Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. As iemand hom verbeel hy is iets en hy is niks, bedrieg hy himself. (Galasiërs 6:2-3) 

Soos skepe in die nag beweeg ons by mekaar verby: steurloos, geruisloos, omgeeloos. Elkeen voortvarend gefokus op ’n volgende missie, onbewus van mekaar se hart, behoeftes en nood … terwyl ons mekaar so bitter nodig het. So verlang vele na aandag, opregte belangstelling, ’n hart wat omgee, kameraadskap.

En so mis ons eintlik die rede vir ons bestaan: om liefde te leef.

Kom ons maak ’n punt daarvan om meer gereeld anker te gooi by ons medereisigers, om in hul oë te kyk, hul hart te hoor en iets van hul lewe te verstaan. Want dit is in die werklike luister na mekaar dat ons begrip en deernis ontwikkel. Dis in die deel van ons hartsreis dat ons self lewenslesse leer en in die dra van mekaar se laste dat ons agterkom: Ons bondeltjie is toe nie so swaar nie …

In die gee van onsself vind ons weer sin in die lewe, juis omdat ons dan agterkom waaroor liefde en die lewe toe werklik gaan. Kom ons pas mekaar met meer sorg op, stel opreg in ander belang en ontvang hulle met ’n ruimer hart.

Juis in die gee van onsself sal ons ontvang, meer as waarop ons ooit gereken het. Hierdie beginsel was die inspirasie vir een van my trefferliedjies, “Gee jouself”, want “om te gee is beter as om te ontvang”. Paulus stel dit selfs gelyk met God se wet.

Materiële hulp is nie al manier om jou naaste by te staan nie. Dalk ken jy iemand wat ’n siek kind of familielid versorg. Gee daardie persoon ’n drukkie. Ek weet, want dit het my lewe al die moeite werd gemaak toe ek dit nodig gehad het.