Sangeres en TV-aanbieder LEAH is positief, energiek, gewild, talentvol en het altyd ’n breë glimlag. Hoe bly sy positief, gelukkig en koester haar uniekheid?
Wat sou jy sê beteken geluk en vervulling vir jou?
Baie mense dink dalk dis cliché om te sê geluk is ’n keuse. Maar vir my is dit regtig ’n keuse.
Ek kies om die mooi en die geluk in dinge te sien. Ek is op ’n plek waar ek met ’n glimlag kan gaan slaap. Dit is vir my geluk. Dit gaan goed in my huwelik. Ek en my man werk daagliks daaraan; dit is ’n voltydse werk.
Ek is lief vir my hondjies en my werk, al is dit nie altyd maklik nie. Ek is nie altyd by die huis nie, maar dit is belangrik om geluk ook in daardie dae te vind.
Hoekom doen jy jou werk? Jy is gelukkig om jou werk te hê, so gryp dit aan. Gryp elke oomblik aan en leef vir vandag. Probeer om nie dieselfde ding oor en oor te doen nie.
Uit die aard van my werk is roetine min, maar wanneer ’n mens dieselfde ding oor en oor doen, verloor jy soms perspektief van wat jou werklik gelukkig maak.
Vat ’n tree terug en vra jouself hoekom jy doen wat jy doen. Wat moet jy verander sodat jy weer geluk ervaar? Dit is ’n vraag wat ek gereeld vir myself afvra.
Hoekom doen ek dit en maak dit my gelukkig? As dit nie doen nie, moet ek ophou of ’n mindshift maak. Baie dinge is in die kop en dit is moeilik. Geluk kom met ervaring, tyd en gebed.
Jou pa is oorlede toe jy baie jonk was. Hoe het dit jou uitkyk verander?
Die dood van my pa het ons as familie baie geruk. Ek was sewe jaar oud, en my boeties drie. Die grootste les wat ek daaruit geleer het, was dat wat jou nie dood maak nie, maak jou sterker.
Ek sou nie vandag die mens wees wie ek is nie, as ek nie deur daai moeilike tyd gegaan het nie.
Ek moes gouer verantwoordelikheid neem as die ouer suster, my ma was alleen en ons was drie kinders. Ek moes vinnig groot word, baie goed aanleer en na myself kyk.
Die onafhanklikheidsin wat ek toe aangeleer het as klein dogtertjie, het ek steeds.
As ’n kind dink jy, maar ek het nie ’n normale familie nie, hoekom is my gesin anders as ander? Maar my ma het ’n ongelooflike werk gedoen om ons groot te maak. Sy het harde klippe gekou, sy doen steeds.
Sy het my elke dag inspireer. Al was daar nie ’n pappa na wie ek toe kon gaan, of ’n drukkie kon gee nie, was sy daar. Sy het albei rolle vervul.
Ek dink gereeld daaraan en ek dink dit is belangrik om daaroor te praat. My pa het depressie gehad en daai jare was dit nie iets waaroor mense gepraat het nie.
My hoop is dat mense meer daaroor sal begin praat en hulp soek. As iemand nie homself wil help nie, kan jy hom nie noodwendig oorreed nie, maar daar is baie hulp daarbuite.
Dit is belangrik om by die regte mense uit te kom as iets nie vir jou lekker is nie.
Ek trek sterk 40 toe en as enigiets nie vir my lekker voel nie, of ek ervaar pyn, dan laat ek dadelik daarna kyk, want jy weet nooit waarheen dit kan lei nie.
Dit is baie belangrik om mooi na jouself te kyk. Jou fisieke liggaam en jou geestesgesondheid.
Hoe help jou ondersteuningsnetwerk jou?
My ma is my grootste aanhanger. Sy het altyd saam met my gesit by sangkompetisies, tot laat in die aand, al het ek nie gewen nie.
Sy het my van kleins af geleer dat jy nie altyd kan wen nie en dat daar altyd iemand sal wees wat meer talent het, mooier of slimmer is. Jy moet net jou beste gee.
Sy het ook gesê om jou voete op die grond te hou en na die sterre te reik. Sy het gedreig om my water en ligte af te sny as ek nie nederig bly nie, en ek is nou nog bang dat sy dit sal doen.
Ek het baie terugslae in my loopbaan gehad. Ek het van kleins af gedroom om te sing. Mense het my soms vir ’n vieslike ride gevat met leë beloftes. Ek onthou toe ons my eerste album moes uitbring.
