Vir baie ouers voel graad 9 soos net nóg ’n skooljaar, maar NWU onderstreep dat dit een van die belangrikste mylpale in ’n leerder se skoolloopbaan is.
Verstaan hoekom die regte vakkeuses so belangrik is
Graad 9 is ’n belangrike jaar waarin jongmense vakke vir graad 10 tot 12 moet kies – vakke wat ’n invloed op toekomstige studie- en loopbaanmoontlikhede kan hê.
Dit is verstaanbaar dat hierdie besluit soms oorweldigend voel, veral wanneer ouers wonder of hul kind die regte vakke kies, nog onseker is oor ’n toekomstige beroep, of dalk later van plan sal verander.
Die goeie nuus is dat loopbaanontwikkeling nie ’n eenmalige besluit is nie, maar ’n proses wat saam met ’n jongmens groei en ontwikkel.
Vakkeuses is daarom nie die eindbestemming nie, maar bloot die eerste tree op ’n langer pad.
Elke leerder neem vier verpligte vakke, naamlik ’n huistaal, ’n eerste addisionele taal, wiskunde of wiskundige geletterdheid, en lewensoriëntering.
Daarbenewens kies hulle nog drie vakke wat by hul belangstellings, talente en doelwitte pas.
Die belangrikste is dat hierdie keuses nie bloot gemaak word op grond van wat maklik lyk nie, maar eerder op wat die leerder inspireer en motiveer.
Iemand wat lief is vir ontwerp, wetenskap en probleemoplossing, sal waarskynlik ander keuses maak as iemand wat ’n passie het vir mense, taal of die kunste.
Kontak die NWU vir loopbaanvoorligting en studiekeuses
by https://services.nwu.ac.za/af/student-counselling-and-development/loopbaan-studieleiding-en-voorligting.
Wat as my kind nie weet wat om te studeer nie?
Dit is heeltemal normaal as graad 9-leerders nog nie presies weet wat hulle eendag wil word nie.
Selfs baie volwassenes verander later in hul loopbane van rigting, daarom hoef jongmense nie reeds nou elke detail van hul toekoms uitgewerk te hê nie.
Wat wel belangrik is, is dat hulle begin om hul belangstellings, talente en moontlikhede te verken.
Die Noordwes-Universiteit (NWU) se Loopbaanvoorligtingsekosisteem is juis ontwerp om leerders en ouers tydens hierdie ontdekkingstog te ondersteun en hulle te help om meer ingeligte besluite oor die toekoms te neem.
Een van die waardevolste hulpmiddels in die stelsel, is die gratis Belangstellingsbepaler, ’n aanlyn instrument wat leerders help om hul sterkpunte, belangstellings en stokperdjies beter te verstaan.
Binne enkele minute ontvang hulle ’n persoonlike verslag wat moontlike studierigtings en loopbaanvelde uitlig.
Die doel is nie om vir ’n leerder voor te skryf wat hulle moet word nie, maar eerder om hulle bewus te maak van die verskeidenheid geleenthede wat beskikbaar is.
Vir leerders wat meer persoonlike leiding benodig, bied die NWU se Studentevoorligting en -ontwikkelingspan individuele loopbaanvoorligting aan om opsies te verken en groter sekerheid oor toekomstige studie- en loopbaankeuses te kry.
Sodra ’n leerder ’n moontlike studierigting geïdentifiseer het, kan die universiteit se APS-sakrekenaar verder help om te bepaal hoe vakkeuses en akademiese prestasie by universiteitstoelating aansluit en wat van hulle verwag word om hul doelwitte te bereik.
Nou is die tyd om aan die toekoms te bou
Loopbaanontwikkeling begin nie eers ná skool nie.
Dit begin met elke vak wat gekies word.
Elke belangstelling wat verken word.
Elke vraag wat gevra word.
Elke droom wat ernstig opgeneem word.
As ouer speel jy ’n belangrike rol in hierdie reis.
Deur jou kind te help om hul belangstellings te ontdek en ingeligte besluite te neem, help jy hulle om ’n sterk grondslag vir die toekoms te bou.
Die Noordwes-Universiteit glo dat elke leerder se verhaal uniek is. Daarom bied hulle die hulpmiddels, ondersteuning en leiding om hulle te help ontdek wat moontlik is.
Verken die moontlikhede. Ontdek jou sterkpunte. Bou aan die toekoms wat aan jou behoort.