Soms wens jy jy kon ’n kykie in die toekoms kry sodat jy die regte besluite kon neem. Deur elke dag getrou te wees in die klein dingetjies, kry Sy plan vir jou lewe vorm. Kenner Lynette Beer wil jou aanmoedig om ingestel te wees om God se stem te kan hoor.
Dit sou darem lekker wees om te weet wat die meesterplan vir jou lewe is! Om te weet watter keuses om te maak betreffende jou loopbaan, verhoudings, finansies en daardie groot besluite wat jy moet neem.
Natuurlik gee God om oor daardie detail van ons lewe. Sy wil vir jou lewe sluit die groot dinge in, maar ook die klein dingetjies waarmee jy elke dag besig is.
Dit beteken beslis nie dat jou bekommernisse verdwyn nie. Bloot dat jy mag leef met die wete, jou lewe is reg. Dis omdat jy weet wie jy in Christus is.
Wanneer dinge jou begin onderkry? Kyk met ’n wyehoeklens en fokus op die groter prentjie.
As jy met ’n besluit nie vrede ervaar nie, is daar fout. Hierdie vrede maak in jou hart nes.
Dis ’n toestand wat jou hart en gedagtes veilig hou wanneer jy keuses moet maak. As jy verkeerde kant toe kies, kom sit die onvrede op die krop van jou maag.
Soms beteken dit wik en weeg. Dit neem ’n tyd van onsekerheid. Maar dan weet jy – dís die tyd vir stilword voor God.
Die tyd is ryp vir vrede soek en vir oorgee. Daarna kom dinge terug in fokus.
Soos jy elke dag se keuses maak, kry die groter besluite ’n beter fokus. Die beste manier om dus te weet hoe jy moet leef, is deur vandag die regte dinge te doen.
Aanvaar Hy het die beste plan vir jou
By Gadara kom Jesus en die dissipels ’n man teë. Hy het sonder klere skreeuend tussen die grafte rondgehardloop. ’n Weermag demone het hom stuk-stuk begin vernietig.
Toe die groep daar kom, tree hierdie besete man anders as al die ander kere op. Hy val voor Jesus neer. Jesus spreek die demone aan en sê hulle aan om uit hom te gaan.
Maar dan lees ons dat hierdie duiwels gesmeek het. Die woord in die oorspronklike Grieks beteken “gebed”. Die duiwels het intens leer bid!
Jesus antwoord die gebed van hierdie spul duiwels met ’n ja. Hy doen wat hulle vra. Hy stuur hulle in die varke in.
Daarna bid ’n ander man, die jongste bekeerling in die familie. Hy smeek om saam met Hom te mag gaan. Dis immers Jesus se eie opdrag aan sy dissipels.
Hierdie nuwe volgeling was gereed om sy land, dorp en mense te verlaat en na Galilea te vaar.
Dan kom die verbysterende antwoord: Nee. Ja vir die demone, maar nee vir die nuutste volgeling. Hy moes, net daar waar hy is, die Goeie Nuus uitdra.
Hierdie man het na die stede en dorpe in die omtrek gegaan. Daar het hy vertel wat die Here vir hom gedoen het. Een van daardie dorpe aan die suidekant was Pella.
Omtrent 36 jaar ná hierdie gebeurtenis het generaal Gaius Sestius op Jerusalem toegeslaan.
Die Jode in Jerusalem onthou toe die profesie: “Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge invlug” (Lukas 21:20-21).
Die Romeine verwoes later die stad. Hulle maak die tempel met die grond gelyk. Hier is egter die wonder, daar was blykbaar geen Christene in die stad meer oor nie.
Waarheen het hulle gevlug? Na ’n sekere stad met ’n sterk Christengemeenskap. Pella, een van die tien stede van Dekapolis.
Deur die volgeling se werk het ’n gemeenskap Christene tot stand gekom. Dus, toe die Christene uit Jerusalem moes vlug, het hierdie mense hulle ingeneem.
Verstaan jy nou hoekom Hy nee gesê het vir hierdie nuwe volgeling se dringende gebed?
Dalk worstel jy vandag en wonder waarom jy nie op hierdie oomblik in jou lewe ’n ja kry nie. Hoekom wil Hy nie nou vir jou ’n deur oopmaak nie? Onthou, die Here sien ver vooruit – tot in jou nageslag. Hy weet die beste!
Dien Hom met jou hele hart
Daar is ’n storie van ’n tannie wat by die hipermark uitkom met haar trollie. Daar sien sy hoe twee mans haar motor wil steel. Die tannie is gereed en geleer. Sy hardloop en haal ’n rewolwer uit. Die twee mans gee haastig pad.