Die tyd het min geraak en ek het gewag sonder werk. Ek was pasgetroud. Die album kon nie uitkom nie, die tyd was nie reg nie.
Ek was hartseer en dit was moeilik om te aanvaar. My man, my ma en almal om my het gesê dat alles op die regte tyd gebeur. Dit is nie my tyd nie, maar die Here se tyd.
Ons wil hê alles moet dadelik gebeur, maar dit is nie ons tyd nie, dit is die Here se tyd. Dinge het toe goed uitgewerk, vir die beter. Dit kon anders uitgedraai het as ek nie by God se plan gebly het nie.
Jy is ’n ambassadeur vir Huis Jabes, ’n veilige huis vir vroue en kinders. Wat beleef jy daar?
Huis Jabes doen ongelooflike werk. Hulle help vroue en kinders om weer selfvertroue te kry. Weekliks hoor ’n mens stories oor wat met die vroue en kinders gebeur.
Daar was onlangs ’n vrou wat in sekshandel ingetrek is. Dit is aaklig. Moenie dink dit gebeur net op televisie of ver van jou af nie.
Dit kan gebeur met mense wat letterlik op die pad verby jou ry. Dit is dalk vriendinne, mense van wie jy dit die minste van verwag. Dit is belangrik om op die uitkyk te wees vir die tekens en mense te ondersteun.
Daar is vroue van wie alles van hulle af weggevat is. Klere, geld, vervoer, alles word gevat totdat daar niks oorbly nie. Daar is niks van hulle siele oor nie, niks fisiek ook nie.
Dit is aaklig om te dink dat iemand dit aan ’n vrou kan doen. Dit is baie onregverdig, maar daar is hoop en baie suksesstories.
Een van die vroue het daar aangekom, gebroke en gekneus. Sy het soveel genesing ondergaan dat sy nou vir Huis Jabes werk. Sy het haarself opgebou en is vandag baie suksesvol.
Wat se belangrike boodskap wil jy deel met vroue en kinders wat deur moeilike omstandighede gaan?
Ek was nooit ’n slagoffer van fisieke mishandeling nie, maar ek het iemand gehad wat my emosioneel afgekraak het. Dit het so lank aangehou dat ek later amper nie meer myself geken het nie.
Ek het nie meer na my vriende of familie geluister nie, ek het hulle afgesny en vriende verloor. Ek het alles geglo wat hierdie persoon gesê het en gedink dit is alles my skuld.
Dit is nie jou skuld nie. Jy word deur hierdie persoon gemanipuleer en geïndoktrineer. Maak nie saak wat jy doen of probeer verander vir hierdie persoon nie, hy gaan nie verander nie. Kom weg.
Dit is nie die moeite werd nie, en daar is hulp vir jou. Jy dink dalk jy is vasgevang, maar jy kan uitkom. Daar is mense soos Huis Jabes wat jy kan bel. Hulle is betrokke by die polisie en daar is prokureurs en ’n netwerk van mense wat jou en jou kinders kan help.
Reik uit, want daar is baie hulp daarbuite. Van die begin van ’n verhouding af, kyk uit vir die rooi vlaggies. As iets vir jou “af” voel en hy tree anders op al het jy niks verkeerd gedoen nie, kan dit volgende keer erger wees.
Luister na jou intuïsie, want dit kan te lank raak en dan sit jy vas. Moenie vas sit nie, daar is hulp.
Watter boodskap wil jy aan jong meisies oordra?
Die eerste keer toe ’n dogtertjie vir my gesê het, Leah jy is my rolmodel, het ek so wow gevoel.
Maar daar kom ’n verantwoordelikheid daarmee, want iemand kyk op na jou en jy wil nie fouteer nie. Ons moet besef ons is almal net mense en ek maak baie foute.
Ek is alles behalwe perfek. Streef daarna om die beste weergawe van jouself te wees. As jy jouself is, is daar nie kompetisie nie. Die Here het jou gemaak soos jy is.
Hy het oor jou gedroom en gedink hoe Hy jou wil hê. Daar is niemand soos jy nie, niemand met dieselfde persoonlikheid nie. Elke mens het ’n uniekheid.
In my loopbaan gaan dit nie oor beroemdheid nie. Jy moet doen waarvoor jy lief is, en vir my is dit om mense te vermaak. Die ander goed is bonusse.
Jy moet alles met die regte intensies doen. Dit is harde werk, niks kom maklik nie. Wees jou eie unieke self, dan is daar geen kompetisie nie. Wees net die beste jy.