Ek weet ek het op ons troudag ’n belofte aan my man afgelê. Deesdae sien ek egter net nie meer kans nie. Ons het niks meer gemeen nie. Om te skei lyk na die enigste oplossing.

Ons lewe in ’n KITS-wêreld! Alles kan omgeruil, terug gegee of opgegradeer word. Die een week verklaar paartjies hulle onsterflike liefde aan mekaar en die volgende week skei hulle! Koop iets vandag en gee dit môre terug as dit nie is wat jy wou gehad het nie. Ons leef in ’n kits-era waar ons vleeslike drange en begeertes dadelik bevredig moet word. Almal het immers die reg om gelukkig te wees, of hoe?

Jy het ’n belofte voor God afgelê

Het hierdie ingesteldheid van kitsoplossings ons huweliksverbond kom steel? Het ons as kinders van die Here iewers gelyk begin word aan die wêreld? Besef dan weer vandag dat ons ’n belofte afgelê het voor God. Ons het met groot oortuiging belowe dat ons deur dik en dun, siekte en dood, goeie en slegte tye by mekaar sal staan.

Natuurlik is daar uitsonderings: wanneer ’n vrou elke aand in ’n vergruisde hopie geslaan word … Of as kinders in ’n huis grootword waar die pa elke aand dronk is en almal verskreeu, slegsê en verniel.

Maar vandag se kwessie gaan eerder oor die toestand van ons huweliksharte. Mense wat dinge kwytraak soos: “Ons het mekaar ontgroei”, “Ek voel niks meer vir die persoon nie”, “Ons baklei te veel…”

’n Huwelik verg baie harde werk

Die beste deel kom dikwels ná die slegste deel van getroudwees. Niemand is elke dag verlief en in die wolke oor mekaar nie. Alle huwelike beleef tye van moedeloosheid, keelvolheid, doodsheid en krapperigheid. Die bestes werk egter daardeur en bereik mettertyd ’n plek van vrede, joligheid en tevredenheid.

’n Huwelik wat hou, is harde werk. Geluk en eenheid is nie iets wat jy op jou troudag present kry nie. Dis iets waaraan jy moet werk. (Dit is ’n werkwoord! ’n DOEN-woord!) Fokus op die klein dingetjies. Baie huwelike vou as gevolg van groot dinge wat verkeerd loop, maar huwelike wat regtig werk, werk omdat albei die klein dingetjies reg doen.

Paartjies skei dikwels as gevolg van emosionele onvolwassenheid, geestelike trots of eiegeregtigheid. Of hulle onvermoë om te vergewe. Ons moenie die klein ysbergies in ons huwelikswater onderskat nie. ’n Ysberg het die Titanic laat sink omdat die bewakers die grootte daarvan onderskat het. Dit was nie nét ’n skip wat gesink het nie, maar baie mense het hulle lewens verloor. Ons kinders sink dikwels saam as ons huweliksbootjie ondergaan.

Kragtige huwelike getuig meermale van moeilike tye wat oorkom moes word: werkloosheid, kanker, ontrouheid… Jy kyk dalk vandag nog vas teen die pyn, maar God sien die getuienis en die redding!

Werk aan die belofte wat jy gemaak het

Huwelike sou fantasties gewees en gebly het as almal aanhou doen wat hulle aan die begin van die verhouding gedoen het. Gaan dink ’n slag hoeveel moeite jy voorheen vir jou maat gedoen het. Nie net met jou voorkoms nie, maar met dingetjies soos tyd, komplimente, avontuur, spesiale oomblikke, hartsgesprekke…

Dalk is jy een van die vroue wat jou prioriteite in orde moet kry. Ons plaas ons kinders te maklik voor ons huweliksmaat in die ry. Ons verskoning? Die kinders is nog so klein… Ons het hulle net ’n kort rukkie onder ons vlerk. Jy is reg, maar jy moet versigtig wees. Jy ontdek dalk eendag jy het ’n leë nes én ’n leë huwelik.

Sit ’n slag jou foon neer en tel jou huwelik op. Deel van die probleem vandag is dat ons te veel weet wat in ander mense se lewens gebeur via sosiale media, maar te min van ons mans. Sit dit sommer nou af! ’n Bietjie tyd en luister is dalk die begin van jou wonderwerk!

Maak hierdie belofte: “Vandag kies ek om meer as ’n huwelik te hê. Ek kies om ’n verbond te hê! ’n Heilige een wat nie gekanselleer kan word nie, wat nie vasgevang is in die kitswêreld van vandag nie. Ek kies die harde werk sodat my kinders ook eendag veilig in die hawe sal aankom! Ek kies ’n getuienis bo my eie geluk!”