Wie onderrig in die wind slaan, gee nie om vir homself nie; wie op ’n teregwysing ag slaan, kry insig. Om die Here te dien, is om onderrig te word in wysheid … (Spreuke 15:32-33)
Ek was só oortuig dat al my planne presies gaan uitwerk toe ek die derde keer Uganda toe vlieg: hierdie keer met drie swaar tasse vol voorraad vir 40 lande se 150 afgevaardigde skoolhoofde. Hulle sou elke boek en CD op my uitstaltafel opkoop en nóg bestel. Ek het selfs ekstra betaal vir nog 20 kg buiten die 46 kg reeds toegelaat.
Was ek teleurgesteld, kwaad, of sommer net omgekrap dat iemand (was dit God?) my perfekte planne in die wiele gery het? Die drie tasse het swaarder gevoel toe ek hulle by die lughawe inweeg op pad terug. My beursie was leeg en my hart was moeg.
“Planne maak” behels vir my vier eenvoudige stappe: dink, praat, doen, geniet. Wanneer iets tussenbeide kom in een van die stadiums en die uitkoms verskil van dit wat ek gedroom het, kan dit groot teleurstelling bring.
Ek het diep gesoek en toe groot vrede gekry: God weet en besluit alles. Nie soos ’n ontoeganklike, afsydige God nie, maar soos ’n Vader wat beter weet. Amper het ek vergeet dat sy goedheid veel verder strek as sy onmiddellike tasbare liefde, genade, hulp en voorsiening in elke behoefte. Ek kyk oor my skouer en besef dat God se alwysheid en uitvoering daarvan vir my weereens ’n plek geword het waar ek berusting vind en veilig voel.
Vir jou was dit misien die verwagting van ’n gelukkige huwelik, ’n nuwe werk, ’n oorsese reis, ’n geliefde (wat dood is), ’n besigheid (wat misluk het). Moenie God se alwysheid vergeet nie. Sien dit as GOEDHEID dat Hy jou voetstappe gelei het in ’n rigting wat dalk nie in jou beplanning was nie.
Dankie, Here, U is altyd slimmer.