By die huis aangekom, merk sy op dat dit nie haar motor is nie. Sy jaag polisiestasie toe. Dáár vind sy dieselfde twee mans. Hulle wil ’n geval van motorkaping aanmeld!
Ons verstaan hoe om ons besittings veilig te hou. Tog is ons sekuriteit soms so deeglik van buite, dat ons die binnekant vergeet.
Die eintlike plek waar jy die meeste verantwoordelik moet wees, is jou hart. Dit beheer en rig jou lewe.
Dinge wat regtig saak maak, kom uit die hart. Dis soos ’n innerlike beheersentrum. Die kern van ’n mens se lewe. Daaruit kom jou ingesteldheid, fokus en motiewe.
Dis ook waar jou binnelewe afspeel; die binnewerke van jou optrede – na twee kante toe, reg of sleg. Die hart is ook die verskuilde spelonk van vernietiging. Juis binne die hart skiet die sonde wortel. Dit besoedel die hele binnekant.
2 Kronieke 25 het ’n interessante deel. Ons lees hier van koning Amasia. Hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here, maar nie met sy hele hart nie. Dís so belangrik dat hierdie saak amper die koning se stamboom vervang.
Hy het die dinge gedoen wat reg was, maar …
Jy kan hier op aarde ook met ’n verdeelde hart sit. God soek jou hele hart – jou volle beheersentrum op Hom ingestel. Dan kan Hy deur sy Gees jou lewe verander soos waar Hy net die beste vir jou bedoel het.
Jy gaan Sondae kerk toe en volg die Christelike dissiplines baie getrou. Jy is ’n model vir ander. So-so leef jy as Christen, maar is jou hart daarin?
Ons aandag kan so maklik afgetrek word. Maar ons moet besef ons kan nie op ons eie bestaan nie. Hy is soos die asem wat ons inneem.
Godsdiens is wonderlik as jy jou hart volledig belê. Dis egter verskriklik as jou hart nie heeltemal in die ding is nie.
Die uiterlike vertoon beteken niks. Dit gaan uiteindelik oor wat in jou hart gebeur en nie soseer of jy reg leef nie.
Deel liefde uit, dit help jou én ander
Onthou, daar is nie slegs een pad nie. Ons leef in die tydperk van die inligtingsontploffing. Ons het soveel opsies.
Daar is ’n magdom geestelike boeke. Daar is hordes menings van ander, van beraders en kenners op die pad. Tog is daar slegs één Boek. Dis soos ’n GPS wat vir ons die roete reg kan aandui.
Jesus gee die roete-aanwysings in die bergpreek: “Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” Barmhartigheid in meer verstaanbare taal is niks anders as medemenslikheid nie.
Die pad vorentoe is om nie meer agtertoe te kyk nie. Jy breek met die ou lewe. Tog is daar méér, soos altyd in die evangelie.
Deur te breek met die ou dinge beteken nie dat ’n mens jou nou afsonder nie. Nou reik jy juis uit. Jy is dankbaar oor God wat na jou uitgereik het.
Dus stel jy jou beskikbaar. Jy wil Sy liefde nou deurgee aan ander wat dit nodig het.
Ons raak nie net ’n medemens se lewe nie. As ons begin om te gee, is dit dikwels die begin van herstel in ons eie lewe. Met ander woorde, medemenslikheid verander twee lewens – en selfs méér.
Hier is ’n ware verhaal wat dit illustreer. Sonja was kort in New York nadat sy uit Nazi-Duitsland ontsnap het. Sy het werk in ’n klerewinkel gekry en in ’n klein woonstelletjie gebly.
In Duitsland het soldate opgedaag. Hulle het haar suster se kinders by die skool gevat. Lise en Karl word slawewerkers in ’n wapenfabriek.
’n Vrou van die vlugtelingkomitee wat Duitsers help vlug, noem aan Sonja van twee Duitse kindertjies. Me. Stein vra of Sonja hulle nie wil aanneem nie.
Sonja worstel. Een nag kan sy nie slaap nie en haal die foto van haar suster met die twee kinders uit. Sy sit dit op ’n tafeltjie by die voordeur en bid: “Here, ek wil weer leef.”
Toe die kinders kom, stel me. Stein hulle voor: Lise en Karl. Karl sien die foto by die voordeur en sê: “Kyk, daar is Mamma!” Dit was haar suster se kinders!
Die pad na herstel is om na ander mense uit te reik. Dis die gee-roete. Dan is jou lewe ’n boodskap van lig. Dis soos ’n sein in ’n stormsee: Moenie oorboord spring nie, ons sal die oorkant haal.
Jou liefde en omgee raak vir ander God se ware verhaal van hoop.