Onder talle egpare is dit ’n oorlogsverklaring wanneer skuld ter sprake kom. rusies gaan meestal oor die een se spandabelrigheid en die ander een se suinigheid.
Ons trap maklik in die strik om dinge te koop wat ons nie nodig het nie met geld wat ons nie het nie en om mense te beïndruk wat ons nie ken nie. Wanneer ons trou, begin ons versamel, opgaar en uitbrei. Hoe meer goeters ons in ons huise het, hoe duurder is dit om al die luukshede te versorg. en dan is daar ook die kinders! Groter uitgawes vra weer harder werk en meer spanning.
Begroot, beplan en beperk huismoles
Vir baie mense is geld ’n vorm van sekuriteit. Hulle is gefokus op spaar, hulle werk streng volgens ’n begroting en raak angstig oor impulsiwiteit en spandabelrigheid. Vir ander is geld weer ’n vorm van vryheid. Hulle leef behoorlik met hulle geld, waag makliker kanse en het altyd ’n plan (of so dink hulle) om uit die moeilikheid te bly.
Die groot konflik kom wanneer man en vrou se sienings verskil. Die een wil spaar en die ander een wil speel. Die een is realisties en die ander een leef in die land van alles-is moontlik. Met vroue as lesers sal dit onverantwoordelik wees om niks te sê oor ons koopsiekte nie.
Talle vroue wil bybly met elke nuwe modegier of -uitrusting. Maar teen watter prys? Koopslawe begaan te maklik die fout om te dink dat iets nuuts hulle stres gaan verlig. as jy so ’n shopper is, moet jy ook besef dat jou roekeloosheid nie net vir jou nie maar ook jou huwelik oornag in die skuld kan dompel.
Aanvaar julle verskille en bestuur dit beter
Jy gaan nie jou maat verander nie, punt! Maar jy kan julle verskille raaksien en beter bestuur. as julle beide ’n sekuriteitsingesteldheid het rakende geld, moet julle vir ’n bietjie afleiding en pret begroot.
Dit kan baie vervelig raak om net te spaar. Begroot en leef ’n bietjie. as julle siening totaal verskillend is, moet die spaarder die begroting hanteer, die rekeninge betaal en vir die besteder se spelerigheid begroot.
Die een sal meer in beheer voel met die goeie begroting terwyl die vryheidskandidaat ten minste iets het om net te blaas!
Is julle al twee impulsief of ongeërg oor geld? Mag die Here dan goed wees vir julle! Sulke mense kom ongelukkig te laat agter dat hulle geen omdraaikans het nie en lankal ’n goeie rekenmeester moes aangestel het.
Waar begin ons met ’n oplossing?
in ’n huwelik is dit uiters belangrik om eerlik oor geldsake, stres en skuld te praat. Dit verg ’n gesonde huwelik in alle opsigte. Te veel paartjies weet glad nie wat die ander party verdien nie. Praat eerlik en bly op hoogte. as albei die groter prentjie sien, kan julle makliker as ’n span saamwerk.
As jy weet dat jy maklik geld uitgee, is dit ’n goeie plan om jou kredietkaart by die huis te los as jy winkel toe gaan. Vra jou af of jy die item regtig nodig het en herinner jouself aan ander duur dinge wat jy vroeër aangekoop het wat nou net in jou kas hang of nog nie eers oopgemaak is nie.
Soos met enige tipe “-holic”, hetsy workaholic, shopaholic of gewone alcoholic, lê die oplossing in jou erkenning van die probleem. Dis miskien jou geld, maar jou spandabelrigheid affekteer ’n hele gesin! en as shopaholics eers oor hulle aankope begin jok, kom die satan saam met die winkelstrokies by die huis in.
Geld is altyd ’n uitdaging! as ons egter daaroor praat en gefokus begin dink en saam met ons huweliksmaat beplan, kan dit ’n wonderlike hulpmiddel word.