking en ondersteuning wat donateurs bied, is vir ons van onskatbare waarde. Miskien is jy die engel wat ander kan bemagtig om te kan studeer?  

Word deel van ’n roeping – verander lewens, in Afrikaans.
Jou bydrae kan ’n versorger bemagtig om in iemand se moedertaal liefde en waardigheid te bring – selfs in hul laaste oomblikke. Ondersteun opleiding. Ondersteun roeping. Ondersteun lewe.

Registreer

Registreer (gratis) om volledige toegang te kry – indien jy nie reeds geregistreer is nie.

Deel die artikel

Méér artikels

Klein gebare het die vermoë om groot verskille te maak. ’n Eenvoudige aankoop, ’n geskenkte item of ’n daad van hoop kan drome bewaarheid, lewens ...

Toegang tot tersiêre studie bied jongmense die geleentheid om hul drome te verwesenlik, armoede te ontsnap en ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te lewer. ...

Scroll to Top