Uitbranding beteken letterlik om sonder brandstof te wees. Ons voel uitgeput en sielsmoeg. Sommige het klaar sonder petrol langs die pad gaan staan.
Fotograaf het op ’n keer foto’s van graad eens by ’n skool geneem.
Een dogtertjie was vreeslik op haar senuwees, en die fotograaf probeer toe om haar op haar gemak te laat voel. Hy vra haar wat sy eendag wil word as sy groot is.
Die dogtertjie antwoord ewe kordaat: “Moeg. As ek groot is, gaan ek moeg wees.”
Maak tyd vir stilword, anders gaan jy uitbrand
Ons glimlag dalk oor hierdie storie, maar weet jy wat? Ek dink hierdie dogtertjie het gereeld by haar ouers gehoor hulle is moeg.
Die feit is ons leef in ’n gejaagde samelewing. Daarom het sy gedink as ’n mens groot word, word jy moeg. Ons moet by die skool en die kerk betrokke wees, en ons moet ons kant by die werk en by die huis bring.
Jesus sê in Matteus 11:28 ons moet na Hom toe kom as ons uitgeput en oorlaai voel. Hy sal rus gee. Wanneer jy moeg is, kan jy rus vir jou siel kry.
By Sy voete kan jy jou skoene uitskop. Dis nie te sê al jou probleme gaan eensklaps verdwyn nie, maar in die gejaagdheid sal jy rus en vrede vind wat jou verstand te bowe gaan.
As jy die lang pad Kaap toe aandurf en jy gooi nie petrol in jou kar nie, sal jy sekerlik langs die pad gaan staan. Dieselfde is waar van mense.
As ons nie gereeld tyd maak om rustig en stil te word nie, gaan ons uitbrand. By Hom kry ons die energie om aan te hou.
Omdat ons so besig is, mis ons dikwels hierdie baie belangrike daaglikse afspraak waar ons weer insig, wysheid en krag kry om ons potensiaal te bereik.
Ek worstel self met die monster van besigwees. Ons is egter gemaak met ’n vrye wil om te kan kies.
Die Bybel sê ons moet heers oor die skepping, en ek glo dat ons ook moet heers oor ons tyd en ons lewens. My pa sê altyd: “You are exactly where you want to be,” as ek vir hom vertel hoe besig ek is.
Vind jou rus by die Here se voete
Tyd is kosbaar. Jy het ’n keuse om op ’n mooi manier nee te kan sê vir sekere dinge. As jy altyd gejaagd is, beteken dit nie jy kry meer dinge gedoen nie.
Voor ek in die oggend my voete uit die bed sit, sê ek: “Here, help my om produktief te wees. Help my om elke oomblik aan te gryp en die beste daarvan te maak.”
Sê nou maar jy kry ’n R1000 vir elke uur van die dag op voorwaarde dat jy die hele bedrag van R24 000 aan die einde van die dag moet opgebruik het.
Dit wat jy nie gebruik het nie, verloor jy. Dan gaan jy mos moeite doen om daardie geld reg te spandeer. Dieselfde geld vir die ure in jou dag. Daar is net 24 uur – maak die beste daarvan.
Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek die waarde van eenvoud. Ek wil nie meer in ’n verskriklike groot huis bly nie, want ek dink net aan al die skoonmaakwerk.
Kom ons begin eenvoudiger leef, want partykeer werk ons so hard en gebruik soveel ure om aardse dinge bymekaar te maak, maar ons het nie eers tyd om dit te geniet nie.
Al die stres en spanning maak ons siek en sat. Hoe ironies dat ons al die geld waarvoor ons so hard gewerk het, dikwels aan mediese kostes moet bestee.
Onthou dat waarmee jy ry, dit wat jy kry en waar jy bly, jou nie maak wie jy is nie, want God bepaal jou identiteit. Ons almal sukkel met die monster van besigwees, daarom wil ek jou uitnooi om regtig by Sy voete te rus.
Wees oopkop en kies die dinge wat regtig belangrik is. Ware kalmte en rustigheid is net by Hom te vind.